Skip to content

Ons troue

Maart 2008

More!

Gaan goed dankie :-)  Is net lekker onplesierig buite vandag – koud en die wind waai en dit mag dalk later reën. Ha ha, die bruid was laat ja… sommer baie laat… eintlik weet ek glad nie eens hoe laat nie.

Die bruid!

Die bruid!

Dis wat alles gebeur het…

Toe ons die Vrydagmiddag daar aankom, was die krag afgeslaan deur die weerlig (dit het omtrent gereën). My suster moes nog vir my Gel naels opsit, maar kon nie begin voor die krag nie aangaan nie. Dit het wel later aan gekom, maar dit het toe baie later geword as wat ek beplan het om in die bed te kom (dink dit was so half 12 se kant). Jaco, aan die ander kant, het eers hier by vyfuur gaan slaap. Eenuur die oggend toe kom klop hy my wakker – toe’s ek glad nie happy nie. Hy wou net kom kyk waar ek is. Ek sukkel toe om weer aan die slaap te raak en twee-uur toe’s hy weer daar. Hy was seker bang ek hol weg in die nag.

Die volgende oggend, net nadat ek lekker gebad het, het my suster vir my ‘n bottel sjampanje gebring. Dit moes ek glo gekry het voor ek gaan bad het, maar toe was ek te vroeg vir hulle.  Ek het toe maar my glasie gedrink en die res ontbyttafel toe geneem en met die ander mense daar gedeel. O ja, ek het mos toe ook my hele ‘vanity case’ by die huis vergeet!  Kan jy glo?!  Ek moes alles wat ek toe nodig het, leen by iemand. Die kroegman het vir my ‘n tandeborsel en tandepaste gegee. Ek het nie eens ‘n waslap gehad nie.

Dinge het maar dol gegaan die Saterdagoggend. Voor ek my oë kon uitvee, was dit tyd vir my om reg te gaan maak. Daar was baie reëlings wat verander het. Die hele troue (diens & onthaal) sou buite gewees het, maar toe reën dit mos. Al die beplanning moes toe verander na binne. Daar is ‘n klein kerkie op die plaas (waarin ek eintlik oorspronklik wou trou, voor ons op buite besluit het) wat die mense toe gou vir ons begin regkry het. 

Die kerkie

Die kerkie

Ek was eintlik heel rustig oor alles. Die ander mense het meer as ek gestres. Ek het nie eens geweet hoe my tafels gaan lyk nie. Verder… terwyl die haarkapper besig was om my hare in te draai met warm krullers, slaan die weerlig weer die krag af. Dit was seker vir twee ure af. My hare het op die einde van die dag baie mooi gelyk, maar dit het nie lank gehou nie omdat die krullers nie hitte gekry het nie. Die fotograaf het al opgedaag toe sukkel ons nog steeds met my hare en make-up. 

Ek stres nie!

Ek stres nie!

As gevolg van die weer, het ons toe besluit om maar eerder eers die foto’s te neem en dan te trou. Met die wolke in die lug het dit gou donker geword en terwyl dit nie gereën het nie, moes ons maar die gaping vat om die foto’s te neem.

anoesjka-jaco

my-hele-gevolg

ek-en-een-van-die-blommemeisies

Ook maar goed, want ons tydjie was van korte duur. Daar is dus nie baie foto’s nie :-( 

Daar is nog so baie wat ek wou gehad het, maar waarvoor daar nie tyd was nie. Baie spyt daaroor. Elk geval, na die fotonemery is ons toe kerk toe (baie later as wat oorspronklik beplan was).

Ek het op ‘n perdekar gery wat eintlik ‘n donkiekar moes wees. Die donkies het vasgereën agter die rivier en toe moes hulle perde op die buurplaas gaan kry. Kan jy nou glo ? Op pad kerk toe het die perdekar gebreek (net ‘n paar meter van die kerk af). O en dit was natuurlik heeltyd besig om fyn te reën so ek het nog nat gereën ook! Toe maak hulle dit eers gou reg met ‘n stuk draad en ons is weer vort.

My troukar

My troukar

Trou is nie perde koop nie!

Trou is nie perde koop nie!

By die kerk was nie eers een van my susters naby om darem net weer vir my bietjie lipstiffie aan te sit nie en so sien ek toe ook nie my rok se sleep is nog opgebind (wat eintlik moes af wees) nie. Natuurlik was my rok al vol modder ook!

Die kerkie het baie mooi gelyk binne – klomp kerse voor gehad. So ‘cozy’ en romanties. Almal kon net-net inpas. Die ergste vir my was die instap in die kerk… ek kon nie help om hartseer te voel oor my pa my nie kon inbring nie. Ek was maar dankbaar dat my oom aangebied het om dit te doen, want ek weet nie of ek dit alleen sou kon doen nie. Ek het ‘n viool en cello gehad wat vir ons die troumars gespeel het. Dit was so mooi gewees. Ons het twee pastore gehad, een wat die boodskap gegee het en een wat die wettige deel hanteer het. Hulle het hul baie goed van hul taak gekwyt en almal het gepraat van die mooi boodskap.

Hulle het die troumars gespeel

Hulle het die troumars gespeel

Nadat ons vir mekaar die ringe gegee het, wou ons Juanita se liedjie “Ons belofte aan mekaar” speel, maar toe haak die CD die heeltyd vas. Ek het toe maar vir iemand beduie om dit net te stop anders het dit seker nou nog gespeel. As iemand maar nou net ‘n bietjie verder kon dink, kon hulle maar net die CD uitgehaal en bietjie afgevee het, dan sou dit weer werk.  Dit het vol stof geraak met die dat die mense nog gewerskaf het om die kerk skoon te kry. Is nogal teleurgesteld daaroor. Wat wel baie mooi was, was om te hoor hoe een van die perde runnik tydens die diens. 

Teen die tyd wat die diens klaar was, was dit al pik donker buite en het dit nog steeds fyn gereën. Ons het besluit dat dit maar beter sal wees om die konfetti (roosblare) in die saal te gooi. Hulle het wel vir ons bubbles geblaas binne die kerk. Dit het so stunning gelyk – die hele kerkie was omtrent vol bubbles. 

Getroud!

Getroud!

Die seël op ons troue

Die seël op ons troue

Bubbles, bubbles, bubbles!

Bubbles, bubbles, bubbles!

Van die kerk af het ek en Jaco saam op die perdekar gery tot by die saal.

sjampanje

Waar is die troukar?!

Waar is die troukar?!

Ons het toe eers twee broodtafels en Jeripico gehad voor ons na die saal gegaan het. Was baie nice. Dit was buite op ‘n groot onderdak stoep en die viool en tjello het vir ons gespeel.

Melton Wold

Melton Wold

Toe ons by die saal inkom het almal ons met (nat!) roosblare gegooi. Die kos was heerlik! Vrugte-sosatie, koue komkommersop, gebakte vis met tartaarse sous, skaapboud, wildspastei, rys, gebakte aartappels, groenteskottel, swartwoudtrifle en tuisgemaakte roomys. Net jammer ek en Jaco kon nie veel eet nie. My rok was te styf en verder was dit seker maar die senuwees en stres. Ek was eintlik vreeslik moeg! Jaco se toespraak het heel goed afgeloop. Hy’t nou wel van ‘n paar goed vergeet, maar dit was nie die ergste nie.  Shame, hy’t so gestres oor die pratery.

Die dansbaanopening het nou ook nie so goed afgeloop soos ek gehoop het nie. Ons het ‘n orkes gehad wat vir ons gespeel het. Oorspronklik wou ek hê ons moet ‘n CD speel vir die opening, maar toe bied die orkes aan dat hulle ook die liedjie kan speel en dat hulle dit graag vir ons doen. Maar toe klink dit nou nie heeltemal dieselfde as die oorspronklike ene nie. Ai tog. Dit het darem later bekend begin klink. Als het eintlik goed gegaan, behalwe vir die kere wat ek my rok vasgetrap het of oor ‘n roosblaar wou gly. 

Kareeberg orkes

Kareeberg orkes

O ja, die openingsliedjie was Theuns Jordaan se “Soos Bloed”. Dis nog ‘n lang storie hoe ons nou by daai liedjie uitgekom het…

***

Ek wou bitter graag gehad het ons moes die baan open op ‘n liedjie van Anastacia en kan nie nou die man se naam onthou nie. Maar dit het glad nie gewerk nie. Jaco het gelyk of hy enige oomblik aan die slaap gaan val of iets. Toe besluit ons op Juanita se ‘Flying on the wings of tenderness’, maar die dag wat ons die liedjie wou oefen (nadat ons spesiaal die CD gaan koop het) toe sit die CD in die bakkie se CD-player vas. Ons het als probeer, maar dit wou nie uitkom nie. So toe besluit ons op Theuns Jordaan se Soos Bloed. :lol:

***

Die res van die aand is so vinnig verby. Almal was moeg. Ek het nog my ruiker gegooi (Christoff se metgesel het dit gevang) en Jaco my kousband (dit was so mooi – ek gaan vir my nog ene laat maak om te hou) Andre het dit gevang. En ons het later die koek (3-laag griekse chocolate mousse koek) gesny. Die orkes het twaaluur opgepak en ons het eers halftwee in die bed gekom. Die volgende oggend moes ons alweer vroeg op, want ontbyt was van agt tot nege.

Melton Wold

Melton Wold

Vir my was alles van my troue baie nice – anders as gewoonlik. Almal het dit geniet en lekker saam gekuier. Melton Wold is ‘n stunning plek en ek sal graag weer soontoe wil gaan. Hulle kos was ook heerlik. Dis die ideale plek om as ‘n klomp familie en / of vriende bymekaar te kom. Van die gaste het gesê oor ‘n jaar kom ons weer daar bymekaar vir die doop – ha ha.  Dink hulle sal maar nog ‘n paar jaar moet wag.

melton-wold_3

melton-wold_4

Sjoe, ek tik nou al heeldag aan hierdie mail so tussendeur my werk.  Jaco is by die kraal besig om skaap te werk.  Shame, dis baie koud buite en dit het al fyn begin reën ook.  Ons het vandag darem die koolstoof aangesteek (ek moet nog piesangbrood bak as ek klaar gewerk het) so ons sal darem lekker warm water hê vanaand om mee te bad.  Die naweek moet ek miskien alleen hier bly.  Jaco gaan saam met familie van hom op ‘n motorfiets trip (net vir manne, pa’s en seuns).  Hulle gaan teen die Hantamberge ry. Ek kan seker saam gaan en by sy tannie gaan kuier, maar ek wil nie weer die diere alleen los nie.  Hulle was nou te veel alleen die laaste tyd.  Weet nie of ek werklik sal hou van alleen hier bly nie, maar as ek nie ‘n keuse het nie, moet ek maar. 

My suster (van die Kaap) het gesê hulle kan miskien kom kuier, maar dis ook maar nog net ‘n miskien.  So ons sal maar sien…

3 Kommentaar leave one →
  1. Chantell Pedersen permalink
    April 20, 2009 12:45 nm

    Ek kan ook so goed onthou ons het niks geëet by ons onthaal nie, ek en Jacques het later roomservice by ons hotel gebel om vir ons hamburgers en chips kamer toe te bring! ha ha! Ek dink ook dit was agv die stress dat ons nie geëet het nie, en ook dat daar net die hele tyd mense was wat ons wou gelukwens en net foto’s wil neem. Julle foto’s is pragtig al sê jy het julle nie baie nie, ten minste het julle mooi foto’s!
    Ek sien vir Joshua op die foto van die bubbles in die kerk, ag sweet dis te oulik.
    Ons was seker die enigstes wat hul kinders saamgebring het, maar hulle het werklik die troue baie geniet. Ons het ook laat in die bed gekom, omdat ons nog moes terugry Beaufort Wes toe, maar dit was als die moeite werd. Ek beaam, die troue was stunning, so lekker intiem, die boodskap was so mooi, en die kerkie het lekker atmosfeer gehad, die kos was lekker en als het so nice gelyk, mens nou nooit dink jy het soveel hickups gehad nie, dit was goed weggesteek! ha ha!
    Ja, die eerste jaar is ook nou al verby. (en die doop ook nie gedoen! LOL!).

  2. Anthea permalink
    Junie 9, 2009 8:40 nm

    Hallo Anoesjka

    Ja-nee, die tyd het gevlieg. Jul troudag voel soos gister. Soos jy sê: niks was perfek nie, maar alles was volmaak. Vir my het dit glad nie uitgerek gevoel nie. Dit was die lekkerste troue waar ek nog was. Ons het gesels en gekuier en ontspan. Niemand was bekommerd oor iemand wat dalk moes bestuur na die tyd nie. Dit was lekker om nou weer deur alles te lees en te onthou.

    Ek sien die paadjies op die gasteplaas in my geestesoog. Ek en André het mos ‘n dag langer gebly. Geen gaste nie, slegs ons. Ons het die Sondagmiddag so in die reën rondgery, een keer amper vasgesit. Toe ons terugkom, het ons gaan stap en diere tussen die bosse langs die paadjie gesien. En al was ons alleen, is ons in styl op ‘n heerlike aandete getrakteer. Na aandete het ons op die stoep ontspan en is amper uit die gastehuis uitgesluit. Ek het net gehoor hoe iemand die deur grendel, dadelik opgespring en laat weet: ons is nog hier buite!
    Ons het nog laataand buite op die bankie gesit en na die helder sterre gekyk en net gedink dat dit ‘n wonderlike plek is om jou batterye te herlaai. Daar is geen selfoonontvangs nie, so jy kom nie in die versoeking om besig te raak nie, jy moet ontspan.

    Toe ons later binne toe is, kon ons koffie maak en koekies eet in die sitkamer. Dit was salig om net te ontspan.

    Ons het die gasvrou ingelig dat ons vroeg die Maandagoggend sou vertrek en dus nie ontbyt sou eet nie. Sy het aangebied om ontbyt ‘n halfuur vroeër te bedien. Dit was nou uitstekende diens. Met ‘n vol magie sien mens kans vir die pad.

    Ons dreig ook om terug te gaan: net om weer die atmosfeer te geniet en af te skakel. Dalk moet mens net ‘n datum vasmaak, vir almal laat weet en die wat kan vat die pad. Dan kuier ons weer lekker saam.

    “emories are made of this…”

  3. Junie 11, 2009 10:29 vm

    Nou verlang ek ook sommer terug na daardie naweek… Dit is regtig ‘n baie lekker plek en soos jy sê die kos is uit die boeke uit. Ja, ons moet beslis weer ‘n kuier daar hou. Sal maar moet wag vir die baba se doop :-) Sal dit graag in daardie kerkie wil doen.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

%d bloggers like this: