Woensdag, 23 September 2009

2009 Oktober 7
by anoesjka

Dagsê!

Dit is eindelik Lente en ons almal hier verwelkom dit. Ons kan nog net nie die winter pajamas wegpak nie, maar die dae raak al hoe lekkerder. Al wat ‘n geveerde is, is besig om of nes te bou, of te broei, of kuikens groot te maak. Al het ons nog nie reën gehad nie, is die motte, muskiete en muggies ook al hoe meer sigbaar. As ons skemeraand ‘n entjie gaan stap dan is die muggies so lastig dat jou arms eintlik meer oefening as jou bene kry.

Sedert my laaste brief het hier al ‘n spul kuikens uitgebroei. Die eerste hen het in ‘n ou erdvarkgat so ‘n entjie van die huis af gesit op twaalf eiers. Ons het omtrent die dae afgetel totdat die spul kuikentjies moes uitbroei. Nie een van ons henne het al so baie kuikens op ‘n slag uitgebroei nie. Hier was groot opgewondenheid toe ons die eerste kuikentjie ontdek het. Groot was ons teleurstelling toe ons die volgende oggend weer gaan kyk hoeveel daar is. In die nag het iets (ons dink ‘n muishond) die eerste ses kuikentjies wat uitgebroei het kom opeet en was daar net ses eiers oor. Ons het haar toe met eiers en al geskuif na ‘n plekkie in die blomtuin waar ons ‘n ogie oor haar kon hou. ‘n Dag later toe is al 6 kuikentjies daar. Die noodlot was nog nie klaar met haar en haar kuikens nie. ‘n Paar dae later het een van die oorblywende ses verdrink. Dan het ek julle mos laas vertel van Tiekie (die nuwe hond op die plaas wat van die dorp af kom). Sy het nou ‘n regte eiervreter geword. Daar gaan amper nie ‘n dag verby wat sy nie êrens ‘n eier in die hande kry nie en as sy gelukkig is, sommer drie! Dis ‘n wonder dat sy nog nie gevrek het van die cholestrol nie. Hoewel sy reeds met haar een voet so te sê in die graf staan, het sy ook agtergekom dat sy nog jonk genoeg is om kuikens te vang. (Seker die eiers wat haar so ‘n “boost” gee) Sy het dan ook een van hierdie hennetjie se kuikens dood gebyt. So die totaal van twaalf, is nou op vier. Alhoewel, die hen het deesdae nie meer ‘n saak met haar kuikens nie. Saans klim sy op die stellasie sonder haar kuikens. Hulle viertjies bly dan op die grond in ‘n hoekie en klim al bo-oor mekaar vir ‘n bietjie hitte. Elke aand gaan haal ons eers die hen van die stellasie af as dit donker is en sit haar by die kuikens. Of sy nou dan daar bly weet ek nie regtig nie. Ek sien hulle loop nou deesdae ook maar alleen en kos soek. Dis die eerste keer wat die hen kuikens het, so miskien is sy maar nog net die gewoond aan die ma wees idee nie. Buiten haar is daar nog vier ander henne met kuikens. ‘n Hen met een kuiken, een met twee kuikens, een met vyf kuikens en een met ses kuikens. Hulle is almal te kostelik. Die eerste spannetjie raak nou al groot en is al vier weke oud.

Om terug te kom by Tiekie… sy het nou al ‘n totaal van vier kuikens gevang – die klein gedroggie! Die een dag het sy sommer twee gevang. Ons hou haar nou met valk oë dop. Ten spyte daarvan kan mens ook maar nie vir haar kwaad bly nie. Dat ‘n dorpshondjie haar nou so snoep hier op die plaas kom hou. Moenie dink sy wil die droë hondekos eet nie. Alhoewel dit al is wat sy in die dorp geëet het (meeste van die tyd) soek sy nou net vleis. Ek moet die droë kos eers sag maak met kookwater en dan vleis daarby meng sodat sy darem ‘n bietjie daarvan kan inkry. Kiddo is nie so mal oor haar nie. Soms lê die tweetjies nogal lekker styf teen mekaar en slaap maar ander kere wil Kiddo net vir Tiekie byt. Ek moes hul al ‘n paar maal uitmekaar uit haal en dit gaan gewoonlik nie maklik nie. Kiddo was ‘n tydjie terug niks lekker nie. Sy het varingitis gehad en is nou amper klaar met haar reeks antibiotika.

Verder is die ganse ook aan die broei. Dit lyk of al drie grys ganse wyfies is en die witte die mannetjie. Al drie wyfies sit nou op ‘n nes en alhoewel die honde ook al heelwat van die eiers opgeëet het, het elkeen so tussen twee en vyf eiers onder hulle. Ek soek tog nie nog ‘n klomp ganse op die werf om my rond te jaag nie. Die wat broei is verskriklik befoeterd. Hulle staan minder gereeld as die hoenders van hul neste af op en as hul opstaan dan maak hulle hul eiers eers mooi toe met donsies, takke en blare. Die enigste probleem is nou dat daar ‘n kans is dat die eiers nie bevrug is nie. Die gans wat eerste begin broei het sit nou al meer as dertig dae en daar is nog geen teken van ‘n klein gansie nie. Nou hou ons maar die nes in afwagting dop.

Die swaeltjies se twee kuikens het toe eindelik hul nes verlaat. Ek het begin dink hul gaan nou ook hier bly, maar hul ouers het natuurlik gedink hulle is nou groot genoeg om hul eie nes te gaan skrop. Ma en pa is nou weer druk besig om hul nessies op te knap met klei en gaan seker een van die dae weer broei.

So van nesbou gepraat… die kraaie glo mos hulle nes moet ‘n staal versterking hê. Jaco het nou al twee keer by ‘n windpomp gekom waar die kraaie besig is om nes te bou van stukkies draad. Soveel so dat die windpomp nie eens meer kon draai nie!

Seker so ‘n week gelede staan ek en koffie drink voor die kombuisvenster toe ek ‘n muishond rustig oor die stoep voor die buitekamers sien stap. Gelukkig was Jaco ook in die kombuis en toe die muishond by die enjinkamer ingaan, hardloop Jaco toe om die deur te gaan toe trek. Nou wat maak ons nou met hom was toe die groot vraag. Maak ons hom dood of laat ons hom wegkom. Ek glo mos nou maar eenmaal als wat leef speel sy rol in die natuur (en soms ook in die voedselketting). My eerste gedagte was toe, wat eet die muishond? Ek het my boekie geraadpleeg en sien toe onder andere die volgende: insekte, paddas, slange, spinnekoppe, eiers en hoenders… ja hoenders. Nogtans kon ek dit nie oor my hart kry om die diertjie te laat dood maak nie. Ons bedink toe ‘n ander plan (mens moet mos maar ander maniere vind om jouself mee te vermaak). Jaco vra toe vir Jan om vir hom ‘n spanner uit die enjinkamer te gaan haal en ek staan skelmpies gereed met die kamera. Dit toe nou ook als verniet want Jan is daar in en uit sonder dat hy eens geweet het van die muishond. Jaco gaan kyk toe wat dan van die dier geword het. Daar kry hulle hom toe in ‘n rak tussen die tools en voor hul nog kon wonder wat om nou te doen, is hy soos blits by die deur uit en weg. Hy’t so vinnig gehardloop ek kon hom nie eens op video kry nie.

Dit was seker ook net twee dae later, terwyl ek besig was om die kuikens hulle middagete te bedien, wat ek ‘n hen vreeslik hoor skreeu het. My hart was dadelik in my keel want toe weet ek sommer daar is fout…. groot fout. Ek het nader gegaan in die rigting van die hen se geluide en ‘n ent verder het ek haar so half tussen die bosse gesien. Iets was besig met haar, maar ek kon nie mooi sien wat nie. My eerste gedagte was die muishond, maar ek wou nie nader gaan nie want Kiddo was by my en ek was weer bang dat Kiddo dalk die muishond gewaar en dit jaag (en dalk ook nog seer kry). Ek hardloop toe al roepende en gillende om vir Jaco te gaan soek. Hy en Jan was gelukkig nie te ver nie. Ons is weer terug na die plek waar ek die hen gesien het en daar kry ons haar toe… alleen. Wat ookal haar beet gehad het, het haar seker net daar gelos toe hy my gehoor het. Shame, dit was een van my groot ou henne. Sy was maar taamlik vermink en so graag as wat ek wou hê dat sy moes oorleef wou ek haar nie nog verder laat ly het nie. Jan het haar toe maar vankant gemaak en haar plekkie is nou leeg in die hoenderhok.

Ek het nou die dag weer ‘n muis so jammer gekry. Alhoewel ek grillerig is vir hulle, is ‘n muis vir my tog so ‘n oulike ou dingetjie. Met sulke klein blink swart ogies en oulike oortjies. Ons bêre die hoenderkos in die waenhuis in groot dromme. Nou partykeer sit ek nie altyd die dromme se deksels heeltemal reg op nie en dan bly daar nog ‘n opening. Toe ek nou die oggend by die drom kom om die hoenderkos uit te haal, toe sit daar ‘n muis vas tussen die drom en die deksel. Die opening was toe nou groot genoeg vir hom om in die drom te klim, maar hy het hom so trommel dik gevreet dat hy nie weer kon uit nie. Teen die tyd wat ek hom gekry het was hy al klaar half met die dood deurmekaar en het Jan hom maar vir sy kat gaan gee.

Woensdag, 7 Oktober 2009

Onthou jul ons eerste hanslam wat ons gehad het kort nadat ons hier aangekom het? Skapie (Baba) was sy naam. Hy en Mookie het mos so saam groot geword en was beste vriende tot hul paaie geskei het nadat die res van Mookie se familie eindelik op die plaas kom bly het. Van toe af het Skapie mos maar hier in die veld saam met die ander skape gewei. Nou Skapie is so ‘n paar weke gelede mark toe. Dit was maar swaar, maar dit kon nie anders nie. Kobusina het hom ook vergesel. In die afgelope paar maande het Skapie nooit meer huis toe gekom nie, maar vreemd genoeg net ‘n paar dae voor hy mark toe is, toe kry ons hom hier buite op die werf. Kobusina het ook net buitekant die hek gestaan en nog so ‘n vriendelike blêr gegee. So asof hulle vir oulaas kom afskeid neem het.

So van Mookie (Hannie) gepraat… sy is nou al ‘n uitgegroeide bees (alhoewel nie baie groot nie). Cruiser (die bulletjie) en Daisy (vers kalfie) is al net so groot soos sy en hulle is amper ‘n jaar jonger as sy. So groot soos wat Cruiser en Daisy is, drink hul steeds aan hul ma’s wanneer hul die kans kry. MooMa en Ousus se kondisie het bietjie verswak nadat hul die kalwers gehad het. Jaco het nou die beeste verskuif sodat hul weer hier naby die huis is. Nou kry hul elke oggend en aand voerpille om hulle kondisie te verbeter.

Met Ounooi gaan dit nog goed. Daar is gelukkig nog nie planne om haar mark toe te stuur nie. Nee sy kan aanbly om vir ons klein Ounooitjies te gee. Alhoewel, ons laat haar nou nie meer hier by die huis rondloop nie. Ons is nou in die proses om haar te “speen” van ons. Ons hou haar nou in die tuin kampie waar die turksvye is saam met twee ander ooie en hul lammers. Aan die begin was dit baie swaar vir haar. Sy was gewoond om elke oggend en aand nog voerpille en mielies te kry en sy’t ook gereeld saans saam met ons en die honde gaan stap. Sy het die eerste ruk omtrent geblêr. Nou is sy darem al rustiger. So elke derde dag of wat gaan maak ek ‘n draai by haar en vat vir haar kossies. Ek mis haar hier by die huis, maar dit kon nie anders nie. Sy’t alles in die tuin opgevreet en verniel!

Met ons drie seuns, Blikkie, Bruno en Basjan gaan dit ook nog goed. Ons hou hulle nou beurtelings op hok. Na Ounooi was daar nog ‘n ooi wat hulle beet gekry het een nag. Dit was sommer net hier naby die huis. Hulle het omtrent al die skaap se wolle uitgepluis en die bloed het oral op die bosse en klippe gelê. Ons moes die skaap in die veld gaan soek en sy en haar lam is van die skape wat nou saam met Ounooi in die tuin kampie loop. Sy het regtig erg gelyk (nog veel erger as Ounooi), maar is darem goed besig om te herstel. Nou los ons nooit vir Basjan alleen nie. As ons hom nie kan dophou nie, moet hy maar in die hok gaan. Hy het nou al ‘n paar keer saam gegaan om skaap bymekaar te maak en daar was nog nooit enige probleme nie. Dit lyk darem of hy al hoe meer begin luister.

Onthou julle ek het jul al vertel van die Europese Byvreter voëltjie wat ons in die Somermaande hier kry? Hulle het seker so twee weke gelede hier gearriveer. Hulle is regtig pragtige voëls en maak die vrolikste prrr prrr prrr geluide. Net jammer my kamera kan nie ver genoeg inzoom om mooi fotos te neem nie. Die Rooiwangnaguiltjie (of die Langasem soos Jaco se oupa vir hom geleer het) start ook nou sy enjintjie snags.

Ons het omtrent ‘n bedrywige naweek agter die rug. My oudste suster (van die Kaap) en haar man en kinders het vir ‘n paar dae hier kom kuier. Verder het ek ook al die ander familie hier genooi om die naweek saam te kuier. Ons was lanklaas so baie mense hier bymekaar. Net jammer ek het ‘n verkoue ook nog ontwikkel. Die kinders het dit omtrent geniet. My suster se seuntjie (1jaar) het hom verkyk aan die honde en hoenders. Saans het die manne ‘n bietjie gaan jakkalsjag. Hulle kon nou wel nie ‘n Rooijakkals in die hande kry nie, maar het wel ‘n Silwervos (of draaijakkals) gekry. Hy is nie so ‘n groot gevaar vir lammers soos die Rooijakkals nie. Volgens my boekie eet hy muise, insekte, reptiele en voëls, maar ek verstaan hy kan ook klein lammertjies vang.

Sedert ek die mail begin tik het, het daar nog niks van die ganseiers gekom nie. Jaco het twee van die drie neste se eiers oopgebreek en almal was vrot. Ons neem aan die eiers was nie bevrug nie. Nou wag ons maar om te kyk of die derde een dalk iets gaan oplewer.

Nou ja, dis eers al van my kant af. Laat dit goed gaan met julle en laat hoor gerus van julle!

Jakkalsgroete,
Anoesjka

14 Augustus 2009

2009 Augustus 17
by anoesjka

Hallo,

Ek vertrou dat dit nog goed gaan met julle almal. Met ons gaan dit ook nog baie goed. Ons is nog gesond en het werk so ons mag nie kla nie. Verder is ons nog baie gelukkig getroud en baie gelukkig op die plaas. Ek was onlangs vir so amper twee weke in die Kaap (vir my ma se 60ste b-day) en dit was lekker om weer van die vriende en familie te kon sien – net jammer mens kan nie altyd by almal uitkom nie.

Terwyl ek weg was het daar egter ‘n paar dinge hier op die plaas gebeur. Die ergste is seker dat dit hoenderslagdag was. Ek het maar gereël dat hulle dit doen terwyl ek nie by die huis is nie. Jaco het dit ook maar moeilik gevind, maar ons moes net oë toeknyp en dit doen. Ons het hopeloos te veel hane gehad vir ons getal henne. Soos ek ook al gesê het daar is 3 henne wat nooit ‘n voet uit hul hok uitsit nie en dit omdat die hane hul te veel jaag. Hulle het toe 6 uit die 14 hane geslag. Eintlik moes hul nog 3 slag, maar nadat daar ‘n fout ingekom het, het hul maar eerder die hele slagtery gestop. Op een of ander onverklaarbare manier het hulle toe per ongeluk my liewe ou Hendrik se kop afgekap. Hendrik was die hoof haan… die eerste haan wat saam met ons op Huisfontein begin het. Baie van die ander hoendertjies het hul lewe te danke aan Hendrik. Nou is nog net die Rooihennetjie oor uit die 3 hoenders wat saam met ons hier begin het. Ek was erg onsteld oor Hendrik… maar sulke dinge gebeur nou maar. Buiten Hendrik het ons ook afskeid geneem van 2 Klein Hendrikkies, Spookie, 1 Pikkelikkel en ‘n jong haantjie. Die ander 3 moet definitief nog geslag word in die nabye toekoms. Alhoewel hul eintlik nog steeds te veel is, het die vermindering van hane beslis ‘n goeie uitwerking op die henne gehad. So ‘n paar dae gelede het die 3 henne wat nou vir maande lank net in die hok bly sit het, dit eindelik weer buite gewaag! Ek is vreeslik verlig daaroor. Hulle het selfs nou begin eiers lê ook. Deesdae kry ons maklik 8 eiers op ‘n dag. Waar ons voorheen eiers moes bykoop, sukkel ons om nou als opgeëet te kry. Ek gee darem baie van die eiers vir Jan’le. Een van die dae kan ons dalk ‘n paar verkoop.

Weet nie of ek al vir jul gesê het nie, maar daar is 3 honde by die dorpshuis in Britstown. Een klein wit brakkie (Tiekie), een amper worshond (Luna) en dan Blikkie en Bruno se ma Ciska. Tiekie is regtig ‘n klein wonderwerkie… mens wonder hoe daardie klein lyfie dit nog reg kry om te werk. Sy het al ‘n paar keer by die dood omgedraai. Onder andere het sy al katgriep gehad en was sy al twee keer raak gery. Nou die dag het Luna haar weer so vreeslik aan die een oor gebyt. Shame, sy het omtrent met haar oortjie teen die grond geloop. Jaco het haar veearts toe gevat en daar het sy 3 verskillende soorte pille gekry om te drink. Van daar af het Jaco sommer besluit sy moet ook eerder plaas toe trek, want die honde in die dorp knou haar net af. Nou is sy heel gelukkig hier op die plaas en geniet natuurlik al die aandag. Die honde hier pla haar glad nie…. behalwe nou vir Kiddo… sy kry nog soms ‘n bevlieging om vir arme Tiekie aan te val. Net ‘n paar dae voor Tiekie was Kiddo ook by die veearts. Sy het weer ‘n “anal gland” wat gedurig verstop. Ook sy het ‘n klomp pille gekry om te drink. Jaco moes omtrent regstaan vir die honde terwyl ek in die Kaap was.

Asof dit nie al klaar genoeg was nie, sien hy toe een more ‘n ystervarkpen in Blikkie se lyf vassit. Gelukkig kon hy dit uittrek, maar selfs daarna het Blikkie nog steeds nie lekker gelyk nie en was die ou klaerig. Met verdere inspeksie sien Jaco toe dat daar nog ‘n pen in sy lyf vassit – een wat afgebreek het. Hy’t probeer om dit uit te haal, maar tevergeefs – dit was net te seer en Blikkie wou nie stil sit nie. Hy’t die veearts gebel, maar hy was nie beskikbaar nie en die ontvangsdame het gesê dat ons maar die veearts in Colesberg moet probeer. Nou dis oor die 300kms van ons af. Om te verhoed dat hy toe al die pad onnodig ry, bel hy toe eers om te hoor of die veearts daar beskikbaar is. Hy verduidelik ook die hele situasie en van waar af hy kom. Hulle het gesê dis reg, hy kan maar kom. So het Blikkie toe sy langste trip nog afgelê. Daar gekom sê die dr toe dat Blikkie narkose sal moet kry en dus daar sal moet oornag. Jaco kan hom weer die volgende dag gaan haal. Needless to say was hy glad nie gelukkig nie. Hy het dan die hele situasie vooraf verduidelik en nou vandat hy daar is wil hulle vir hom sê hy moet die volgende dag weer oor die 600km aflê en dit net om die hond te gaan haal. Nee wat, toe klim hul maar weer netso in die bakkie en ry De Aar toe. Intussen het ek aangehou om die veearts op De Aar in die hande te probeer kry. Einde ten laaste was hy op ‘n plek waar daar sein is en kon ek reël met hom om Blikkie later die aand te sien. Hy het sommer vinnig-vinnig vir Blikkie uit sy pyn verlos… en dit met net lokale verdowing. Ook Blikkie het ‘n klomp pille gekry om te drink. Hopelik gaan ou Blikkie nie weer ‘n ystervark probeer aanvat nie. Dit was nou 3 honde by die veearts in 2 weke se tyd.

Met Basjan gaan dit nog goed. Ek wens net hy kan leer luister. Ons sukkel maar met die opleiding en as sy instink eers oorneem, dan kan jy maar vergeet. Ons het so ‘n week gelede een aand met die honde gaan stap… soos baie ander aande. Ons was al op pad terug en naby aan die huis toe Basjan ‘n Steenbok gewaar en hom begin jaag. Dit het hy ook al voorheen gedoen, maar ek het net so ‘n gevoel gehad dat die bokkie hierdie keer nie so gelukkig gaan wees om weg te kom nie. Basjan hardloop soos die wind en hy was net te na aan die bokkie. Verder het die bok in die rigting van die draad gehardloop. Ek het geroep tot ek blou in die gesig was, maar Basjan het saam met die bok verdwyn. Ons ander het maar aangestap huis toe. Kort nadat ons by die huis gekom het, het ek iets vreeslik hoor blêr. Ek het gedink dalk het die bok weggekom en is Basjan nou tussen die skape in. My senuwees kon dit net nie hou nie en ek het in die bakkie geklim om nader te ry en te gaan kyk wat aangaan. Daar gekom sien ek toe vir Jan aangestap kom met ‘n bokkie in sy hande. Die ergste van alles is dat die bokkie nog gelewe het, maar hy’t geen kans op oorlewing gehad nie. Sy magie was oop. Jan het ook die geblêr gehoor en gaan kyk. Hy het vir Basjan by die bok gekry. Ek weet nou net nie of Basjan die bok so stukkend gebyt het en of hy hom dalk by die draad seer gemaak het nie. Die feit dat Basjan nou bloed geproe het, glo ek is nie ‘n goeie ding nie. Net daar en dan het ons besluit ons gaan nie weer met die honde stap voordat Basjan ‘n leiband het nie. Intussen het ons vir hom een gekry en gaan stap hy nou altyd met sy band aan (wel hy stap en ek hardloop). Ek wil ook nou ernstig daarop begin konsentreer om vir ‘n basic commands te leer. As ek net weet hoe om hom sover te kry om op my te fokus en nie al die ander dinge wat sy aandag aftrek nie.

‘n Vriendin van my (uit die Kaap) het oor die langnaweek vir haar eerste keer op die plaas kom kuier. Dit was lekker om weer ‘n kuiergas hier te hê. Ons was selfs gelukkig genoeg om weer op ‘n hen af te kom wat besig is om ‘n eier te lê! Sy kon darem ‘n fototjie geneem kry, maar ongelukkig het ek nie my kamera byderhand gehad om ‘n video te neem nie! Ek sal nog dit probeer afneem om vir jul te kan wys.

Dit wil eindelik begin lyk of die somer nader kom. Dis steeds koud, maar ek glo die einde van die winter is in sig… en ek kan nie meer wag nie! Jaco is druk besig om die wingerde te snoei. Verder is dit nou ook weer tyd vir skaap werk (lammers merk, dosseer, etc). ‘n Paar van die lammers is al vermoedelik deur jakkalse gevang. Verder moes ons nou die dag 3 siek ooie slag. Ek sal nie in detail ingaan oor wat hul makeer het nie, maar ek kan net sê dat die natuur maar wreed kan wees. Jaco het nog ‘n siek ooi huis toe gebring vir behandeling en observasie. Haar kondisie was nie baie goed nie en haar agterbene effens styf. Twee dae later toe ons weer by die hok kom, toe is daar ‘n pragtige lammertjie wat ons inwag. Aan die begin wou die ooi hom nie hê nie en het ons amper met nog ‘n hanslam gesit. Albei doen darem beter op die oomblik.

Met Ounooi gaan dit ook nou stukke beter. Haar nek is nog nie heeltemal gesond nie, maar dit het al baie verbeter. Sy het nie meer ‘n verband nodig nie en is ook weer haar ouself… vol skop en sprongetjies. Ons het ontdek dat sy ‘n groot liefde het vir Simba Beef chips. Nadat sy eers een geproe het, wou sy net nog en nog hê. As jy nie vir haar wil gee nie, trap sy met haar een voorpoot teen jou been totdat jy vir haar nog gee.

Ons was bekommerd dat ons ganse nie hierdie jaar tot broei gaan kom nie, maar so ‘n paar dae gelede het hulle ons lekker verras. Ons het op twee verskillende neste afgekom… een met 2 eiers en een met 3 eiers. Nie een van hulle het al begin broei nie, maar ons pas die eiers baie mooi op. Die honde is nog bedags op hok (sodat Ounooi heeltemal kan herstel) en saans wanneer hul uitkom tel ons eers die eiers op. Hopelik kry ons hierdie jaar klein gansies.

Nou ja, ek dink dit is eers al nuus vir vandag. Laat hoor gerus hoe dit met julle gaan.
Geniet die week wat voorlê!

Veeartsgroete,
Anoesjka

30 Junie 2009, Dinsdag

2009 Julie 2
by anoesjka

Hoe gaan dit met julle? Met ons gaan dit goed. Ons kry net lekker koud! Laas naweek was beslis die koudste naweek nog hierdie winter. Vrydag was dit Min -4 en Maks 6. Als was toe onder die ryp die volgende oggend. Ons was in De Aar en die stukke ys het sommer so op die paaie gelê.

Donderdag was ek met verlof. Ek en Jaco het gaan help by Britstown se jaarslikse veeveiling. Ten spyte van die feit dat dit net 8 grade was (en by tye gereen het) en dat ons meeste van die dag buite spandeer het, was dit eintlik heel lekker. Jaco moes by die krale help en ek moes fotos neem en in die kombuis help. Ons het self ook 15 lammertjies soontoe gevat en hulle het sommer heel goed gedoen. Ek het nog nooit in my lewe so baie skaap bymekaar gesien nie. Daar was ‘n totaal van 4 836 skape en dan nog ‘n paar bokke ook. Dit was lorries en lorries vol skaap wat op en af gelaai moes word. Om te dink dat al daardie vee net deur 5 mense opgekoop is. Dit was ons eerste keer by ‘n veiling en was nogal interressant. Dis net jammer dat van die skape nie so gelukkig was nie. ‘n Paar van hulle het hul bene gebreek met die aflaaiery en enetjie is selfs dood. Daar was twee oulike Skaaphonde wat met die groot taak gehelp het. Ek het my omtrent verkyk aan hulle. Dis ongelooflik hoe slim hulle is. Hulle ken ook hul base se stem so goed dat ten spyte van al die ander mense en skape se geraas kon hul presies doen wat hul base van hul verwag al staan hulle ‘n paar meter weg.

Ek wil nie eens dink aan die chaos wat ons liewe ou Basjan daar sou veroorsaak het nie :-) Hy sou net woes en wild skape begin jaag het. Ons het mos vir ons ‘n boek via die internet bestel oor hoe om ‘n Skaaphond op te lei. Die boek het baie vinniger by ons uitgekom as wat ons verwag het. Ek wil amper sê die Internasionale posdiens was vinniger as wat ons plaaslike posdiens soms is. Nou moet ons net die boek begin bestudeer en tyd maak om vir Basjan te leer. Hopelik kan ons nog iets met hom regkry. Hy is slim en leer vinnig maar hy het ‘n sterk wil van sy eie en dit is nogal ‘n probleem.

So ‘n paar weke gelede het die honde mos vir Ounooi beet gekry. Ons het die namiddag vinnig ingery dorp toe en toe ons terug kom, was Ounooitjie net weg. Selfs teen die tyd wat ek die diere kos gegee het, was sy nog nêrens te sien nie en dit was vir my baie vreemd aangesien sy gewoonlik eerste in die ry is wanneer die kos uitgedeel word. ‘n Rukkie later het Jan kom sê dat Ounooi daar agter hul huis staan en nie lekker lyk nie. Ons ry toe sommer met die bakkie soontoe. Daar staan arme Ounooitjie toe… stokstyf net op een plek, koppie hang, ore hang en sy is bruin van die modder. Sy’t nie eens gereageer op ons wat nader gekom het nie. Jaco en Jan het haar agter op die bakkie gelaai en ons het haar huis toe gebring. Sy het vir lank net daar bly staan waar hulle haar toe afgelaai het. Sy het darem nog geëet en dis altyd ‘n goeie teken. Ons het haar probeer ondersoek en kon sien dat sy aan haar nek beetgekry was. Van die wolle was sommer so los en haar vel was plek-plek oop gebars/geskeur. Sy moes baie pyn gehad het en was ook baie getraumatiseer. Haar nek was opgeswel, maar ons kon nie sien wat onder die wolle aangaan nie en sy wou nie hê ons mag aan haar nek raak nie. Vir 3 dae lank het sy net hang koppie rond gestaan of gelê. As sy geloop het was dit treetjie vir treetjie. Ek het regtig vir ‘n oomblik gedink sy gaan dit nie maak nie. Maar ons Ounooitjie is taf. Na die derde dag het sy haar ore en kop begin optel en selfs weer vinniger geloop en geblêr. Die ou Ounooitjie was weer terug. Hier in laas week toe sien ons maar ‘n hele stuk van haar nek vel begin oplig. Toe besef ons eers hoe seer sy werklik gekry het. Dit was besig om ‘n groot roof onder die vel te vorm en die vel het nog net aan ‘n stukkie vasgesit. Jaco wou nie daaraan karring nie en ons wou wag totdat dit vanself afval. Die honde het nou wel nie daarmee saamgestem nie. Ek het gesien hoe Blikkie met die afgeskeurde stuk vel in sy bek staan en amper ‘n floute gekry. Die stuk vel was groter as Jaco se hand. Ounooi het te aardig gelyk met die kaal stuk nek. Alhoewel meeste reeds droog was, het Jaco woundsept aangespuit net sodat die honde haar nie sal pla nie. Ons moes toe nou laas naweek De Aar toe gaan vir ons maandelikse inkopies. Ek was bekommerd om hulle alleen hier te los, maar Jan’le was darem hier. Toe ek Sondag vir Ounooitjie sien toe weet ek sommer daar is fout. Gewoonlik blêr sy van opgewondenheid, maar sy’t net stil gestaan. Toe ek nader gaan sien ek dat die stuk vel wat afgeskeur was nou omtrent dubbeld so groot lyk en dat dit taamlik diep is. Al wat ek kan dink is dat die honde (of ten minste een van hulle) haar weer beet gekry het. Ons is so hartseer oor ons arme Ounooitjie wat so onnodig so verniel is. Ons het die veearts vir raad gevra en hy’t aanbeveel dat ons ‘n antiseptiese salf op sit en die wond toedraai. Eintlik moes ons dit al na die eerste keer gedoen het, maar nou ja… so leer ‘n mens mos nou maar. Nou wag ons net dat Ounooi se wond heel en sy weer haar ou self kan wees. Ek heg vir julle fotos aan, maar dis nie vir sensitiewe kykers nie.

Basjan het nou die dag amper ‘n gans se lewe ook gekos. Dit was vroeg oggend toe ek uitgegaan het om die hoenders en ganse kos te gee. Hy’t die ganse begin jaag en wou nie vir my luister as ek met hom raas om op te hou nie. Hy’t een van die grys ganse so gejaag tot by ‘n hek. Net voor die hek het die gans begin opstyg om bo-oor te kan vlieg, maar hy was nog te laag en het binne die paal vasgevlieg. Die arme gans het net so terug geval grond toe. Uiteindelik kon ek vir Basjan in die hande kry en het hom sommer gedra tot by die hok waar ek hom toe eers toegemaak het. Jaco het kom help met die gans. Daar het bloed by die gans se snawel uitgekom en vir 2 dae het hy niks geëet nie en net so gesit met sy kop tussen sy vere ingedruk. Wonder bo wonder het hy darem weer reggekom.

Ek en Jaco het nou die dag die wonderlikste ding beleef. Ons was by die hoenderhok om die hoenders kos te gee. Een van die jong hennetjies het daar op ‘n rak gesit en ek’t vir Jaco gesê hy moet haar oplig en kyk of daar nie ‘n eier onder haar is nie, maar daar was niks. Dit was eintlik vir my vreemd want elke dag lê daar juis op daardie plek ‘n eiertjie. Die hennetjie het toe sommer opgestaan en omgedraai. Met die omdraaislag sien ek toe (verskoon asb my taal) haar poephol lyk kompleet of dit omgedop is. Ek roep toe vir Jaco terug om te kom kyk, want hier is groot fout. Kort daarna sien ek toe so ‘n wit ding begin wys en dit raak al groter. Die volgende oomblik toe pop daar ‘n eier uit! Dit was so weird. Die eerste keer wat ons gesien het hoe ‘n hen ‘n eier lê.

Vandag skyn die sonnetjie gelukkig, maar ons het vir omtrent 2 weke lank bewolkte weer gehad. Dit was glad nie goed vir my sonkrag nie. Die batterye het ‘n liggie wat groen moet wys maar twee van die batterye s’n was swart. Dit beteken hulle moet gelaai word, maar die sonkrag was nie genoeg daarvoor nie. Soveel so dat ons toe vir ‘n hele dag die kragopwekker moes aansit sodat ek kon werk. Die volgende oggend was die wêreld toe onder digte mis. Die sonkrag was steeds nie voldoende om te gebruik nie en ons moes weer die kragopwekker aansit. Die enigste probleem was, dit het kort-kort afgeskakel. Die mis het veroorsaak dat daar water op die drade was wat ‘n kortsluiting veroorsaak het. Een van die drade (wat reeds baie oud was) het ‘n vonk en swart rook begin maak. Dis toe wat ek vir Jaco sê nee… ons sal nie die kragopwekker so kan gebruik nie. Gelukkig het hy nuwe draad gehad en kon hy toe al die bedrading oor doen. Al het ek nou amper vir ‘n volle dag sonder krag gesit, weet ons ten minste dit sal nie sommer weer probleme gee nie. Hy’t sommer ook die drade binne pyp gelê om dit teen die son en reën te beskerm.

Ek glo nie ek het julle al vertel van een van die hennetjies wat in Blikkie en Bruno se hok gesit en broei het nie? Sy’t elke dag haar eiers daar gelê en ek het dit opgetel (dis nou mits die honde dit nie voor my gekry het nie). Na ‘n tyd het sy begin broeis raak en net daar in die hok gebly sit – al het sy geen eiers onder haar gehad nie. Daar het sy nou dae en nagte saam met Blikkie en Bruno deurgebring. Ek was heel verbaas dat hulle niks aan haar gedoen het nie. Ons het haar een of twee keer gehoor protesteer – seker as een van die twee haar dalk effe raak gelê het. Ons het haar maar later saans uit die hok gehaal en na die hoenderhok gedra, want die twee groot seuns sal eerder met mekaar baklei oor ‘n lêplek as wat hul die arme hennetjie uit die pad uit jaag.

Met Jaco gaan dit nog goed. Sy nefie (nou in matriek) kuier vir ‘n week hier tydens die skool vakansie. Nou het Jaco darem weer lekker geselskap. Soveel so dat hulle saans nie tot ruste kan kom nie. Elke nag word dit nou opgesit en gesels tot die son amper op kom. Ek self kry nie veel slaap in nie, maar kla nie te veel daaroor nie. Dis min genoeg wat ons ander geselskap hier het en oor ‘n paar dae is ons alleen en kan ons weer gaan vroeg slaap. Die twee het gisteraand vir hulle ‘n skaapkop in die oond gebak. Hulle het die kop so geniet dat hulle hulself ietwat olik geëet het. Oom Neef moes vir Neef eers dokter met ‘n bietjie Lewens Essence. Vanoggend het hulle natuurlik hulle roes tot waffer tyd gelê en afslaap.

Nou ja, ek gaan eers groet. Die koue begin nou hier in my lyf inkruip.
Laat dit goed gaan met julle!

Wit gerypte groete,
Anoesjka

8 Junie 2009, Maandag

2009 Junie 9
by anoesjka

More,

Hoe gaan dit vandag met julle? So ‘n week gelede het ek nog gedink die winter is so ver nie te sleg nie, maar toe kom die koue. Laas naweek was bitter koud en daarna het dit nog nie veel beter geword nie. Soggens wanneer ek die hoenders moet gaan oop maak en kosgee, vries my hande omtrent af. Die sonnetjie wil ook net nie bedags lekker skyn nie… hier bly sulke wit vliese in die lug hang. Ons het so ‘n paar weke gelede selfs ‘n bietjie hael gehad. Die arme hoenders het heel verward gelyk toe hulle skielik bestook word met ys korreltjies.

Het ek julle al vertel dat die bye toe vanself weggetrek het uit die buite toilet (longdrop)? Ons het een aand (nadat ons van die dorp afgekom het) enkele bye rondom die agterstoeplig gesien wat vir ons nogal vreemd was. Die volgende dag het Jaco in die toilet gaan kyk en die hele nes was leeg. Dit lyk of daar een of ander siekte in die nes kon wees. Ek wonder waar het hulle nou heen getrek.

Ou Basjan (nou al amper 7maande oud) het al lekker groot geword, maar ek dink hy sal nog ‘n bietjie rek. Die enigste probleem is dat steeds net sy een oor regop staan. Hy is vreeslik spelerig. Ons het vir ons ‘n boek bestel oor hoe om skaaphonde te leer en wag nou net dat hy moet kom, maar dit sal seker eers in volgende maand wees. Basjan het al ‘n paar woordjies geleer soos SIT, BLY, KOM… hy gehoorsaam dit net nie altyd nie. Hy is beslis “skerper” as die ander honde en ook baie fyn op gehoor. Hy’t gisteraand ‘n rukkie ingekom terwyl ons TV gekyk het en het stip voor die TV gaan sit en luister. Altwee sy ore het glad vir ‘n tyd regop gestaan. Toe hy nou nie mooi kon verstaan maar waar is die mense dan wat so praat nie, het hy probeer om om die TV te loop om hulle te soek. Hy het ook al vir sy eerste keer saam veld toe gegaan toe Jaco’le skaap bymekaar gaan maak het. Die eerste dag het hy die arme skape so rondgejaag dat een selfs binne ‘n dam gespring het. Gelukkig was hy naby genoeg aan die kant en kon Jaco hom uittrek. Die volgende dag het hulle baie ver geloop en terwyl hul besig was met die tweede kamp het Basjan besluit maar nou het hy eers genoeg gehad en sommer self die pad huis toe gevat. Hy het nog baie om te leer, maar dis so ongelooflik om te sien hoe vinnig hy al klaar sekere dinge leer en hoe sy natuurlike instinkte oorneem.

Met ou Blikkie en Bruno gaan dit nog heel goed. Hulle twee het net alewig ‘n stryery aan die gang oor lêplek in hul hok (alhoewel daar plek is vir 4 van hulle). Kiddo hou glad nie van die winter nie en soek net heeltyd ‘n skoot of ‘n kombersie.

Ons hane het nog gespaar gebly. Uit ons totaal van 34 hoenders (insluitende kuikens), het ons reeds 14 volgroeide hane (en nog moontlikes). Dit is hopeloos te veel vir ons getal henne. Een dag besluit ons ons gaan hulle maar hou en die volgende dag besluit ons weer nee… ons sal hulle maar moet slag. Dit bly maar ‘n moeilike besluit. Dit is maar net nie baie ekonomies om so ‘n klomp hane aan te hou nie, maar elkeen is so pragtig en uniek. Ons kry darem nou weer so ‘n paar ekstra eiertjies op ‘n dag. Van die jong henne het nou eindelik begin eiers lê. Nou is dit net ‘n kwessie van om hulle op te spoor (voor die honde). Hulle hou juis so daarvan om in die hondehokke hul eiers te lê. Het nou die dag vir Basjan net betyds betrap toe hy met ‘n eier in sy mond uit sy hok uit gestap kom. Een van ons groot jong henne was egter nie so gelukkig nie. Dit was al sterk skemer en die hoenders was op pad hok toe, toe ek een van hulle ‘n vreeslike keel hoor opsit. Gewoonlik is dit maar net die hoenders wat mekaar jaag, maar ek het nogtans onrustig gevoel. Ek’t vir Jaco gaan roep en gevra om gou saam met my te gaan kyk – was te bang ek loop my dalk vas in ‘n wilde dier (bv ‘n kat). ‘n Entjie van die hok af het ons iets hoor grom. Toe sien ons mos dis Mannetjie (Jan se hondjie) wat daar reg langs ‘n hoender lê (net reg om aandete te begin geniet). Die arme hennetjie het nog gelewe, maar was so vreesbevange. Sy het vreeslik gekla toe Jaco haar optel. Ons sien toe sy het ‘n gat op haar rug, maar dit het nie te erg gelyk nie. Jaco het woundsept aangespuit, maar ek het nie baie hoop vir haar gehad nie. Ek kon sien sy’t pyn en lyk nie lekker nie. Jan het natuurlik vir mannetjie die loesing van sy lewe gegee. Ek glo nie hy sal ooit weer naby ‘n hoender kom nie (en vir sy part hoop ek nie so nie). Ons het die hennetjie in ‘n voelhok gesit en haar in die huis laat slaap. Sy wou glad nie eet of water drink nie. Die volgende oggend het sy nog netso in haar hokkie gesit. Terwyl ek toe in die badkamer is, hoor ek net ‘n gespartel in haar hok en toe weet ek sommer. Dit was haar laaste stuiptrekkings. Daar lê sy toe stokstyf in die hok. Sy sou nou in hierdie tyd begin eiers lê het saam met die ander jong henne. Na haar dood het ons nog ‘n gat onder op haar bors ontdek. Shame, sy het seker maar baie pyn verduur.

So op die hartseer noot, moet ek ook noem dat dit nou al 2 jaar is sedert my pa se dood. Dit is ongelooflik hoe die tyd vlieg. Twee jaar gelede hierdie tyd, was beslis die swaarste tyd in my lewe. Die ergste van als is dat die lewe aangaan… tyd staan nie vir ‘n oomblik stil nie. Nie eers om jou gevoelens en verlies te respekteer nie. Of dalk is dit juis uit respek vir ons gevoelens en verlies… want niks bring soveel troos soos tyd nie. My pa sal vir ewig in ons harte en herinneringe voort leef. Hy was ‘n baie besonderse mens en ons sal hom nooit vergeet nie.

Op ‘n positiewe noot, is dit nou weer lamseisoen en hier het sommer al ‘n hele klomp lammertjies die wêreld binne gekom. Hopelik kry ons nie hierdie seisoen enige hanslammers by nie. Ounooi is klaar ‘n handvol. Sy loop steeds hier by die huis en het nog nie veld-toe-gaan-planne gemaak nie. Kobusina het so vir ‘n week hier kom kuier. Shame, sy lyk maar vreeslik skraal. Ounooi se kondisie is stukke beter – sy lyk mos soos ‘n pantserkar. Jaco het vir Kobusina gebring om hier te kom loop juis sodat sy ‘n bietjie gewig kan optel, maar sy wil niks weet van lusernpille eet nie. Dit was nogal oulik om te kyk hoe die twee hier om die huis wei. Ounooi is mos gewoond aan alleen wees, maar Kobusina soek haar trop – al is dit nou net ‘n trop van twee. Sy het oral agter Ounooi aangeloop. As Ounooi gaan lê… dan gaan lê sy ook. As sy Ounooi uit haar oog verloor het, het sy ‘n vreeslike geblêr opgesit. Dan moes ek eers weer gaan help dat die twee net bymekaar kan uitkom. Basjan het natuurlik die nuwe skaap op die werf baie ammusant gevind. Ounooi is honde gewoond en laat haar nie sommer rond jaag nie, maar Kobusina is maar wild. Basjan het haar omtrent gejaag. Seker die dat sy toe maar besluit het om eerder in die veld saam met die ander skape te gaan loop. Een oggend toe ons opstaan was Kobusina weg veld toe en Ounooi weer alleen.

Die ganse raak nou weer lekker befoeterd. Ek weet nie of dit is omdat dit weer amper hulle broeityd is nie, maar ek dink maar so. Deesdae waag ek dit nie sonder my besem op die werf nie. Hulle het my nou alweer ‘n paar maal gejaag. Dit was eintlik baie onverwags, want die afgelope tyd kom ons goed oor die weg en het ek al my vrese vir hulle oorkom. Hulle het nou die dag selfs vir Jaco ook gejaag – en dit gebeur nie sommer nie. Vir Kiddo sien hulle ook altyd kans – veral die wit gans. Hy val sommer die motors ook aan.

Die twee baba swaeltjies is al uitgegroei en reeds vernuftige vlieërs. Al vier van hulle (pa, ma en kinders) is nog ongedeerd.

Nou ja, dis eers al nuus vir vandag. Ek hoor graag van julle!
Geniet die week!

Wintersgroete uit die koue Karoo,
Anoesjka

4 Mei 2009, Maandag

2009 Mei 5
by anoesjka

Goeie dag,

Hoe gaan dit met julle stedelinge? Hier gaan dit goed. Dit raak net al hoe kouer en ek verlang na die somer.

Ja die kat kom weer want hy wil nie langer wag. Die kat kom weer net die volgende dag…. Jip… die muskejaatkat het weer vir ons kom kuier. Dit was net voor 5 die Sondagoggend toe ek hoor die hoenders wat op ons voorstoep slaap (Hendrik en sy span) raas. My wakker word en opspring was sommer een. Ek het dadelik kat se gedagtes gekry. Alhoewel, ons het heel veilig gevoel met die hoenders op die stoep, want al drie groot honde slaap daar. Blikkie en Bruno se hok is reg by die plek waar die hoenders slaap. Ek het vir Jaco gesê ek dink daar’s iets by die hoenders, maar hy het nog gesukkel om terug te keer uit droomland. Ek het my slippers aangetrek en flits in die hand is ek uit stoep toe. Die honde het nog rustig in hul hokke gelê en slaap. Ek’t met die flits gelig by die hoenders en kon dadelik sien daar is van hulle weg. Ek het stadiger gelig en hulle probeer tel. Een….twee…. drie…vie wat? kyk weer… kat! Daar reg langs die hoenders sit die kat toe dood stil en byna tel ek hom vir ‘n hoender. Vir ‘n oomblik was ek stom geskrik. Ek was nog nooit so na-aan ‘n lewendige muskejaatkat nie. Ek kon sy kop krap as ek wou – dink net nie hy sou purr nie. Skielik begin die adrenalien pomp. Jaco!! Kat!!! Staan op!!! Ek hardloop terug kamer toe om seker te maak hy’t my gehoor. Dit was omtrent ‘n geskarrel om die kluis oop te kry en die pistool uit te haal. Die probleem is nou net hoe skiet mens ‘n kat so naby aan jou. Kon hom baie makliker oor die kop slaan. Net toe Jaco by die kat kom, begin hy te beweeg. Die volgende oomblik hoor jy net hoenders en daar gaan die kat… die donkerte in. Of hy ‘n hoender saam met hom gevat het, kon ons nog nie sê nie. Vyf hoenders was weg. Vir ‘n oomblik het ek gedink die kat het al ‘n paar keer kom vang gedurende die nag, maar toe sien ek vir Hendrik sit op ‘n stomp in die tuin. Ons het ook twee hennetjies bo-op die hondehok gekry. Een hen en ‘n klein jong hoendertjie was nog weg. Daar het van die jong hoendertjie se vere in die blombak gelê. Ons het oral gelig met die flits, maar geen teken van die kat of nog hoenders. Jaco het maar weer gaan lê en ek het eers ‘n draai geloop. Op pad kamer toe het ek weer by die stoep gaan kyk. Kiddo (my skaduwee) was natuurlik saam en die volgende oomblik trek sy weg met ‘n spoed en stop voor die palm boom. Jaco! Die kat! Ek dink hy’s in die boom! Jaco kom uit met die pistool en ek lig al langs die boomstam op. Sekerlik kan die kat nie teen die boom uitklim nie!? Wraggies… daar hang hy! Driekwart ver geklim in die boom en hy klou vir lewe en dood. Dis doodstil en almal het ophou asemhaal – ek dink die kat ook. Bang….bang…. maar dis mis. Nee, die pistool gaan nie werk nie, maar dis weer hopeloos te naby om die kat met ‘n .243 te skiet. Jaco kry toe die .22. Intussen het die kat hoër geklouter tot reg bo in die boom. Hy het homself so versteek tussen die blare en sade dat ons net die puntjie van sy stert sien uitsteek het. Nou wat nou? Kan ek nou rustig verder gaan slaap met my hoendertjies wat so naby is aan die dreigende gevaar? Ons het maar gaan lê (ek steeds beswaard oor die vermiste hoenders), maar ek het eers weer ingesluimer nadat die son uitgekom het. Die vermiste hoenders is darem toe ook opgespoor en almal was ongedeerd. Heeltyd wonder ons nou wat het van die kat geword. Ek was onder die indruk hy’t lankal weggeglip uit die boom. Later die oggend het Jan hier ‘n draai gemaak en ons het hom vertel van die oggend se gebeure. Hy’t saam met ons in die boom kom kyk en sowaar… daar sien hy toe ‘n stukkie van die kat uitsteek. Het Jaco hom dalk raak geskiet dat hy daar in die boom bly lê en doodgaan het? Of slaap hy maar net? Jaco het ‘n leer teen die boom gesit en tot bo geklim, maar steeds kon hy nie naby die kat kom nie. Hulle maak toe ‘n lang ysterhaak en kap teen die boom min of meer waar die kat versteek lê. Skielik spring die kat op en beweeg om in die boom. Hy lewe nog! Toe kruip hy so diep in dat ons nie eens ‘n haar sien uitsteek het nie. Diè kat het beslis 9 lewens. Wanneer hy toe uit die boom uit is weet ons nie, maar ek glo nie hy is meer in die boom nie. Van daardie dag af het ek besluit dis tyd dat Hendrik en sy span weer saans terug trek hoenderhok toe. Eintlik was dit so ongelooflik, maar toe dit begin donker raak daardie aand was hulle duidelik huiwerig om weer in die rankplant te gaan sit. Elkeen het in ‘n ander rigting gegaan. Ons het hulle probeer aanjaag hok toe, maar was dit nou vir jou ‘n gesukkel. Jaco het so agter Spookie aangehardloop, dit was eintlik vreeslik snaaks. Jammer ek kon dit nie op video neem nie :-) Hulle het omtrent die stof uit die grond uit gehardloop. Dit was later al heeltemal donker en ons sukkel nog steeds met die hoenders. Op die ou end moes ons hulle een-een vang en hok toe dra. Dit was net moeilik om almal op te spoor. Het selfs een van die henne bo-op die koeler gekry. Sy’t met die leer wat teen die koeler se muur staan tot bo geklim. Ons het die twee henne met die kuikentjies ook gevang en in voëlhokkies gesit. So al kom die kat weer, sal hy beslis nie ‘n hoender kry vir aandete nie. Ek weet nie of hy vir die ganse sal kans sien nie…

Deesdae gaan dit darem beter om al die hoenders in die hok te kry, maar daar is maar steeds ‘n paar wat nog nie gretig is om hok toe te gaan nie. Ek dink dit is grotendeels maar oor die groot hoenders (veral die hane) hulle so boelie. Net nog ‘n rede hoekom dit een van die dae hoender-slag-dag sal moet wees. Eintlik is ek nou bly dat ons nie die kat kon doodmaak nie. Hy is so pragtig en verdien om te lewe. Sal maar net probeer sorg dat hy nie ‘n rede het om weer te kom kuier nie.

Die swaeltjies se kuikens het uitgebroei en hulle is al yslik groot. Daar is tweetjies en ek glo hulle gaan een van die dae probeer vlieg. Daardie twee koppies loer baie nuuskierig daar bo uit hulle nessie uit.

Ounooi (die hanslam) loop steeds hier by die huis. Eintlik begin ons nou al raadop raak met haar, want sy vreet alles wat groen is. My Bougenvilla kry net nie kans om te blom nie. Jaco het draad rondom dit gespan, maar nou het Ounooi al ‘n manier gekry om dit op te lig sodat sy lekker kan vreet. Of my Bougie die koue winter sonder blare gaan oorleef sal ek nou maar moet sien. Nou die dag hou ons vir Ounooi dop deur die kombuisvenster. Sy staan toe onder een van die Perskebome. Sy’t al al die blare binne bereikbare afstand opgevreet, maar sy loop op en af onder die boom en jy kan eintlik sien hoe werk daai kop om ‘n plan te beraam om by die groen blare uit te kan kom. Daar staan ‘n werksbank naby die boom en ek is seker sy’t dit oorweeg om daarop te spring, want sy kyk so vir die boom en dan vir die werksbank en weer vir die boom. Wag, hier is sy nou hoekal weer in die blomtuin (sonder blomme). Ek moet haar eers gou gaan uitjaag.

Die vorige lang naweek het Jaco se suster, hul twee kinders en ‘n maatjie mos hier by my op die plaas kom kuier. Jaco en sy swaer was op ‘n jaarlikse familie-motorfietstoer. Hulle het bietjie Sutherland se omgewing gaan verken. Dit was net ‘n baie koue en nat naweek, maar die manne het dit baie geniet. Die kinders het hulleself ook gate uit geniet hier op die plaas. Ten spyte van die koue kon ons hulle net nie binne hou nie. Oom Jaco se trekker was darem net te ‘n lekker speelplek. Verder het hulle die eerste dag al so in die water gemors dat hul skoene sop water nat was en ons dit eers weer teen die einde van die naweek droog gekry het. Die Saterdagmiddag het ons besluit om ‘n ent te gaan stap met die honde en kinders. Ek het hulle gevat na die grond dam waar ek en Jaco altyd met die honde gaan bal speel. Ons het net daar gekom toe ek sien Bruno en Basjan jaag iets in die veld. Eers het ek gedink dis ‘n haas wat in ‘n gat ingekruip het of iets, maar toe sien ons dis ‘n likkewaan. Binne sekondes was Kiddo en Bliksem ook agterna. Dit het gevoel of my hart gaan staan. Ek het gegil en geskreeu op die honde maar nie een wou luister nie. Ek het al gesien hoe gaan hulle die arme likkewaan verskeur en ek kan niks daaraan doen nie. Die volgende oomblik gee Kiddo sulke benoude gille. Die likkewaan het haar aan die neus beet gekry! Ek het nader gehardloop en in die gewarboel vir Kiddo opgetel. Daar hang die likkewaan toe steeds aan haar neus en hy wil nie los nie. Ek was amper histeries! Die veearts is ver en wat maak ek as my hond nou net ‘n halwe neus het!? My skoonsus het die likkewaan geskop terwyl hy so hang en dit het hom gelukkig sy greep op Kiddo se neus laat verloor. Toe takel die ander honde hom weer verder. Ek kon nie toekyk nie en is terug huis toe met Kiddo. Ten spyte van haar noue ontkoming wou sy met alle mag en krag weer terug na die likkewaan. Ek moes omtrent spook om haar in my arms te hou. Na al die gespartel was my nek en gesig later meer vol bloed as die hond se neus. By die huis kon ek haar nou mooi bekyk om die skade te beraam. Ekt haar skoon gemaak en haar neus het heel okay gelyk. Ek was net bekommerd dat sy binne dalk seergekry het waar ek nie kon sien nie, maar dit het nie gelyk of iets haar enigsens pla nie. Ons is terug na die dam gewapen met die sweep en ‘n hand vol lekkers. Ek het dringend iets nodig gehad om van my gebewe ontslae te raak. Kiddo het duidelik ook baie groot geskrik want sy was naar en het sommer diarree ontwikkel – seker van al die stres. Halfpad dam toe toe kry ons my skoonsus, die kinders en die honde. Sy het toe sommer die honde met ‘n stok probeer skrik maak en die likkewaan het ‘n kans gekry om in ‘n boom te klim. Gelukkig is hy een taai dier en ek glo hy sou oorleef. As dit ‘n haas was, was hy lankal in stukke. Toe die honde die sweep sien was hulle natuurlik baie versigtig en kon ek darem meer gerus begin voel. Nou kan ek daaroor lag, maar op daardie oomblik was dit alles behalwe snaaks. Dis nou jammer ek het nie die kamera by my gehad nie…

Die Sondag besluit ek toe ek gaan almal vir ‘n bakkierit in die veld vat – sommer die krippe omry en kyk of alles nog okay is. Die kinders geniet dit tog so agter op ‘n bakkie. Toe almal nou eindelik op die bakkie is (kinders en honde) en ek als het wat ek moet saam vat, toe wil die bakkie nie start nie. Dis net tikketikketikketik. Die twee seuns (8jaar oud) en skoonsus moes toe maar stoot, maar die bakkie was net te swaar. Toe sukkel ons nou eers weer om die honde van die bakkie af te kry, want hulle vrek oor ‘n bakkie en kon nie verstaan hoekom moes hul dan nou weer so gou afklim nie. Die sweet tap al die drie agter die bakkie af, maar niks. Nee, ons het hulp nodig. Die kinders gaan roep toe vir Jan om te kom help. Op en af stoot hulle my hier oor die werf, maar al wat ons hoor is tikketikketikketik. Net voor ek by ‘n hek tot stilstand sou moes kom, sit ek die bakkie in eerste en start weer… wraggies… daar vat hy toe. Eureka! Ek glo nie een van hulle sou nog ‘n tree verder kon stoot nie. Die kinders gil van plesier en daar gaan ons. Eers nadat Jaco’le toe by die huis gekom het leer ek toe van glow plugs….

Nou ja, nou is al die langnaweke verby en moet ons weer fokus op werk. Geniet die res van julle week en laat hoor gerus van julle!

Noue ontkominge groete,

Anoesjka

16 April 2009

2009 April 16
by anoesjka

More!

Hoop julle het almal ‘n baie lekker Paasnaweek gehad. Ons sukkel nog om al die paaseiers opgeeet te kry.

Ons het ons s’n baie geniet. My suster en haar man (Jolene en Jaco) het by ons kom kuier vir die naweek. My ouer suster Anneke en haar gesin was in die omgewing en het ook vinnig kom inloer. Was lekker om weer ‘n slag kuier mense te hê. Die ergste is net as almal huis toe gaan en jy bly alleen agter. Dan pla die alleenheid so ‘n bietjie, maar na ‘n dag of twee is jy dit maar weer gewoond.

Ek het laas vertel van ons huiswater tenk wat se dak afgewaai het. Dit is intussen reggemaak, maar wat ‘n gesukkel. Ons was vir twee dae sonder huiswater. Vir elke druppel water wat ons in die huis nodig gehad het, moes ons dam toe loop met ‘n emmer om dit op te vang by die pyp soos wat die windpomp dit uit pomp. Probleem is net as die wind nie waai nie, is daar nie water nie. Dan moet Jaco of Jan maar eers die windpomp op klim om hom te laat draai. Dis tye soos dit wat mens besef hoe maklik ‘n mens iets so noodsaaklik as vanselfsprekend aanvaar. Mens is geneig om te dink hoe mense vroeer jare moes sukkel, maar eintlik is daar vandag nog soveel mense wat ver moet loop om water in die hande te kry. Glo my, dis harde werk. Daar is net soveel waarvoor ons elke dag dankie kan sê!

Ek het ook laas vertel van hoe Ounooi agter die bakkie aangehardloop het en dat ons haar toe verloor het. Jan is toe veld in om haar te gaan soek en het haar by twee ander skape gekry. Toe sy hom sien het sy sommer dadelik blêr blêr aangehardloop gekom al te bly om ‘n bekende gesig te sien. Sy wil nou maar eenmaal nie veld toe gaan saam met die ander skape nie. Ek dink sy dink sy is ‘n hond en nie ‘n skaap nie. Dalk moet ek vir haar in ‘n spieel laat kyk. Sy is maar bedags hier al om die huis. Ek geniet dit om haar hier te hê, maar dit het ook sy nadele. Sy vreet als op wat sy nie moet nie! Wingerd, perske bome, plante in die tuin, etc. Verder dink sy ook niks daarvan om ‘n bietjie broek los te maak op die stoep nie! Ons het gesien hoe sy ‘n perske heel in haar mond kou en net die pit uitspoeg as sy klaar is. Eintlik moes ek dit afneem…

Met Basjan gaan dit nog goed. Hy is al 5 maande oud en groei nou so ‘n bietjie stadiger. Sy babatandjies is al vervang met groot sterk tande. Ons sal vinnig ‘n plan moet maak om hom opgelei te kry. Hy jaag gedurig die hoenders en ek het nou al twee keer vir hom gevang waar hy ‘n hoender vasdruk. Gelukkig het hy nog nie een stukkend gebyt nie, maar ek is bevrees as hy dit eers een keer gedoen het, gaan ons hom moeilik (indien ooit) gestop kry. Hy het juis eergister weer een van die henne so gevang. Ek het so hard gegil dat hy die hen sommer dadelik gelos het. Hy is nou ‘n regte klein stout klits, maar het tog al so diep in ons harte gekruip.

Laas week Donderdag het die swart hen, wat hier in die blompot voor my ‘kantoor’ venster gebroei het, se twee kuikens uitgebroei. Net betyds vir die naweek se kuiermense om hul te sien. Die Rooihen het in dieselfde pot gesit en broei het die twee het omtrent gestry oor wie se kuikens dit nou eintlik is. Ons het die swart hen en kuikens toe geskuif na die ou hondehok. Dis mos waar die muskejaatkat laas die bruin hen en haar kuikens gevang het. Dit is nog nie bo toegespan met draad nie, so ons hoop maar dat sy veilig daar sal wees. Die honde het hoekal nou die aand so vreeslik buite geblaf. Dit was so na twaalf die aand. Jaco het opgestaan en gaan kyk. Hy’t so lank weggebly dat ek al bekommerd begin raak het, maar terwyl ek nog so wonder toe skiet hy ‘n skoot af met die pistool. Ek het gewip soos ek skrik daar in die bed. Daarna was die werf dood stil. Dit was toe al die tyd weer ‘n muskejaatkat wat in die boom gesit het waarvoor die honde so geblaf het. Alhoewel Jaco seker was hy het hom raak geskiet was die kat die volgende oggend weg. Daar was ook geen teken van bloed nie so hy was seker maar ongedeerd. Ek hoop hy het darem ‘n goeie skrik weg… maar soos hulle sê… die kat kom weer…

Die Rooihen sit en broei nou nog op 4 eiers (twee van haar eie en twee van die groot lêhen s’n wat ek onder haar gesit het). Eintlik het die swart hen al begin broei aan die lêhen se eiers, maar dit lyk my ek het hulle te laat bygesit. Vanoggend het die Rooihen nou een van hulle uitgebroei en die ander enetjie sal seker ook nog deur die loop van die dag uitbroei. Hy is te pragtig! ‘n Geel kuiken sonder enige swart vlekkies. Dit lyk darem of sy die kuiken gaan aanvaar anders gaan ek weer moet kuikens groot maak. Weet nou net nie wat ek gaan maak met haar twee ander eiertjies wat nou nog so twee weke moet broei nie.

Sondag het ons weer een van ons groot henne verloor. Sy was een van die wat omtrent permanent in die hoenderhok bly (agv die hane). Laat middag toe ek daar ‘n draai gaan maak het, toe vermis ek haar en teen die tyd wat ek die hoenderhok gaan toe maak het, was sy steeds weg. Iets moes haar die middag gevang het. Ai, voel so sad daaroor. Die oggend het my swaer nog vir haar kos en water gegee en die aand toe is sy weg. Daar was geen teken van haar nie. Ons dink dit kon dalk ‘n muishond wees, want hier het hoekal nou die dag een reg by die huis verby gehardloop. Die honde het hom gejaag, maar hy was te vinnig. Hy het sommer hier deur die tuin gehardloop.

Oja, het ek jul al gesê van die eerste slang wat ek self dood gemaak het? Okay… ek het hom nie self dood gemaak nie, maar dit was amper! Dit was ‘n Vrydagmiddag en Jaco en Jan’le was in dorp toe. Ek was stoksielalleen hier. So teen 18:00 het ek uitgegaan om die hoenders te gaan kos gee. Die groot honde het onophoudelik begin blaf. Eers het ek my nie daaraan gesteur nie, maar toe Basjan ook begin blaf toe gaan kyk ek maar. Reg voor Basjan lê daar toe ‘n pofadder opgekrul. Vir ‘n paar sekondes was ek verlam. Wat nou!? Ek is alleen… ek kan nie die slang net daar los nie… ek kan hom ook nie laat wegkom nie… Ek het my stem hees geskreeu om vir Basjan daar weg te kry – hy het mos net ‘n willetjie van sy eie. Al gillende hardloop ek toe maar in kombuis toe om solank kookwater te gaan opsit. Ek kom weer uit met die sambok in die een hand en kry toe die gaffel in die ander. Natuurlik is die sambok nie vir die slang nie, maar eerder om die honde van die slang af weg te hou. Ek staan toe so ‘n paar meter van die slang af en hou hom dop terwyl ek wag vir die water om te kook. Voor die water kon kook, begin die slang toe weg seil agter die bosse in waar ek hom nie meer kon sien nie. Toe weet ek nou nie is die slang nog daar of is hy weg nie. Die honde het egter nog heeltyd daar by die bosse geruik wat my laat wonder het. Teen daai tyd was dit ook al sterk skemer en toe Jaco by die huis kom was dit donker. Het hom dadelik vertel van die slang. Hy en Jan gaan kyk toe met ‘n flits waar ek hom laas gesien het en sowaar… daar agter die bosse lê die adder toe nog. Vinnig het ek weer die kookwater opgesit. Gewapen met kookwater, ‘n gaffel en graaf het Jaco en Jan toe die slang aangedurf. Ek het gedink ek is bang, maar ek dink Jan is nog banger as ek! Nadat Jaco die slang met die gaffel agter die bosse uitgehaal het, het Jan hom met die graaf bygekom, maar mens sou sweer hy wou hom in die grond in slaan. Shame, ek het eintlik die slang so jammer gekry… maar dit is maar net te gevaarlik om hom so naby die huis toe te laat.

Met die ander diere gaan dit nog goed. Kiddo en Bliksem was vir ‘n tydjie in pyn. Kiddo het gegaan vir haar sterrilisasie en ons het Blikkie se oog laat opereer. Van geboorte af omtrent het een van sy oë se ooghaartjies na binnekant toe gegroei. Dit het heeltyd die oog geirriteer. Dit was tranerig en het al so ‘n vliesie oor begin kry. Die dokter het toe ‘n stukkie vel onder die oog uitgesny en dit vel stywer getrek – amper soos ‘n facelift. Nou wys die haartjies nie meer na binne toe nie. Die oog het maar die eerste ruk baie sleg gelyk – was taamlik opgeswel – maar lyk nou al baie beter. Daar is ook nou niks meer wat die ogie irriteer nie. Kiddo was maar taamlik deurmekaar en in pyn (of so het dit gelyk) na haar operasie, maar sy is nou alweer haar ou self.

Nou ja, ek moet alweer groet.
Laat dit goed gaan met julle! Dankie vir die van julle wat darem ook so af en toe ‘n ‘update’ stuur oor hoe dit met julle gaan.

Paaseiergroete,
Anoesjka

17 Maart 2009, Dinsdag

2009 Maart 22
by anoesjka

Vandag voel vir my soos die begin van winter. Dit was vanoggend ysig koud buite en hier is heeldag so ‘n onsmaaklike koue wind. Ek is nie ‘n wintermens nie en sien glad nie uit na die klappertandkoue wat voorlê nie…

Ek het hierdie brief eintlik al ‘n paar dae gelede begin skryf, maar kom nou eers daarby uit om dit te stuur. Eintlik het ek net gewag tot ons ‘n foto van die groen veld kon neem. Ons het ‘n “before” foto geneem maar wou ‘n “after” een van min of meer dieselfde plek af neem. Het dit gou vanmiddag in my etenstyd gaan neem, maar ai… wat ‘n gesukkel. Eers is al die honde agter op die bakkie om ook te kan saam ry. Met die wegtrek hardloop Ounooi (die hanslam) blêr-blêr agterna. Gewoonlik skud ons haar af om die eerste draai wat die pad maak, maar teen die tyd wat Jaco die hek by die teerpad (wat ons moes oorsteek) oopgemaak het, was sy weer by ons.

Kyk, ek het nog nooit ‘n skaap so vinnig gesien hardloop nie. Wonder of ‘n mens skaapresies kry… sy sou beslis ‘n goue medalje gewen het. Sy loop al agter Jaco aan. Toe hy oor die pad loop om sommer daardie hek ook te gaan oop maak, is sy agterna… bo-oor die motorhek en al. Dat sy nog nie ‘n been daar gebreek het nie, is ook ‘n wonder. Jaco het haar twee keer agter op die bakkie saam met die honde gelaai sodat sy maar kan saam ry, maar sy spring elke keer af.

Sy hardloop toe al die pad saam. Dit werk vreeslik op my senuwees, want sy hol soms voor die bakkie in en ek vrees net die keer wat ons haar dalk raakry. Oppad na die plek van waar ons die foto wou neem het ons alweer op ‘n dooie skaap afgekom. Dit wil amper lyk of iets hom kon gevang het… dalk die honde… maar gister se bui reën het al die spore weggevat. Ai, ek hoop darem nie dit is die honde nie. Elk geval, terwyl ons daar gestop het, het Ounooi ons alweer ingehaal. Ons moes omtrent jaag om onder haar uit te kom. Met die terugkomslag was sy net skoonveld! Weet nie wat van haar geword het nie. Soos sy gehardloop het, kon haar hart dalk gaan staan het. Jaco het vir my en die honde by die huis kom aflaai en is nou eers weer terug om die skaap te gaan soek. Never a dull moment…

Hier is die res van my brief :-)

12 Maart 2009, Donderdag

Hallooo

Soos altyd, hoop ek dit gaan nog goed met julle. Ons kan nie kla nie – die veld is lekker groen en die diere het kos om te eet. Gister namiddag het ek gesien die weer steek op, maar nie regtig soveel daarvan gedink nie. Die wind het ewe skielik met mening opgekom en sommer die reën ook saam gebring. Dit was omtrent ‘n sterk wind en die water het ook behoorlik geval. So vergeet ek toe skoon van die sitkamervenster wat al die tyd oop staan… en die weer het reg uit daardie rigting gekom. Jaco het buite by die waenhuis geskuil en geroep dat ek die venster moet gaan toemaak. So kon ek nie ‘n dooie woord hoor wat hy sê deur al die wind en reën deur nie – ek dog hy praat met Jan. Teen die tyd wat ek besef die venster is oop, was dit al te laat. Die gordyn, mat en banke onder die venster was waternat. Ai… toe die reën verby is, het die reënmeter ‘n verstommende 1 duim en 4 punte gewys. Die weer is besig om nou weer op te steek – die wind waai sterk en die gerammel kom al hoe nader… val ook alreeds ‘n paar druppels. Al my vensters en deure is darem nou toe.

Die beeste is weer terug hier op Huisfontein waar hulle hoort. Dit was eintlik heel maklik om hulle hier te kry. Hulle het al die pad van die buurplaas (Pompfontein) af geloop agter ‘n bak kos aan. Wat mens ook nie als kan regkry met kos en geduld nie.

Nee, daar is nog nie ‘n enkele saad in die grond nie. Ek het wel ‘n paar aartappelmoere geplant – sommer net so ‘n paartjies om te kyk of daar iets van gaan kom. Op die oomblik is daar nog niks… Jaco het eindelik volstoom begin ploeg en als het net lekker gewerk… toe breek daar weer ‘n ding. Die trekker loop net ‘n tydjie dan gaan staan hy. Jaco het omtrent geroei met die trekker. Hy het tot vir Trekkerman laat kom, maar selfs dié kon nie die trekker aan die loop kry nie. Toe besluit Jaco dit is nou hy en die Blou Bliksem, maar loop gaan hy weer loop… of hy nou 60 jaar oud is of nie. Terloops…die trekker is so oud, hy loop nog eintlik op kragparaffien. Vandag kry ‘n mens nie eers meer dit te koop nie. Nou gebruik ons ‘n mengsel van gewone paraffien en petrol. Die trekker word aangeskakel met petrol en dan skakel jy hom oor op die paraffien mengsel. Jaco het sy boeke nageslaan en met baie geduld van die parte uitmekaar gehaal, skoongemaak en weer teruggesit. Sy ure se harde werk was darem nie verniet nie – geduld, deursettingsvermoë, brandewyn en opsit tot twee-uur in die oggend het die ding gedoen. Die trekker loop weer! Hoera vir ons nuwe trekkerman! Die trekker werk nou al drie geslagte lank in ons familie. Ek ken nie die ploeg se storie nie, maar ek is seker hy is so oud soos die berge. Nietemin, hy kry die werk gedoen. Saterdag het ons weer bietjie geploeg en ek het self die trekker gery. Was eers bietjie versigtig, maar toe begin dit lekker raak. Nou wil ek net trekker ry.

Hier het nou een aand so ‘n sterk wind opgekom – sommer skielik. Ons het ‘n geluid gehoor wat klink soos sinkplate, maar nie geweet waar dit vandaan kom nie. Die volgende oggend toe sien ons maar die huiswater tenk se dak het afgewaai en sommer ‘n stuk van die muur ook. Die pyp van die windpomp het ook gebreek en so gooi die pomp toe al heel aand water op die grond. Die pyp is darem nou weer reg sodat die water in die tenk kan gooi, maar die dak moet nog reggemaak word. Klink ook maar na ‘n groot storie. Ons mag dalk sonder water wees vir ‘n tydjie terwyl die muur reggemaak word.

Met al die diere gaan dit nog goed. Of nee… ek jok. Een van die hoenders is nie meer met ons nie. Twee dae gelede het ek uiteindelik die moed bymekaar geskraap om een van die hane se kop te laat rol. Dit was maar moeilik, maar ek moes dit doen ter wille van my henne. Dit was een van die pragtige Rhode Island Red hane. Ek moes hom self gaan uitwys en totsiens sê vir hom. Jan en Petro sê hy het baie lekker geproe. Nou is Jaco self lus vir een van die hane, maar ai… ek kan nog nie sover dink nie. Ek vat dit maar een stappie op ‘n slag. Boerdery is so wreed, maar ook so lekker. O en amper vergeet ek om te sê… Hendrik en al sy henne het mos nou weer hier op die voorstoep ingetrek. Hulle het nou vir ‘n lang tyd saam met al die ander hoenders saans in die hoenderhok gaan slaap, maar op ‘n dag het hy net besluit hy slaap nie weer daar nie. Dink die ander hane jaag hom ‘n bietjie rond. Nou een oggend het ek ‘n nuwe kraai-geluid gehoor. Dis toe Spookie, een van die drie jong hennetjies. Sy is toe eintlik al die tyd ‘n haan! Ai, nou is daar nog ‘n haan te veel.

Ounooi word vetter by die dag. Gelukkig is daar nog nie sprake van mark toe gaan nie. Sy is mos immers ‘n ooi en miskien kan ons haar hou. Sy is nou al heeltemal gespeen en kry net soggens en saans ‘n bietjie afrondpille. Verder wei sy maar hier al om die huis. Kobusina het alweer die pad gevat veld toe en was baie lanklaas hier by die huis. Sy hou nou maar eenmaal nie daarvan om hier te bly nie. Lyk of Ounooi nog geen behoefte het om saam met die ander skaap te gaan wei nie. Sy gaan maar orals waar ons gaan. As ons gaan stap, stap sy saam andersins wei sy naby die huis of lê voor die agterdeur. As dit te stil raak buite gee sy ‘n blêr net om te hoor waar is almal dan nou.

Nou die oggend toe ek buitentoe gaan om die hoenders kos te gee, toe sit hier sowaar ‘n Bloureier in een van die bome. Ek het die hoenderkos net daar op die grond neergesit en is met ‘n vaart verby Jaco die huis in om die verkyker te gaan haal. Toe ek weer buite kom het Jaco intussen nog ‘n vreemde voël twee bome verder opgemerk. ‘n Spierwit voël met ‘n rooi-swart snawel wat lyk nes ‘n plat lepel. Dis so lekker om sulke vreemde voëls te sien en hulle dan in my boek te gaan soek en te probeer identifiseer. Die spesifieke een was ‘n Lepelaar. Ons het die afgelope tyd heelwat “nuwe” voëls gesien wat agter die water aankom, maar kon nog nie almal van naby genoeg bekyk om hul te kan identifiseer nie.

Ten spyte van die groen veld, het ons in laas week een van die vier jong ramme wat ons laas jaar gekoop het, dood in die veld gekry. Hy was egter al so verrot dat ons glad nie kon sien wat die oorsaak van sy dood was nie. Sy oorknip en horings is al waaraan ons hom kon uitken. Ons is maar taamlik spyt oor die verlies, maar soos hulle sê… you win some, you lose some. So het die twee twin sisters (hennetjies) wat op dieselfde nessie gesit en broei het, altwee hulle eiertjies ook verloor. Dit kan maar net Blikkie en/of Bruno wees wat dit opgeëet het terwyl die henne opgestaan het om kos te kry. Ek het juis nou die dag vir Blikkie op heterdaad betrap toe hy met ‘n eier in sy mond staan. Toe hy my sien, het hy dadelik die eier laat val en in sy hok gaan klim. Eintlik het dit ook nie veel gehelp nie, want die eier se dop het toe klaar gebreek. In elk geval, die twee hennetjies sit nou steeds saam en broei… op niks.

Dit reën nou lieflik sag…. hmm, laat my sommer lus kry vir my ouma se sop en vetkoek.

Kan julle glo ek en Jaco was Sondag al ‘n jaar getroud? Dit voel nog net soos nou die dag. Mens kan nie glo hoe vinnig die tyd vlieg en hoe vinnig ‘n mens se lewe verbygaan nie. Dis hoekom ons die beste van elke oomblik van elke dag moet maak! Elke sekonde wat verby is, is vir ewig verby.

Nou ja, dis weer tyd om te groet. Ons het nou die dag die mooiste reënboog reg oor die plaas gehad. Dit was asemrowend – net jammer dat dit so groot was dat ek dit nie met my kamera op een slag volledig kon afneem nie. Ek weet nie van julle nie, maar as ek ‘n reënboog sien, gee dit my altyd nuwe hoop. Hier is sommer net ‘n gediggie waarop ek afgekom het. Ek verstaan nie alles nie – dis mos juis wat dit ‘n gedig maak – maar dit is mooi vir my.

Reënbooggroete

 

Anoesjka

PS: Ek heg so ‘n paar weerlig fotos aan, maar hulle het taamlik “blurry” uitgekom. Die muskiete het my so aangeval dat ek nie kon stilstaan om die fotos te neem nie!

Titel: Beloftes in ‘n Reënboog
Deur: Ster

Wie het alles saamgegooi?
Waarvandaan?
Erens begroet ‘n vreugdestraan
vanuit sy eie baan

Wanneer die pragtige reënboog op die horison verskyn
Is elke kleur op sy plek deur engele volmaak geverf
deur waterdruppels uitgekerf
sodat mensekinders vrylik kan swerf

Die reënboog is vervul met liefde sonder pyn
geen wroeging vir die soliede aardse myn
dis standvastig en volmaakte kleure wat oor almal skyn
dat die belofte aan die mensdom nie deur water sal sterf

Die begin en einde van die boog ver verwyder van mekaar
hulle word weggekeer deur ‘n engelskaar
verniet probeer jy die punte daarvan kry
hulle bly uit jou hande gly

Beweeg nader om dit mooi te bekyk
bly dit weggly om jou vir altyd te ontwyk
jy voel skielik gekul
wat wil die kleure onthul?

Dis ‘n aardse wonderwerk
lank gelede gemaak ~ ‘n ewige merk
van Iemand om Sy belofte te versterk
as nagedagtenis vir die mensdom sonder perk

24 Februarie 2009, Dinsdag

2009 Maart 22
by anoesjka

Hallo

Hoop dit gaan sommer nog baie goed met julle almal? Ons het nie klagtes nie. Dit het Vrydagaand oor ‘n duim (26mm) gereën! Na al die bietjies reën die afgelope tyd, kan ons uiteindelik ‘n verskil in die veld begin sien. Dit lyk sommer weer groen en die eerste Driedorings het begin blom. Ons is baie verlig en dankbaar. Die diere het maar die afgelope tyd bietjie swaar gekry. Ons het al ‘n paar dooie ooie gekry en dink hulle sterftes is droogte verwant. Een was nog lewendig toe ons haar in die veld sien lê het. Ons het haar huis toe gebring, maar als was tevergeefs. Sy was al te ver heen en is die volgende oggend dood.

Valentynsdag het nogal vreemd afgeloop. Die oggend net nadat ek opgestaan het, het ek ‘n arend gesien. Hy was net te ver om hom te kon onderskei tussen die Breëkoparend en die Swartborsslangarend, maar dit was beslis een van die twee. Terwyl ek nou hier sit, het ek ‘n valk gehoor… ek het gou uitgehardloop met die verkyker en ‘n Bleeksingvalk in die boom gesien en ‘n Blouvalk wat kort-kort op hom afpeil. Ek weet nie hoekom nie, maar ek kry die idee hulle hou nie van mekaar nie. Terwyl ek die valke bekyk het, het ek sommer ook ‘n Steenbokkie in die veld gesien. Dit is darem net te wonderlik om die natuur so na aan ‘n mens te hê.

Elk geval, laat ek terugkeer na Valentynsdag. Ons het die middag veld toe gery om krippe te gaan skoonmaak en die reënmeter te kyk. Het toe weer ‘n Pou en Sekretarisvoël gesien. Dis toe ons die siek ooi in die veld gekry het. Later die middag, terug by die huis, het ons vir Blikkie en Bruno vreeslik hoor blaf. Jaco het uitgegaan om te gaan kyk en toe ek hoor hoe hy die honde aanpraat om pad te gee, toe weet ek… dis alweer ‘n slang. Die slag was dit ‘n Pofadder. Ek het twee gaffels gaan kry en een vir hom geneem. Die slang het na die honde gepik en in die warboel was ons nie seker of een van die honde raakgepik is nie. Nadat ons uiteindelik die honde daar weggekry het, kon Jaco nader gaan om die slang, wat intussen in ‘n bos skuiling gesoek het, te soek. Ek moes ook maar nader staan sodat Jaco nie sy rigting kon verloor nie. Na ‘n hele paar minute het hy hom darem opgespoor en hom doodgemaak. Ek is seker ‘n slang is een van die taaiste goed om dood te gaan. Daai gaffel was hoeveel maal deur sy kop, maar sy lyf bly beweeg. Wonder bo wonder was nie een van die honde raak gepik nie. Die slange werk nogal ‘n ou se senuwees… veral as die honde nie eens besef wat se gevaar dit vir hulle inhou nie.

‘n Tydjie later het Basjan aanhoudend begin blaf. Met die wat ek toe gaan kyk waaroor die bohaai nou weer is, sien ek hy’t sowaar die slang gaan haal en al die pad tot voor op die gras gesleep en nou blaf hy vir die slang wat se lyf nog steeds krulle maak. Jaco het toe maar die slang in ‘n boom gegooi (hopelik val hy nie nog eendag op my sodra ek onder die boom loop nie). Basjan dra al wat ‘n ding is… klippe, stompe, blikke, mol, vlermuis, selfs ‘n skaapkop, tot by die gras voor die voordeur. Dis nou waar hy aan als lê en kou. Hy raak darem nou al ‘n bietjie rustiger as wat hy aan die begin was. Nou die dag toe hy saam met my by die hoenderhok was, het ek so gelag toe een van die Pikkels hom heel onverwags bespring. Hy’t bo-op Basjan se rug gespring om hom te skop. Basjan het net ‘n skril tjank gegee, maar ook nie padgegee nie.

Al die hane is nog met ons, maar ek kan voel hoe die oordeelsdag nader kom. Een van ons nuwe wit henne is nou al ‘n hele tydjie lank weg. Ons het eers gedink dat sy miskien êrens sit en broei, maar dis nou al so lank dat ek twyfel. ‘n Muishond het haar seker maar gevang. Verder is hier alweer twee hennetjies wat op dieselfde nes (of potplant) sit en broei. Hulle stoei omtrent oor die nes (met twee eiertjies) en nie een wil bes gee nie. Die snaakste is dat die twee henne omtrent eenders lyk ook nog.

Met Kobusina en Ounooi gaan dit nog goed. Ounooi is sommer heelwat stewiger as Kobusina (dit kom nou van haar alewige weglopery). Die afgelope paar dae het sy wel hier naby die huis gebly. Hulle kry nou net een keer op ‘n dag melk.

Donderdag laasweek was hier omtrent ‘n skaapwerkery. Jaco se swaer (Kobus) het ook die dag hier kom spandeer. Net na 5 die oggend is hulle al die veld in om skaap bymekaar te maak. Net voor middagete het die honde taamlik begin blaf. Die mans het net van die kraal af by die huis gekom. Toe is dit die beeste wat besluit het dis weer tyd dat hulle op Pompfontein gaan kuier. Al 5 van hulle (Mookie ingesluit) het hier verbygestap gekom, haastig oppad na die buurplaas. Ek het vinnig ‘n emmertjie lusernpille vol gemaak en vir Jaco geneem. Die mans is toe met die bakkie agterna om die beeste terug te lok met die kos. Gelukkig het Jaco hulle al so mak gekry dat dit maklik gewerk het. Uiteindelik was hul weer terug in hul kamp en kon ons nou eet.

Jaco het net uit die huis gegaan om iets te gaan doen toe ons sy benoude roep hoor. Toe ons buite kom het ons net ‘n stofwolk in die rigting van die kraal gesien. Jan het nie die hek behoorlik toegemaak nie en 400 skaap was op pad uit veld toe. Kyk, toe moes ons hardloop, want as daai lot skaap nou eers almal die veld in is en dit boonop nog in die verkeerde kamp waar ander skaap reeds is, sou dit nog ‘n paar uur geneem het om weer almal te kry waar hul moes wees. Gelukkig kon ek, Jaco en Kobus die skaap weer terug in die kraal kry sonder te veel moeite. Een skaap het wel ‘n kans probeer vat en omgedraai en begin hardloop. Ons het vir Basjan, wat grootoog gestaan en toekyk het, geroep. Hy het sowaar agter die skaap aan gehol, die skaap laat omdraai en hom tot in die kraal gejaag. Dit was ongelooflik! Basjan het sy eerste skaapwerk gedoen. Ons was so trots op hom. Uiteindelik kon ons gaan eet.

Die middag net na 4 is ek toe ook kraal toe om te gaan help met die tellery. Dit is nogals ‘n groot takie, veral as een van die honde die skape skrik maak en almal hardloop deurmekaar terwyl jy amper klaar getel was. Terwyl ons nou daar in die kraal besig was, het die honde weer begin blaf in die huis se rigting. Sowaar! Daar kom die beeste weer aangestap. Weet nie hoekom hulle nou weer die wegloop idee in hul koppe gekry het nie, maar toe is die tellery weereens daarmee heen en moes die beeste eers agterna gesit word voor hulle te ver is. Met hulle uiteindelik weer in die kamp, kon die tellery voortgaan. Dit was al donker teen die tyd wat ons by die kraal weg is. Basjan het gehelp om die skape veld toe aan te jaag. Dit was ‘n dol en lang dag! In die nag so rondom 02h00, het ek wakker geword en die honde weer hoor blaf. Nes ek vermoed het, het ons die volgende oggend agtergekom die beeste is weer hier verby en die slag was daar niemand om hul te keer nie. Hulle is nou nog op die buurplaas. Jaco sal seker nog in die week ‘n plan moet maak om hul weer hier te kry.

Sondagnamiddag het ek en Jaco bietjie met al die honde gaan stap. Dis die verste wat Basjan nog gestap het, maar daar was ook nie einde aan sy energie nie. Terwyl ons nog so stap sien ons skielik ‘n Pofadder in die pad. Die honde was al reg by die slang. Gelukkig het hul padgegee toe ons hulle roep. Ons het besluit om nie die slang dood te maak nie en het eerder maar net omgedraai en huiswaarts gekeer. Ons glo nou maar dat hulle ook hul doel in die natuur dien. Dis natuurlik ‘n ander saak as hy naby die huis kom.

Verder eet ons lekker aan die druiwe, turksvye en perskes. Hier is hopeloos te veel vir ons om te kan opeet. Ons het nou al ‘n hele klomp turksvye vir ‘n oom in die dorp gevat wat dit uit sy karavaan vir ‘n paar sent verkoop. Dis ongelooflik wat die goed se pryse in die winkels is. My komposhoop groei darem ook so bietjie-bietjie. Ons het steeds nie ‘n saad in die grond nie, maar werk nog daaraan. Jaco is druk besig om die trekker reg te kry. Die grond is nou lekker nat na al die reëns, so sodra die trekker reg is, dan kan ons begin werk.

So van eet gepraat… ek moet seker gaan kos maak. Laat dit goed gaan met julle en laat hoor gerus van julle! Ek is al uitgehonger vir ‘n bietjie nuus.

Groenveldgroete

Anoesjka

PS: Mannetjie is Jan se hond wat bedags hier kom kuier. Sal nog vir julle fotos stuur van hoe die veld voor en na die reën lyk.

5 Februarie 2009, Donderdag

2009 Maart 22
by anoesjka

Hallooo!

Hoop dit gaan nog goed met julle? Hier is nie klagtes nie. Ons is baie dankbaar vir die bietjie reën wat ons so ‘n week gelede gekry het – 8.5mm en die volgende dag nog 2mm. Ons kan nog nie ‘n verskil in die veld sien nie, maar ek glo elke bietjie help. Ons kyk uit na nog reën. As dit nie was vir die grasgroen doringbome nie, sou die veld maar taamlik swart lyk. Ons het eers gedink die turksvye lyk hierdie jaar maar treurig – hulle kry mos net reënwater – maar eintlik dra hulle so baie. Na die eerste turksvy wat ek geëet het die seisoen, het ek met 3 dorings in my mond opgeëindig.

Hier het al twee groot swerms sprinkane oor die plaas gevlieg, maar gelukkig nie by ons gekom sit nie. Klink darem of daar nie regtig ‘n groot sprinkaan krisis in ons omgewing was die jaar nie.

Met Jaco gaan dit nog goed. Hy bly maar bedrywig. Het nou die dag alweer windpompe reggemaak. By die een pomp was daar ‘n byenes in. Hulle moes dit toe eers die aand uitrook sodat hulle die volgende dag die koeke kon verwyder om aan die pomp te kan werk. Hy het darem ongedeerd daarvan afgekom, maar Jan het ‘n bysteek weg en Bruno (hond) sommer ‘n hele paar. Ten minste is die pomp nou reg en gooi hy water in die dam vanwaar ek my groentetuin wil natlei. Daar is nog nie ‘n saadjie in die grond nie, maar ons werk daaraan. Ek sukkel net om al die saad hier in die hande te kry wat ek graag wil hê. Jan en Jaco is nie eintlik baie positief oor die groentetuin nie. Hulle sê die ystervarke gaan my groente verniel en opvreet, maar ek gaan maar positief bly. Wie nie waag nie, wen nie. Die grond moet verkieslik omgeploeg word, maar is op die oomblik hopeloos te droog en hard. As dit nou net kan kom reën, kan ons dit probeer omploeg. Beide die trekker en die ploeg kom uit Noag se ark, so dit mag dalk op ‘n storie vir ‘n volgende keer uitloop…

Uiteindelik is ons voëlbad nie meer net ‘n groot wit tuin ornament nie. Elke dag kom hier sommer ‘n paar voëltjies water drink en ek het selfs al enetjie gesien bad. Vandag het ek juis hier by die voëlbad ‘n “nuwe” voëltjie ontdek… die Witkeelkanarie. Die twee kransswaeltjies is darem nog altwee hier, maar ek weet nie vir hoe lank nie. Hier is twee ander Grootstreepswaels wat by een van ons swaels se nessies (hulle het 3 nessies hier op die voorstoep) wil intrek. Hulle is nou regtig baie mooi – ek het hulle in die Kaap ook al gesien. Hulle was nou al ‘n paar maal hier by die nes, maar vandag het hulle sommer klei ook aangevlieg. Hulle is hard besig om te bou aan die nessie. Ek is bly oor die nuwe intrekkers, solank hulle net nie ons ander swaeltjies laat wegtrek nie.

Die nuwe hoenders het sommer goed hier aangepas. Hulle is al klaar mak. As hulle in die aand sien ek kom aangestap met my wit kos emmertjie, sak hulle my omtrent toe. Selfs al het ek nie eens die emmer by my nie, dan kom hul steeds nader om te kyk of ek nie tog ‘n bietjie kos by my het nie. Waar ek voorheen net vir die hoenders heel mieliepitte gegooi het, kry hulle nou ‘n mengsel van mieliepitte, koring, “mixed-food”, opgekerfde lusern en lê-meel. Die brousel lyk en ruik vir my so lekker kraakvars dat ek sommer lus word om daaraan te proe. Die enigste probleem is dat ons te veel hane het. Ons sal ten minste 5-6 van hulle se koppe moet laat rol, maar ai… ek kon dit nog net nie oor my hart kry nie.

Boerdery is beslis nie vir sussies nie – eintlik wens ek soms ek het nie ‘n hart gehad nie. Mens raak te lief vir die diere en as daar iets met hulle gebeur of as jy self die doodsvonnis vir hulle moet oplê, voel dit of jou hart wil breek. Ons het Dinsdag vir Jan ‘n hoender belowe, maar toe hy die aand kom om een te kom haal, kon ek net nie sê watter ene nie. Nou het ons dit maar eers gelos, maar ek weet die dag gaan binnekort aanbreek wat ek wel een sal moet laat gaan. Ek gee nie om vir die kos wat hulle eet nie, maar hulle verniel die arme henne net te veel. Die henne is maar my motivering.

Vandat al die nuwe henne gearriveer het, het my gunsteling Pikkel ook skoon van my vergeet. Ek het hom gewoonlik ‘n paar maal op ‘n dag opgetel. As ek buite kom het hy sommer na my toe aangehardloop gekom en elke oggend het hy op die muurtjie voor die agterdeur vir my kom kraai. Hy’t ook ten minste een keer op ‘n dag ‘n draai gemaak voor die venster waar ek sit en werk. Wanneer die voordeur oopgestaan het, het hulle 3 mos sommer net reguit ingeloop. Nou pas hul net die henne op. Ek kry hom darem nog so af en toe in die hande en skel hom eers oor hy nie meer vir my kom kuier nie.

Verder sukkel ek om die eiers in die hande te kry. Of hulle lê nie genoeg nie, of ek kry net nie hulle lêplekke nie of die likkewane is my een voor. Ons het nou al drie likkewane die afgelope week of twee hier om die huis gekry – naby die hoenderhok (waar hul saans slaap) en een sommer in die voortuin. Ons los hulle maar – hou nie daarvan om hulle dood te maak nie. Jaco het die een op die bakkie gelaai en wou ‘n ent met hom ry voor hy hom aflaai, maar voor hy nog kon wegry, het die likkewaan bo van die bakkie afgeklim en spoorloos verdwyn. Ek het nog uitgehardloop gekom met die kamera, maar toe is hy reeds weg. Jan is vreeslik bang vir die likkewane, maar Jaco vang hulle sommer so met die kaal hand. Het nogal vir my gesê as ek hom sien moet ek hom ook so vang. Ha ha… wat’s die kanse?

So van reptiele gepraat… ons het mos nou die dag weer op ‘n kobra afgekom. Dit was al sterk skemer en ek, Jaco en Jan het by die huiswater windpomp (naby die huis) gestaan en wou net begin aanstaltes maak huis toe, toe Jaco skielik roep “wow… stop… slang!” My bene het skielik soos jellie begin voel. Tussen my en Jaco was daar ‘n Asbos en dis waaronder die slang toe was. Ek het die honde en Ounooi weggeroep huis toe en sommer dadelik ‘n ketel en ‘n pot kookwater gaan opsit. Jaco en Jan het die slang opgepas. Wat dinge moeilik gemaak het, is dat daar klomp ’scrap’ lê soos ou bande, planke, metaal, pype, ens. Dit was moeilik om die slang dop te hou en dit het gevoel of die water ‘n ewigheid neem om te kook. Uiteindelik was dit klaar. Ek het dit net vir hulle gaan gee en is weer huistoe, waar ek maar my gebedjies opgesê het. Jan was self so bang vir die slang dat hy nie naby wou kom nie. Jaco moes maar alles alleen doen. Met flits in die een hand en ketel in die ander moes hy hom op ‘n band balanseer, die slang dophou en gooi met die kookwater. Die water was te min en gelukkig het ek nog ‘n pot opgesit. Jan het die slang met klippe gegooi, maar was so angstig dat hy amper vir Jaco raak gegooi het. Soos wat die slang na Jaco toe aangekom het, het hy die tweede pot water op hom gegooi. Dit het die slang styf gemaak en hulle kon toe sy kop vermorsel. Nee kyk, ek weet nie wat ek sonder hom sou doen nie, want so naby ‘n slang waag ek dit beslis nie. Ons was albei maar taamlik bewerig en verlig daarna.

Het ek nou al vir julle vertel watse verkeer stres ek in die oggend het? Waar julle nou vroeg more begin stres oor iemand wat sit en slaap as die robot groen is of ‘n taxi wat skielik voor jou inry en dit net om ‘n paar meter verder skielik voor jou te gaan stop, het die plaas ook maar sy eie verkeer stres. Deesdae gaan dit al so ‘n bietjie beter, maar kom ek vertel julle van my ergste oggend. In die oggend word ek wakker en die eerste ding wat ek hoor, is die gekloek van die hen en haar kuikens se gepiep. Hulle kom byna tot voor die kamerdeur en wag vir hulle kos. Basjan, wat voor die deur slaap, gee ook af en toe ‘n tjank in afwagting dat ons nou moet opstaan. Dan skemer die hane se gekraai in die hoenderhok deur. Hoe wakkerder ek word, hoe meer klink dit vir my of die hoenders mekaar gaan begin opvreet in die hok as ek nou nie gou genoeg daar kom om vir hulle oop te maak en kos te gee nie. Eers moet Basjan sy kos kry sodat hy darem vir ‘n paar minute onder my voete uit is. Dan gee ek gou die hen en kuikens kos, maar voor hulle dit kan opeet is Basjan daar om te help. Ja… hy en Kiddo verbeel hulle mos hulle is hoenders en eet net so hard saam aan die mieliepitte.

Dit gee omtrent ‘n geroeiery af om net die honde weg te hou. Verder is Basjan mos nou uitgerus en uitgehonger vir aandag. Hy spring heeltyd teen my op en byt net waar hy ‘n plek kry – ‘n paar kledingstukke het al gesneuwel. Naderhand gee ek maar op en beweeg aan waenhuis toe om die ander hoenders se kos te kry. Voor ek nog by die deur kan kom, laat die ganse my mooi verstaan hulle is ook honger. Hulle maak ‘n vreeslike geraas en kom aangevlieg (as jy dit vlieg kan noem). Goed, ek gee dan maar eers die ganse kos. Intussen het Ounooi bewus geword van die beweging op die plaas en kom al blêr-blêr nader. Sy het ‘n lang nag agter die rug en sterf van die dors. Maar sy is tevrede om eers te ’settle’ vir die ganse se mielies. Nou moet die ganse met die skaap en die honde kompeteer om by hul kos uit te kom. Blikkie en Bruno geniet die koel oggend en het sommer nuwe lewenslus. Hulle hardloop en speel so met mekaar dat hul sommer in jou vas hol as jy nie kyk nie.

Uiteindlik is my emmertjie vol en kan ek aanbeweeg na die hoenderhok. Basjan is gou uitgeëet aan die mielies en kom met ‘n spoed agterna gehol. As ek gou genoeg is kan ek die hekkie toe maak voor Ounooi ook wil agterna. Ek het skaars die hoenderhok oop of Basjan is binne en die hoenders laat hoor hul ontevredenheid. Party van hulle skiet soos ‘n pyl uit ‘n boog by die deur uit. Ander is haastig besig om kos van die vloer af op te pik en ‘n paar verskriktes wag op die stellasie totdat daar eers ‘n rustigheid neerdaal. Dis juis so vroegoggend (en namiddag) wat die hane nie die henne kan uitlos nie. Eers jaag die hoenders mekaar (of om by die kos uit te kom of omdat hulle hond-se-gedagtes het) en dan jaag Basjan weer die hoenders. Teen daai tyd is my keel al droog geraas, maar niemand wil luister nie.

Nou weer terug waenhuis toe om die emmer te gaan bêre. Oppad soontoe trap ek eers in ‘n doring wat dwarsdeur my plakkie steek. Ouch! Dan koeler toe om Ounooi se melk te kry (as daar nog is). Teen die tyd is sy al so angstig vir haar melk. Sy trap op my toon, stamp die bottel met haar kop en is so vervaard dat sy sommer my vinger gryp in plaas van die bottel se tiet. Dis nou net die laaste strooi. Ek is skaars ‘n halfuur wakker en is klaar vuil en sommer omgekrap omdat niemand na my wil luister nie.

Ek storm in huistoe en gaan soek daai eerste koppie koffie. Terwyl die koffie trek, kom ek agter Kiddo is weg (sy is mos orals waar ek is). Nou eers weer terug waenhuis toe. Ja-nee… vir die soveelste keer is sy daar toegemaak. Terug in die kombuis is daardie eerste sluk koffie hemels. Ek kan nie anders as om net te sug… en dan te glimlag oor die diere en hul streke nie. Al voel dit soms of ek ‘n aar gaan bars, kan ek nooit vir hulle kwaad bly nie. Hulle is dan nou ons lewe. So volgende keer as jy jou humeur wil verloor in die verkeer… dink aan die plaasverkeer.

Nou moet ek eers groet. Laat dit goed gaan tot ‘n volgende keer.

Reptielgroete

Anoessssssjka

12 Januarie 2009, Maandag

2009 Maart 22
by anoesjka

Hallo

Ek hoop dit gaan goed en dat julle almal ‘n lekker Kersfees en Oujaar gehad het. Ek kan skaars glo dat Januarie alweer amper in die helfte is. Mag 2009 net voorspoedig wees!

Met my en Jaco gaan dit nog goed – kan julle glo ons is vandag al 13 jaar lank gekys ;-) Ons het Kersfees en Nuwe Jaar op die plaas deurgebring saam met familie. Anders as laasjaar, het ons nie hierdie Kersdag reën gekry nie, maar dit was gelukkig koeler as die ander dae. Dit is deesdae omtrent nooit onder 30 grade nie en vir die res van die week voorspel hulle net 34 en 35. Ons reën is nog baie skaars, maar ons bly vol vertroue. Behalwe vir gister, het ons nog geen reën gekry sedert my vorige e-pos nie.

Gister het ons ‘n storm gehad. Dit is ongelooflik om te kan sien hoe die weer na ‘n mens toe aankom. Eers het daar net ‘n donker bank weer gelê in Vosburg se rigting en ons kon die gerammel van die weer hoor. ‘n Rukkie later was daar ‘n bruin wolk op die horison en ons het geweet hier is nou ‘n sterk wind oppad. Jaco het die windpompe naby die huis gaan vasdraai. Petoorskop (die spitskop wat op baie van my windpomp fotos in die agtergrond is) was potblou soos ons hom nog nooit gesien het nie. Ek het in gehardloop om my kamera te gaan kry en toe ek buite kom was die kop weg! Kort daarna was die storm by ons. Die wind was vreeslik sterk, maar wonder bo wonder het ons nie enige skade gehad nie. Daar het net twee groot takke naby die hoenderhok afgewaai. Ander was egter nie so gelukkig nie. Na gister se storm het ons swaelkuiken nog nie weer huis toe gekom nie. Net ‘n paar dae gelede het een van die ouers ook verdwyn. So nou is daar net een ou swaeltjie oor uit die gesinnetjie van 4. Ek voel skoon hartseer daaroor, want hulle het so ‘n kort rukkie gehad om gelukkig saam te wees. Nou moet die enetjie alweer die winter alleen ingaan. Verder sit die hele Vosburg ook sonder krag. Bome is ontwortel en het op die kragdrade geval. Dit gaan glo 4 weke neem vir hulle om die dorp se kragtoevoer reg te maak. Nadat ek dit gehoor het, kan ons net sê dankie Vader dat ons so lig daarvan afgekom het.

Ek het julle laas vertel van die Rooihen se 3 kuikens wat uitgebroei het – twee swartes en een gele. Intussen is een van die swartetjies oorlede. Na ‘n paar dae het hy net skielik siek geword – dink sy magie was nie lekker nie – en hy wou ook nie verder eet nie. Ek het hom ingebring en warm gehou in ‘n lap tot hy eindelik opgehou het met asemhaal. Net daarna het die geletjie ook opgehou met eet. Kort-kort het sy ma vir hom weggeloop en dan staan hy heel verlate. Ek kom toe agter dat die outjie skielik blind is. Ek het hom in my een hand gevat en in die ander vir hom kos tot by sy snawel gebring en daar eet hy toe. Ons het nie die hart gehad om ‘n einde aan sy lewe te maak nie, so nou voer ek hom so 4 keer op ‘n dag. Verder loop hy al agter sy ma se gekloek aan. Gelukkig is daar niks fout met sy gehoor nie. Weet nie werklik wat van hom gaan word as sy ma hom eers los nie, maar ek probeer om maar nie nou al daaraan te dink nie. Die ander swart kuikentjie het ook vir so twee dae opgehou met eet, maar hy het wonderbaarlik reggekom. Weet nie wat dit met die kuikens was nie, maar ons het wel in ‘n boek gelees dat dit nie nou ‘n goeie tyd is vir hoenders om te broei nie agv die hitte. Een van ons 4 jong hennetjies het ook nou haar eerste kroos van twee piepklein kuikentjies.

O wag, so van hoenders gepraat. Nou een oggend terwyl ek buite besig was om die hen en kuikens kos te gee, hoor ek ewe skielik ‘n skril geluid wat ek nog nie voorheen gehoor het nie. Die hoenders het vir ‘n paar sekondes gevries – asof selfs hulle weet dat daardie geluid gevaar inhou. Bo in die boom sien ek toe ‘n valk en volgens my boek is dit ‘n Bleeksingvalk. Dit is so lekker om die voëls deur ‘n verkyker van naderby te bekyk.

Waar ons nou laas jaar hordes muskiete en motte gehad het, is hier nou hierdie jaar weer baie bye. Dit gons behoorlik al van vroegoggend af op ons voorstoep. Daar is ‘n rankplant met sulke oranje blomme aan en die bye en kewers is mal daaroor. Dis heuningbye, perdebye, rooibye, enige ding! Jaco is selfs nou die dag deur ‘n heuningby gesteek op sy pols. Sy pols was vir twee dae seer en opgeswel en sy hande en voete het vreeslik gejeuk.

Ons het ook weer ‘n tweede sarsie pynappelbier gemaak hier voor Kersfees, maar ons het dit effens te lank laat staan. Teen die tyd wat ons dit wou drink, het dit soos regte bier (met ‘n bittersmaak) geproe. Dit was nou glad nie vir my baie lekker nie, maar Jan het dit vreeslik geniet. Sy mond was sommer lekker los na ‘n paar glasies. Dit gaan mos nie oor hoe hy proe nie, maar oor hoe hy maak.

Op 26 Desember het ons ‘n nuwe baba gekry… Basjan. Hy is ‘n skaaphond wat op daardie stadium 6 weke oud was. Hy is nou een bedrywige outjie. Alles moet gekou en gebyt word. Moes nou die dag my selfoon charger in stukke optel. Ons is maar nog dom met die opleiding van honde, maar ons gaan ons bes probeer met Basjan. Hy jaag al klaar die twee hanslammers rond as ons saans met hulle gaan stap. Verder jaag hy die hoenders ook rond, maar die henne met die kuikens laat hom gou verstaan wie is baas. Ek moet sê hy groei nogals vinnig – is al klaar weer groter as twee weke gelede.

Met die ander diere gaan dit nog goed. Een van die beeste (Ousus) het vir ‘n paar dae lank ‘n baie seer voet gehad en het baie swaar geloop, maar sy is nou weer gesond. Ounooi en Kobusina raak ook net al hoe groter en vetter. Hulle is nou uitgelaat uit hulle klein hokkie uit en wei nou in die klein fonteinkampie langs die huis. Alhoewel, hulle loop meestal net teen die draad af vanwaar hulle ons nog steeds kan hoor en sien. Natuurlik is die melk seker die ware aantrekkingskrag na ons.

My skoonsuster se twee kinders kuier ook vir die afgelope twee weke al by ons. Hoewel dit nogal ‘n uitputtende taak is om skielik twee bondels energie in die huis te hê, maak hulle ook ons lewe bietjie interessanter.

Hier is so ‘n paar sêgoedjies: The Little Mermaid is eintlik Little Marmite; ‘n Oogpister is ‘n Pie-ooger; Old McDonald had a farm is OpsitDonalds had a farm; doring is doonger en so is daar nog vele meer. Dankie tog vir Nils Holgerson wat my uithelp as ek net ‘n rukkie van stilte soek :-) Verder geniet hulle dit om al die diere kos te gee.

Nou ja, ek moet seker eers groet sodat ek agter die kospotte kan kom.

Lekker dag verder!

Stormgroete

Anoesjka