Skip to content

18 Januarie 2011

Maart 9, 2011

Dagsê!

Sjoe, ek het lank laas met julle gepraat!  Hoop dit gaan nog goed met almal.  Mag 2011 ‘n wonderlike jaar vir elkeen van julle wees!

Eerstens moet ek sê hoe geseënd ons was die afgelope tyd met goeie reën.  Dit het letterlik die ou jaar uit en die nuwe jaar in gereën.  Die veld is pragtig groen en al die gronddamme staan vol water.  Die veld is vol lewe.  Saans as die wind gaan lê het na die reën, kan jy hoor hoe sing die natuur van dankbaarheid… krieke, paddas, ganse wat in die water baljaar, die gekwetter van voëls van alle soorte, ‘n lam wat blêr opsoek na sy ma wat ‘n ent verder wei en in die verte hoor jy nog die gerammel van donderweer soos dit aanbeweeg om ook vir iemand anders die vreugde van reën te bring.

Dit gaan goed met al ons dierekinders.  Muis (die muisvoël) het intussen in ‘n groter hok ingetrek en is steeds die oulikste voëltjie wat daar is.  Die ander muisvoëls kom kuier gereeld vir hom.  Soms wonder ek of ek hom nie maar eerder moet vrylaat nie.  Wat kan dan nou lekkerder wees as om vry te wees en te vlieg saam met die ander.  Ek probeer myself oortuig dat hy nie daar buite sal oorleef nie, maar ek glo hy sal.  Die ander muisvoëls sal hom help – hulle is familievoëls.  As daar ‘n mamma is met kuikens dan sal die ander mammas ook help om die kuikens kos te gee en te beskerm al is dit nie eens hul eie kuikens nie.  O wag… so van mammas gepraat… Muis is ‘n vroutjie.  Sy het sowaar nou die dag ‘n eiertjie in haar hok gelê, maar dit het gebreek.

Met al die honde (Blikkie, Bruno, Basjan, Tiekie en Kiddo) gaan dit ook nog goed.  Ek het netnou so gelag… Jaco’le het gaan skaapwerk vanoggend en het met ‘n vrag lammers op die bakkie terug gekom.  Basjan was ook saam en daar was toe nie plek vir hom agter tussen die skaap nie.  Hy sit toe ewe groot meneer voor in die bakkie – kierts regop en kyk by die venster uit.  Ek is baie lief vir jou Bassie, maar ai… hy kan my soms vreeslik kwaad maak.  Hy wil net als jaag wat beweeg.  Ek het so ‘n tyd gelede met die honde gaan stap na een van die gronddamme.  Daar is sulke lieflike koelte bome.  Toe ek weer sien het Basjan al halfpad in een van die bome opgeklim.  Dit het my ‘n tydjie gevat om uit te vind waar agter hy is.  Net te laat sien ek toe die dassie.  Die arme das het uit die boom gespring (fout wat hy gemaak het, want onder die boom het nog honde vir hom gewag).  Teen daai tyd was daar geen keer meer nie.  Ek het gegil, geskreeu en geslaan, maar tevergeefs.  Binne minute was alles verby :-(  . 

Kiddo was ‘n bietjie siek gewees.  Sy’t maagpyn gehad en daar was ook bloed in haar ‘poop’.  Sy was al voorheen by die veearts vir soortgelyke simptome.  Kry dan antibiotika en dit gaan beter, maar kort voor lank dan is dit weer dieselfde storie.  Die dag sien ek toe maar sy is baie ongemaklik.  Bel toe die veearts om te hoor of ek haar nie gou kan inbring nie.  Maar soos dit mos nou altyd in ‘n noodgeval uitwerk, was die veearts nie beskikbaar nie.  Toe kos dit ons deur ry Colesberg toe.  Die veearts daar het toe ‘n ‘poop’ monster geneem en weggestuur vir toetse.  Hul kon egter nie ‘n teken van enige kiem of ding kry nie.  Twee weke van medikasie en toe is sy weer beter.  Sy is nou op ‘n spesiale dieet (Hills) vir spysverteringsprobleme.  Enigste probleem is dat sy nie hou van die droë kos nie, sy soek vleis.  Al wanneer sy dit wel eet is wanneer ek met haar speel en vir haar die kos een vir een gooi.  Dit gaan darem nou beter, maar die magie is nog nie 100% reg nie.

Dis mos alweer somer en dit beteken tyd vir slange.  Elke seisoen kry ons minstens een pofadder en kobra.  Die slag was dit eerste die Kobra.  Jan het hom raakgesien terwyl hy sommer so tussen die honde deur seil op pad blomtuin toe.  Daar het Jaco en Jan hom gelukkig in die hande gekry voor hy onder ‘n plant kon verdwyn.  Dit het eintlik sulke klap geluide gemaak soos wat hy teen die graaf pik.  Dis maar altyd baie senutergend.  Die ander dag was ek weer alleen hier by die huis – Jaco’le was veld toe.  Ek het net terug gekom huis toe nadat ek die hoenders kos gegee het.  Die voete-afvee-matjie het so skuins teen die stoep gelê (sit hom gewoonlik so wanneer die stoep afgevee word).  My skoene was modderig en ek het net die matjie opgetel om op sy plek te sit sodat ek my voete kon afvee, toe ek die pofadder onder die matjie sien lê.  Voor jy nog kon sê ‘slang’ het ek die matjie gelos en ‘n ent weggespring.  Ek het myself lam geskrik!  Al die honde was buite en ek was verbaas dat een van hulle hom nie eerste ontdek het nie.  Dadelik het ek al die honde gaan toemaak.  Opsie 1… maak die slang self dood.  Opsie 2… gaan soek vir Jaco.  Die slang het nie gelyk of hy enige planne het om êrens heen te gaan nie, so ek het vir opsie 2 gegaan.  Ek het geroep, geskreeu, die klok gelui, die hoeter gedruk, maar geen mens het te voorskyn gekom.  Ek ry toe maar na Jan se huis toe om te gaan hoor of Petro nie weet waar hul is nie.  Sy, toe nog baie braaf, het gereken sy sal my kom help – die manne was veld toe om een van die beeste te gaan soek.  Ons is toe terug huis toe.  Slang het nog net daar op dieselfde plek gelê.  Ek het kookwater gaan opsit en die grootste klippe wat ek kon kry aangedra.  Petro, wat eens baie braaf was, was nou amper te bang net om vir die slang te kyk.  Na ‘n paar minute was ons gereed… kookwater, klippe en gaffel.  Dit behoort die ding te doen.  Nou kort ons nog net die moed.  Toe hoor ons stemme.  Jaco’le was naby die huis.  Petro het gehardloop om hul te gaan roep terwyl ek die slang op pas.  Hulle het toe vinnig ‘n plan gemaak met die slang.  Shame, ek het hom eintlik jammer gekry, maar nou ja… ons kan hom nie hier by die huis toelaat nie.

 

9 Maart 2011

Gister was my en Jaco se troudag herdenking.  Drie jaar is alweer verby sedert daardie onvergeetlike dag in ons lewens.

Ons ganse het dit uiteindelik laas jaar reg gekry om te broei.  Oftewel, hul het nog elke keer probeer broei, maar die honde het al die eiers opgeëet.  Laas jaar het daar darem een eier oorleef en boonop het hy nog uitgebroei ook.  So ‘n ganskuiken is darem net die oulikste ding en hy maak ook die oulikste geluidjies.  Hy het sommer drie ma’s en ‘n pa gehad en hulle het hom soos goud opgepas.  Nou is hy al uitgegroei… nog ‘n wit gans.

Die hoenders is nog net so vrugbaar soos altyd.  Een van die dae sal ons weer ‘n slagdag moet hou, want hulle raak nou net te veel.

Verder het ons in laas jaar vyf hanslammers gehad (Bontbok, Linge – ‘n tweeling, Tjoppie en Blits).  Hulle het vir baie vermaak gesorg.  Een van die tweeling was ‘n regte kop-stamper.  Ek was amper te bang om uit die huis te gaan as hy naby is.  Hy’t gehou daarvan om mens te jaag en met sy kop (met horingkies) te stamp.  Ek het maar omkyk-omkyk geloop as hy naby was.  Almal van hulle is nou reeds gespeen en party is ook nie meer met ons nie…

Twee van ons koeie het vroeg in die jaar weer gekalf.  Een van die kalfies se naam is Nr 10 en die ander enetjie is naamloos.  Ek wil maar nie te betrokke raak by hulle nie want ek weet hul gaan nie vir altyd daar kan wees nie.

Het ek jul al vertel van ons enigste Tarentaal?  Elke oggend en aand as ek die hoenders kosgee dan is hy (of eintlik sy) ook hier.  Sy was vir maande maar eensaam en het gereeld geroep vir ander tarentale.  Toe na die reën het hier nog drie aangekom.  Hulle is baie wild en kom nie naby ons nie.  Daarna het ons tarentaal ook net begin wegbly.  Ons was eers bekommerd dat sy dalk weg is saam met die ander, maar toe op ‘n dag hoor ons hulle weer.  Die veld het seker nou genoeg kos vir hulle sodat hul nie hoef huis toe te kom nie.  In laas week toe sien ons hul weer en nou is daar kleintjies by.  Ek hoop nou net dat hulle almal hier gaan bly.

In Desember was ons vir ‘n week in die Kaap gewees.  Het bietjie tyd saam met die familie gespandeer.  My sussie se baba (Kara) is in Oktober gebore en ek kon nie wag om haar te ontmoet nie.  Sy is te kostelik!  ‘n Regte poppie.  My ma het ook deur ‘n moeilike tyd gegaan – wat haar gesondheid aanbetref.  Dit gaan egter baie goed met haar en ons glo en vertrou dat sy volkome gaan herstel.  Ons het ook ‘n swaer by gekry toe my jongste sussie September maand getrou het.

Ons het ook nie leë hande uit die Kaap uit teruggekom nie.  My swaer het vir ons twee hasies gekry… Snoekie en Bugs.  Hulle was nou te oulik vir woorde.  Dit was die eerste keer dat ek met hase te doen gekry het.  Ek het eintlik nie geweet hulle kan so oulik wees nie.  Hul hou egter nie baie daarvan om opgetel te word nie.  Hulle kan glo geleer word (sit, staan, etc) maar ek het dit nog nie reggekry nie.  Hulle speel graag met leë toiletrolletjies – tel dit op en gooi dit neer.  ‘n Baie interressante feit is dat hul glad nie ‘n windjie kan los nie… nie boontoe of ondertoe nie.  Daarom mag hul nie goed eet wat vir hulle gas kan gee nie.  Hulle is ook baie breekbaar en kan maklik hul rug breek deur te veel te skop en spartel.  So hul moet net reg opgetel en vasgehou word.  Ons het nog nie ‘n permanente hok vir hul nie en het hul vir tyd en wyl eers in ons kuikenhok gesit in die blomtuin.  Hulle het egter begin grawe en elke nou en dan het hul hulself uitgegrawe.  Dit was glad nie ‘n maklike takie om hul weer terug te kry in die hok nie!  Verder het hul ook nie net in die blomtuin gebly nie.  Nee… hul het ‘n manier gevind om uit te kom en die veld in te hardloop.  Dan het dit nou eers ‘n vreeslike gesoek en gehardloop afgegee om hul weer gevang te kry.  Die honde moes ook op hok gehou word vir daardie tyd.  Tot op ‘n dag wat ons hul net nie weer in die hande kon kry nie.  Ons het eers die volgende dag vir Snoekie gevang gekry en het later die middag op Bugsie afgekom… dood langs die draad.  Ons vermoed sy het dalk teen die draad vasgehardloop.  Ek was so hartseer oor my hasie.  Sy was juis die makker enetjie.  Ek het mos vir hul ‘n halsband gekoop sodat hul bietjie uit die hok kan kom en sy was die enigste enetjie wat dit nog gedra het.  Nou is Snoekie alleen, maar gelukkig het sy nog nie weer haarself uit die hok gegrawe nie.  Jaco gaan binnekort vir haar ‘n ander hok bou.

Jaco was laas naweek saam met sy ma daar na Calvinia se omgewing.  Hulle het egter nie alleen terug gekom nie.  Agter op die bakkie was twee varke en drie bokke.  Die bokke loop nou nie hier naby die huis nie, maar die varke is sommer naby.  Hulle is te kostelik om dop te hou.  Vreeslik morsig, maar tog oulik.  Dit snork-snork net die heeltyd.  Het hulle nou vir jou ‘n keel opgesit toe hulle van die bakkie afgelaai is!  Sjoe!  Die hok waarin hul nou is is net eers tydelik, want dis eintlik ons hanslammerhok.  Jaco moet nog vir hul ook ‘n permanente hok bou.  Dis ‘n beer en ‘n sog, Fillipus en Fransina (soos gedoop deur Henro).  Die bokke het nog nie name nie.

Ag, daar het so baie dinge gebeur sedert ek laas geskryf het, ek kan helfte nie eens meer onthou nie.  Wou maar net vir jul laat weet dat ons darem nog lewe en dat dit goed gaan met ons op die plaas🙂

Mag jul ‘n lieflike dag verder hê!  Hoop om weer ‘n slag van julle ook te hoor!

Otterjasiegroete,

Anoesjka

13 Mei 2010, Donderdag

Januarie 25, 2011
More!
 
Ek vertrou dit gaan nog goed met julle almal.  Solank as wat ‘n mens jou gesondheid, familie en vriende het, kan dit mos nie anders as om goed te gaan nie.  Sien ek het amper 2 maande laas van my laat hoor.  Tyd vlieg darem ongelooflik vinnig.  Op die oomblik is ek baie besig by die werk.  Verder hou die plaaslewe ons ook taamlik besig. 
 
Ons het die laaste tyd heelwat teenspoed gehad.  Sedert die verandering van die seisoene het ons al heelwat ooie weens siektes verloor.  Op ‘n stadium was ons bang dat dit dalk die gevreesde slenkdalkoors kan wees, maar meeste aanduidings dui op goed soos geilsiek (wat maar gepaard gaan met die verandering van veld) en dan ook die eet van gifplante in die veld.  ‘n Mens kan dit voorkom deur die skape se drinkwater te behandel met Hypo, maar die probleem is dat daar steeds ‘n paar plekke in die veld is waar daar reënwaterpoele staan en dan drink die skaap eerder daar water as by die krippe.  Muggies en muskiete speel natuurlik ook ‘n rol en is ook vir verskeie siektes verantwoordelik.  Die winter is sterk op pad en sal dan al hierdie probleme oplos.  Darem een voordeel van die koue karoo winters.  Die winter het egter nie gou genoeg vir party gekom nie.  Seker so ‘n maand gelede het ek ‘n lam vreeslik hoor blêr hier naby die huis.  Ons het gaan kyk en afgekom op ‘n paar dae oue lammetjie wat by sy dooie ma staan en blêr, vreeslik honger.  Dis eintlik so ‘n hartseer toneeltjie.  ‘n Ent verder het ons op nog twee dooie ooie en hul lammers afgekom.  Vir hierdie twee lammers was ons egter te laat… Ons was darem bly oor die een wat ons kon red.  Haar naam is Bontbok.  Dit sukkel maar aan die begin om vir hul die bottel gewoond te maak, maar glo my, as hul dit eers gewoond is, dan los hul nie sommer nie.  Sy is al klaar lekker bederf.  Drink party dae amper 3 liter melk teenoor die 1.5 liter wat ons vir die vorige hanslammers gegee het.  Jaco en Jan het vir haar ‘n oulike hok gebou net langs die hoenderhok.  Dit het tot ‘n dak en die vloer is gelê van strooi.  Skape is nou maar eenmaal nie alleen diere nie.  Bedags wei sy hier op die werf rond (loop al agter Jaco aan) en snags dan slaap sy in haar hok.  Gister het Jan op nog ‘n dooie ooi afgekom en sy was die ma van ‘n tweeling.  Hulle is ‘n bietjie jonger as Bontbok.  Nou het ons drie hanslammers!  Die meeste wat ons nog op een slag gehad het.  Bontbok het darem nou ekstra geselskap snags in haar hok.  Die tweetjies is albei ramme… wat gaan beteken dat hulle mark toe sal moet gaan.  Op die oomblik is hul nog naamloos.  Met Ounooi gaan dit nog goed.  Sy is net verskriklik vet!  En boonop nog dragtig ook.  Sy kan amper nie loop sonder om te steun en kreun nie.  Ons is bekommerd dat sy dalk ‘n moeilike geboorte kan hê agv haar gewig, maar sal haar dophou.
 
Met die beeste en hul kalwers gaan dit goed.  Van hulle was ‘n bietjie siek, maar lyk darem of almal nou weer gesond is.  Jan’le het selfs sover gekom om die koeie te melk.  Saans het ons die kalfies op hok gehou sodat die koeie soggens genoeg melk kon hê en ook maklik na die kraal gelok kon word.  Hul was natuurlik ook met lekker ekstra kos bederf.  Die melkery het besonders goed afgeloop, veral as ons terug dink aan hoe wild die beeste eens op ‘n tyd was.  Ek het self vir die eerste keer in my lewe ‘n koei gemelk.  Om dit behoorlik te kan doen, lyk eintlik makliker as wat dit regtig is.  Die melkery is vir eers weer gestop aangesien die koeie se liggame maar ‘n taamlike knou kry met die wat hulle so baie melk verloor deur hul honger kalfies te voed.  Die beeste is baie beskermend teenoor hul kalfies.  Ek het een namiddag met die honde gaan stap en skoon vergeet van die kalfies wat op kraal staan en die beeste wat in die nabye omgewing is.  Om een of ander rede is ek vreeslik bang vir ‘n bees – veral as daar nie ‘n heining tussen ons is nie.  Om weer by die huis te kom, moes ek verby die kraal loop waar die kalfies was.  Net voor ek daar verby kon gaan, het die beskermende mamma koeie my en die honde gewaar.  Hul het onmiddellik gedink ons hou ‘n bedreiging in vir hul kalfies en het in ons rigting begin storm.  Kyk, ek was lank laas so benoud.  Net agter my was die omheinde Turksvyetuin, maar die draadomheining is laag genoeg vir die beeste om daaroor te spring as hulle sou wou.  Nietemin is ek soos blits oor die draad en tussen die turksvye in.  Omkyk, omkyk het ek ‘n ent terug geloop tot ek gedink het dis veilig genoeg om weer oor die draad te klim.  Daarvandaan kon ek na Jan se huis toe loop en het ek hom gevra om saam met my weer terug tot by die huis te loop.  Die beeste is hom immers meer gewoond as vir my.  Hoewel dit gelyk het of die beeste op my afstorm, het hul eintlik net gehardloop om tot by hul kalfies te kom (om hulle teen my te beskerm). 
 
Ons het ons bewerkte gemsbok van die slaghuis af terug gekry.  Dit maak regtig heerlike wors en patties.  Ons het ook ‘n hele klomp droëwors, biltong en chilli bytes gekry om nog te droog.  Die enigste probleem nou is, dat 90% van dit gesteel is.  Hulle het die afgelope 4 weke nou al 3 keer by die dorpshuis ingebreek en ons vrieskaste so te sê leeg gedra.  Een keer het hul selfs so ver gegaan om al die vrieskaste se kragproppe uit die muur te trek en het van die oorblywende goed vrot geraak.  Vier verdagtes (skuldiges) is nou al aangekeer wat op heter daad betrap was.  Die ergste van als is dat een van hulle in laas jaar op die plaas vir ons gewerk het en boonop familie is van Jan.  Dit wys jou nou maar net dat ‘n mens niemand meer kan vertrou in vandag se tyd nie.  Tydens die laaste inbraak het die buurman op die dorp stemme by ons huis gehoor.  Hy’t dadelik die polisie gebel en sommer self om gegaan na die huis toe.  Daar het hy toe twee aangekeer.  Een het hom met ‘n klip teen die oog gekap en weggekom.  Die ander een het hy vasgehou totdat die polisie gekom het.  Later die nag het hul die een wat weggekom het ook in die hande gekry.  Ek is regtig beïndruk met die buurman se optrede.  Dit gebeur nie meer dikwels vandag dat mense hul eie lewe in gevaar stel en dit om ander mense se lewens (nog minder besittings) te beskerm nie. 
 
Gaan goed met al die honde.  So ‘n paar weke gelede het Kiddo vir Tiekie beet gekry en Tiekie se arme ou rumatiekbeentjie raak gebyt.  Shame, het haar so jammer gekry… sy’t ‘n vreeslike keel opgesit en so met haar seer beentjie in die lug gestaan.  Kiddo het ‘n pak slae gekry en is in die badkamer toegemaak totdat sy afgekoel het.  Sy is ‘n vreeslike jaloerse hondjie en bang vir niks en niemand.  Tiekie se been was so vir ‘n dag of twee seer.  Kort daarna het Blikkie en Bruno mekaar weer gegryp (dit gebeur so af en toe).  Kiddo is dan soos ‘n opgewonde skeidsregtertjie al tussenin die twee.  Dit werk vreeslik op my senuwees, want ek is so bang hulle byt vir haar raak en dis toe ook net wat gebeur het (want luister is mos min).  Blikkie se tand het vir Kiddo reg bo-op haar kop gekap en die vel was heel oop.  Ek was sommer lus om haar nog ‘n pak ook daarby te gee.  Die aand het haar gesig begin swel en die volgende dag het dit net nog erger gelyk.  Op die Sondag moes ek toe die veearts lastig val… infeksie.  Gelukkig het ons die nodige medikasie gehad om vir haar in te gee en ‘n paar dae later was sy weer haar ou self… met ‘n knop op die kop.  Dit het darem ook intussen weggegaan.
 
Ou Grote (die bergskilpad) het vir ‘n paar dae by ons gekuier.  Dis my tannie se skilpad wat ons opgepas het terwyl sy met vakansie was.  Die eerste aand het hy ons sommer al groot laat skrik.  Ons het hom in die blomtuin toegemaak sodat hy nie kan wegloop nie, maar die aand kon ons hom net nêrens kry nie.  Na ‘n halfuur se gesoek het ons om eindelik goed versteek agter ‘n plant gekry.  Dit was ook nie die enigste skrik wat hy ons gegee het nie.  Hy’t ‘n manier gevind om uit die tuin te ontsnap en twee keer amper so weggeloop.  Die eerste keer het Jaco hom toevallig raak gesien voor hy die veld in kon verdwyn.  Die tweede keer het ek vir Basjan laat kom om hom te soek.  Hy het sommer reguit na hom toe gehardloop.  In daardie tyd wat hy hier gekuier het, het ons self ook ‘n bergskilpad in die veld gekry.  Jaco het hom ook hier in ons tuin kom sit, maar ‘n paar dae later het hy ook weggeloop.  Eintlik maar beter so, want hy het my plante te veel geniet.
 
Blêr, blêr, blêr…. ou Bontbok en haar maters is vreeslik dors en het nou eers melk nodig.
 
Hoop julle het ‘n wonderlike Vrydag en naweek!!
 
Skilpadgroete,
Anoesjka
  
 

16 Maart 2010, Dinsdag

Januarie 25, 2011
Naand sê!
 
Hoop dit gaan goed met julle.  Hier is nie klagtes nie.  Ons het so twee weke gelede wonderlike reën (en hael) gehad twee dae na mekaar (22mm & 21mm).  Die sloot het afgekom met water soveel so dat dit geklink het of hier ‘n rivier verby die huis loop.  Ek en Jaco is in die donker en modder uit die aand met ons flitse om na dit te gaan kyk.  Die gronddamme (wat kurk droog was) was tot oorlopens toe vol.  Die veld het sommer nou mooi groen uitgegroei en is ‘n lus vir die oog.  Saam met die reën kom daar mos maar altyd peste en plae ook.  Die muskiete is nou weer volop en jy kan dit nie buite waag sonder Tabard nie – en selfs dan hou dit nie al die muskiete weg nie.  Daaroor wil ek egter nie te veel kla nie, want die reën is vir ons te kosbaar.  Die diere het nou wel ‘n harde tyd met die lastige muskiete, muggies en vlieë, maar kan nou weer lekker sappige weiding geniet.  Die water het ook heelwat watervoëls nader gelok.  Ons hoor en/of sien gereeld ganse, eende en kraanvoëls.  Hier was selfs nou die aand twee witooievaars.
 
Met muisvoëltjie gaan dit nog goed.  Sal vinnig vir hom ‘n groter hok moet kry, want sy stert raak nou taamlik lank.
 
Nog twee hoenders is intussentyd pot toe en nog twee word vermis.  Dus is daar nou al 4 hoenders wat “verdwyn” het.  Die laaste een wat nou weg is, is “Oumatjie”.  Sy was ‘n ouerige hen, maar die enigste een wat ek oor gehad het wat meestal wit is en ook die laaste een wat oor was van die “raksitters” (hoenders wat maar meestal in die hoenderhok gebly het).  Sy het ‘n baie spesiale plekkie in my hart gehad :(  Ons begin nou al meer dink dat die vreemde kat nog hier rondloop en as daar nog van die hoenders gaan verdwyn sal ons ‘n plan met hom moet maak.  Ek het jul mos laas vertel van ons 4 nuwe kuikens (twee geles en twee swartes).  Gister het ‘n geletjie onverklaarbaar gedood.  Ek het hom vanoggend vermis en na ‘n bietjie soek het ek hom dood gekry.  Dit lyk of hy deur iets gebyt is, maar ek weet nie wat nie.  Dit kon nie ‘n hond gewees het nie, want hulle kom nie in die blomtuin nie – juis hoekom ons die kuikens hier hou.  Ek wonder net hoekom die ding wat hom gevang het, hom nie opgeëet het nie…
 
Sjoe, hoor nou net hoe dreun die weer… en wag…. ja-nee… dit reën!!  Fantasties!  Die veld het nou juis ‘n opvolg reëntjie nodig om hom aan die gang te hou.
 
**********
 
17 Maart 2010, Woensdag
 
More!
 
Hier is dit vanoggend ‘n heerlike vars oggend.  Ons het gisteraand ‘n lekker bui reën gehad van 7mm – net wat ons nodig gehad het.
 
Om terug te kom by die hoenders… Jan het gister ‘n plek (naby die hoenderhok) ontdek waar daar ‘n klomp vere onder die bosse lê.  Dit lyk of dit die plek is waar my arme hoenders opgeëet word.  Wat ookal hul gevang het, het hul soontoe gesleep en daar verder gesmul.  Saans word die hoenders toegemaak, maar hulle raak nou gedurende die dag weg.  Die twee henne met die kuikens slaap egter saans op die voorstoep.  Eergisteraand het ek die een hen in die nag gehoor raas en sommer dadelik opgevlieg om te gaan kyk.  Het sommer vir Jaco ook wakker gemaak en gesê hy moet kyk of daar nie iets is nie.  Ons kon toe niks sien nie.  Jaco was natuurlik nie baie beïndruk met my dat ek hom so verniet in die middel van die nag opjaag nie :)  Gisteraand, ongeveer ‘n halfuur nadat ons gaan lê het, hoor ons toe weer die hen raas.  Hierdie keer het sy egter langer aangehou en so te kere gegaan dat ek gedink het sy is besig om dood te gaan.  Ons het opgevlieg, die flitse gegryp en is uit by die deur in ‘n kwessie van sekondes.  Die hen (wat gewoonlik in die hond se tent slaap) was toe in die blombak en haar kuiken was nêrens te vinde nie.  Dit is juis haar geel kuiken wat ons die vorige dag dood gekry het en nou was haar enigste oorblywende enetjie ook weg.  Ons kon nêrens die kuiken hoor piep nie en ek was seker hy was dood.  Al wat ons gehoor het was jakkalse wat in die verte roep.  Ons loop toe met ons flitse en soek in die tuin of ons nie dalk die aanvaller nog kan sien nie.  Sowaar… daar sit en loer twee blink ogies vir my.  “Kat!! Ek sien hom!  Kom!”  Jaco kom toe inderhaas nader, gewapen met sy pistool.  Die ogies beweeg toe al in ‘n boom op en raak weg agter die takke.  Kort-kort vlieg daar ‘n paar voëls uit die boom uit soos wat die kat van tak versit.  Onder die boom kon Jaco die kat nêrens sien nie en eers het ons begin wonder of ek nie dalk net die reëndruppels tussen die takke gesien glinster het nie.  Toe vlieg daar nog ‘n paar voëls uit die boom en daar sien ons toe weer die blink ogies.  BANG!!  ‘n Swerm voëls skiet uit die boom in alle rigtings.  Na die knal het alles stil geraak… selfs stiller as wat dit reeds was.  Die kat gly stadig uit die boomtak uit tot op die grond… ‘n pragtige klein Muskejaatkat.  Die een was sommer heelwat kleiner as die vorige een wat ons geskiet het.  Dis so ‘n pragtige dier wat ek glo ook sy doel in die natuur het, maar om een of ander rede verkies hulle nou hoenders bo duiwe en moes ons maar ‘n plan met haar sien.  Ons sal nou dophou of die hoenders steeds wegraak.
 
Nou moet ek jul eers vertel wat Maandag gebeur het.  Jaco en Jan het gery om krippe te gaan was toe hulle die beeste gewaar (dis mos nou MooMamma, Ousus, Mookie, Daisy en Cruiser).  Daisy was egter nie in die bondel nie.  Daar was wel drie pragtige nuwe aankomelinge.  Jip… Mookie het vir die eerste keer ma geword en MooMa en Ousus het self gespog met hul nuwe kalwers.  ‘n Ent verder gewaar hulle toe vir Daisy.  Jaco, Jan en Basjan het nader gestap om te gaan kyk of daar fout is.  ‘n Entjie daarvan gewaar hulle toe ‘n Gemsbok.  Die Gemsbok wei nou al lank hier en het nog nooit amok gemaak nie.  Maandag was dit egter ‘n ander storie.  Die Gemsbok het vir Daisy gejaag en met sy horings gestamp.  Daisy se eier was ook groot en dit het gelyk of sy baie na aan kalf was, of reeds gekalf het, maar daar was nie ‘n kalfie insig nie.  Die vrees het toe ontstaan dat die Gemsbok dalk die kalfie dood gemaak het.  Daisy het in die rigting van Jaco’le begin hardloop met die Gemsbok kort op haar hakke.  Die stof het behoorlik gedraai soos wat hulle gehardloop het.  Jaco en Jan het hulle boeglam geskrik en elkeen agter ‘n bos gaan platval in die hoop dat die Gemsbok hulle nie sou agterna sit nie.  Basjan (wat gelukkig saam was) het toe ingegryp en die bok se aandag afgetrek – Basjan is immers vinnig genoeg om onder hom uit te hardloop.  Dit het vir Jaco en Jan kans gegee om by die bakkie te kom.  Toe die bakkie so kort nadat hul hier weg is weer hier aangejaag kom, het ek sommer geweet daar is fout.  Jaco en Jan was asvaal geskrik.  Soos Jan dit gestel het “ons het amper die lang leer geklim!”  Net daar en dan het Jaco besluit die Gemsbok moet maar bokveld toe.  Hy’t die geweer kom haal en vir my om dit op video vas te lê.  Ek was maar taamlik senuweeagtig want vir my het die bok ietwat omgekrap geklink en ek wou hom nie nog verder die joos in maak nie.  Dit het ons ‘n tydjie gevat om hom te kry.  Al sy gejaagery die oggend het die ou ‘n bietjie moeg gemaak en hy’t rustig onder ‘n boom gelê.  Hy was so agter die bosse weggesteek dat teen die tyd wat die skoot geklap het, ek nog nie eens die bok kon sien nie.  Dink ek het groter as die bok geskrik en ek glo nie die videomateriaal gaan van enige nut wees nie.  Dit was ‘n hoë nekskoot.  Jaco het sy eerste Gemsbok geskiet.  ‘n Gemsbok is egter nie baie lig nie en dit het inspanning geverg vir ons drie om hom agter op die bakkie te kry.  Gelukkig het Jaco ‘n “tackle” saam gebring wat baie gehelp het.  Die slagtery was ‘n groot werk.  Die bok moes nog dieselfde middag deur slaghuis (De Aar) toe om bewerk te word en sy vel het ons gaan ingee om gebrei te word.    Nadat die gevaar verby was, kon Jaco’le weer na Daisy gaan om te kyk of sy nie dalk seergekry het nie.  Die bok het haar sowaar op die boud stukkend gesteek met sy horings, maar dit was gelukkig nie ernstig nie.  Daar was egter nog geen teken van ‘n kalf nie.
 
Die volgende oggend is Jaco, Jan en Basjan weer veld toe om ‘n moontlike dooie kalf te gaan soek.  Hulle was aangenaam verras toe hulle by die beeste kom en sien dat Daisy weer saam met die ander beeste wei… sy en haar kalfie.  Nou het ons vier kalwers!  Hulle is te pragtig.  Daar is twee verse en twee bulle en drie uit die vier lyk na Cruiser (‘n trotse pa).  Jaco’le het vanoggend die beeste met hul kalwers na ‘n kamp langs die huis geskuif sodat ons ‘n wakende ogie oor hul kan hou en ekstra voeding vir die mammas kan gee.  Miskien gaan hul selfs probeer om hulle te melk… maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.
 
Laastens wil ek jul net gou vertel van my Sondagmiddag uitstappie op die donkiekar.  Van Jan se familie het die naweek hier op die plaas gekuier en is Sondag weer terug dorp toe met hul donkiekar.  Op pad hek toe het ons hulle ingewag om ‘n “lift” te kry.  Ek moet sê… die Karoo Mercedes ry nogals heel lekker!  Dit het ons sommer laat terug dink aan hoe ons ouma- en oupagrootjies nog gelewe het.  Dis eintlik ongelooflik hoe die tegnologie verbeter het in so ‘n kort rukkie.  Jan se broer het gesê dit neem hulle 2 ure om in die dorp te kom (wat 30 km van ons af is).
 
Nou ja, ek moet groet.  Geniet die res van die week!
 
Kalwergroete,
Anoesjka

2 Maart 2010 – Dinsdag

Januarie 25, 2011

More!

Jammer ek het so lanklaas van my laat hoor – besef nou eers ek het nog nie een keer hierdie jaar geskryf nie. Tyd vlieg ook so vinnig dat ek skaars kan glo ons is alweer in die 3de maand van 2010. Eintlik het ek nie regtig ‘n verskoning nie, behalwe miskien ‘n bietjie luigeit.

Dit gaan nog goed hier. Ons is dankbaar vir die reën wat ons in laas week gekry het – was net mooi ‘n duim oor ‘n tydperk van 3 dae. Ons het nou wel nie so baie reën soos ander plekke in die omgewing gehad nie, maar dit was genoeg om die veld weer ‘n groen skynsel te gee. So ‘n tyd gelede het De Aar amper weggespoel so baie reën het hul gekry. Die duikweg was toe onder die water. Op daardie stadium het hul oor die 5 duim reën gekry waar ons toe net ‘n 3/4 duim gekry het. Een van die huise in die dorp is ook nou die dag deur weerlig getref. Gelukkig is niemand beseer nie, maar dis ongelooflik watter skade die weerlig aangerig het aan die huis.

Ons het ‘n nuwe toevoeging tot ons familie hier op die plaas gekry… ‘n Witkruismuisvoël. Hy was seker so 3 weke oud toe ons hom gekry het. Dit is die fraaiste ou dingetjie met sy lang stert en kuifie op die kop. Hy eet net vrugte en groente. Sy gunsteling is opgekookte pampoen. Ek het nooit besef ‘n mens kan hul aanhou as troeteldiere nie, maar nadat ons hom hier op die agterstoep gekry het, het ek baie op die internet oor hul opgelees. Hy is vreeslik mak en sit graag op my kop of in my hand. Verder dink hy mos ek dra ‘n bril spesiaal sodat hy daaraan kan hang. Ek soek nou net ‘n groter hok vir hom. Hy sit en slaap nie saans op ‘n tak soos ander voëls nie… nee hy hang soos ‘n vlermuis aan die dak van die hok. In die natuur sal hulle sommer in sulke bondels hang (in ‘n boom) met hul pensies teen mekaar om hulle warm te hou deur die nag. Verder is hy mal oor koppie-krap en kennebak-krap. Hy maak eintlik sy ogies toe van lekkerte. Ek het vir hom spesiale pellets en nektar gekoop, maar lyk my nie hy hou daarvan nie. Nou die oggend toe lyk dit eerder vir my of hy in sy nektar gebad het, want sy hele lyfie was taai. Toe moes ek hom maar weer in skoon water bad.

Ons het ook so ‘n tyd gelede vir die eerste keer Rooiwangnaguilkuikens gesien. Ons hoor en sien gereeld die naguiltjies hier om die huis, maar het nog nie voorheen op ‘n “nes” afgekom nie. Mens kan dit amper nie ‘n nes noem nie, want hul sit sommer so op die grond en broei – sonder ‘n takkie of ‘n veertjie om ‘n nessie te maak. Sommer net so op grond, met die klippe net ‘n bietjie weggekrap. Dit lyk net soos twee bruin wattebolle wat op die grond lê… skaars groter as ‘n vuurhoutjie. Met die hoenders gaan dit goed. Die kuikens is al groot en uitgegroei en die hane kraai van vroeg tot laat. Party sukkel nog so ‘n bietjie daarmee, maar hou nie op met oefen nie. Twee van die hane is alreeds pot toe en daar is nog ‘n hele paar wat dieselfde paadjie sal moet loop. Dan is daar ook alweer 4 nuwe kuikens. Ek wou nie eintlik nog laat broei voor ons nie toegeboude hoenderhokke het nie, maar die henne maak hul neste waar ek dit te laat sien. Op die oomblik vermis ek twee henne, wat of êrens sit en broei, of wat ‘n slagoffer van ‘n honger ongedierte was. Oja, ou Basjan het mos nou die dag my mooiste jong hennetjie dood gespeel. Sy was saam met hom in die hok (hul klim gereeld daar in om hul eiers daar te lê en gewoonlik pla die honde hul nie). Ons het haar eers gesien toe sy al klaar dood was, maar sy was nêrens stukkend gebyt nie. Sy was my enigste jong wit hennetjie en ek het nog nie eens ‘n foto van haar geneem nie. Was maar baie ongelukkig daaroor, maar kon ook nie vir Basjan kwaad wees nie. Hy kon immers nie help dat sy in sy hok ingeklim het nie. Nou een aand kort nadat ons gaan lê het, hoor ons die hoenders ‘n vreeslike kabaal opskop. Ons besef toe dat ons nooit die hoenderhok toegemaak het nie. Jaco het uit die bed gevlieg om te gaan kyk wat aangaan. Toe hy by die hok kom was daar ‘n kat in die hoenderhok, maar hy kon nie presies sien watter soort nie. Een van die henne was raak gebyt, maar gelukkig was dit nie fataal nie en het sy dit wonder bo wonder oorleef. Nou maak ons seker dat ons saans die hoenderhok vroeër gaan toemaak. Ons het juis die kat gisteraand weer hier gewaar.

Die honde is almal nog spekvet en gesond. Soos wat hulle kan eiers vreet kan dit ook nie anders nie. Ons sal vir Tiekie op ‘n dieet moet sit want een van die dae gaan haar kort beentjies haar nie meer kan dra nie. Sy val hoekal al klaar so oor haar eie bene – asof haar voorbene onder haar swik. Sy’s nie regtig oorvet nie, seker maar die ouderdom. Ons gaan stap elke aand met die honde en hul geniet die vreeslik. Nou een het ek alleen ‘n entjie met die honde gaan stap – andersens gaan Jaco gewoonlik saam. Dis mos nou juis toe wat hul weer op ‘n likkewaan afkom. Hulle het almal in dieselfde rigting gehardloop, maar ek kon nie sien wat dit is wat hul jaag nie. Later het ek gehoor hoe hulle ‘speel’, maar kon nog nie sien met wat nie. Toe ek eindelik by hulle kom was Basjan en Kiddo besig om tou te trek met die arme likkewaan. Hy was êrens stukkend want daar was effe bloed op Kiddo. Toe Basjan my sien (en hoor) het hy dadelik gelos en huis toe begin hardloop, maar nie Kiddo nie. Nee.. sy het die likkewaan sommer so alleen met haar mond opgetel en om geskud soos ‘n ou slipper. Ek het gedink die likkewaan is dood want hy’t net dood stil daar gelê sonder om ‘n geluid of ‘n beweging te maak. Toe ek by die huis kom en vir Jaco vertel het hy gesê hy dink die likkewaan het net dood gespeel. Die volgende oggend het ons toe gaan kyk of die likkewaan nog daar lê, maar hy was weg. Die honde het hom toe weer uitgesnuffel so ‘n paar meter verder, maar Jaco kon hul gelukkig keer voor hul die arme ding weer beet kon kry. Gelukkig is ‘n likkewaan ‘n taai dier en sal hy die aanval oorleef.

Ounooi loop nog hier in die groot tuin. Sy is wraggies so platvet mens kan maklik ‘n skinkbord op haar rug sit. Sy het nou ‘n tyd lank saam met 4 ramme geloop so ons wag nou in spanning om te sien of ons een van die dae ‘n klein Ounooitjie kan verwag.

Ons het al ons eerste tamaties uit die blomtuin geoes en daar hang nog ‘n paar groenes. Is so lekker om uit jou eie tuin te eet.

So ‘n tydjie gelede het ek bietjie vir Jaco’le in die skaapkraal gehelp. Dit was warm en die son het my taamlik verbrand, maar dit was so lekker. Ek’t gehelp met die tellery, bosluise spuit en het ook die ‘woundsept’ aangespuit as die sterte afgesny word. Dalk sal ek nog later kans sien om self ‘n stertjie af te sny, maar shame… kry hul so jammer. Dit het vir my so lekker gelyk om tussen die skape in te hardloop en een te vang dat ek dit net self moes probeer. Ek het my omtrent disnis gehardloop, maar het darem eindelik ‘n lam aan die agterbeen gevang gekry. Ek was so opgewonde toe ek hom gevang het, dat ek amper vergeet het om vas te klou. Hul skop moes vreeslik om los te kom. Ek sal maar nog eers bietjie gewigte moet oefen voor ek vir ‘n grote probeer kans sien. Ounooi hou niks daarvan as ek haar sommer so aan die agterbeen gryp om net haar skopkrag te voel nie. Teen die einde van die dag was ek seer gebrand, taai en vaal van die stof en my bene was lam en seer, maar mens voel so lekker na so ‘n fisies produktiewe dag. Teen die einde van die dag kon ek sê ek verdien my bad en my bed.

Met my en Jaco gaan dit nog goed. Kan skaars glo ons vier Maandag wat kom ons 2de huweliksherdenking. Ons is steeds baie gelukkig hier. Gisteraand was dit so stunning toe die maan op kom. Dit was net mooi in die tyd wat ons met die honde gaan stap het – sonsonder. ‘n Groot geel “glow in the dark” bal het agter die karoobosse verskyn. Ons moes net vir ‘n oomblik tot stilstand kom om dit en die stilte te bewonder. So ‘n paar weke gelede het my ma en stiefpa vir ‘n naweek by ons kom kuier. Dit was lekker om weer iemand van die Kaap te sien en ons het sommer baie lekker gekuier. Dit was net mooi in die tyd wat Jaco’le die ronde dam hier naby die huis reggemaak het. So op daardie stadium was die dam silwerskoon en kon ons dit ook inwy. Ek glo 2010 gaan ‘n wonderlike, onvergeetlike jaar wees. Ons het al klaar soveel om na uit te sien. My jonste sussie trou in September en my jonger sus het ‘n paar dae gelede uitgevind sy’s swanger en verwag hul baba in Oktober.

Op daardie positiewe noot gaan ek eers afsluit. Laat weet gerus hoe dit met julle gaan! Mag die res van julle week finominaal wees!

Muisvoëlgroete,

Anoesjka

8 Desember 2009, Dinsdag

Desember 9, 2009

Dagsê!

Jammer ek het so lanklaas van my laat hoor, maar ek was die afgelope tyd taamlik besig. Nie dat ek kla nie, want ten minste het ek werk en het ek die gesondheid om te kan werk. Eerstens wil ek sê hoe dankbaar ons is vir die goeie reën wat ons oor die afgelope twee dae gekry het (22.5mm). Is nou wel nog onder ‘n duim, maar elke bietjie help. Die weer was die afgelope twee aande regtig swaar… soos ek dit nog nie voorheen gehoor het nie. Op ‘n stadium kon ek die goed in die kombuis hoor klinkel.

Onthou ek het julle vertel van ons ganse wat broei? Nadat twee van die ganse al veel langer op hul eiers gesit het as wat nodig is, het Jaco van die eiers oopgebreek om te kyk. Almal van hulle was vrot, onbevrugte eiers. Ons hoop was toe nog op een gans. Die honde het ons egter voorgespring en almal behalwe een eier opgevreet. Teen die tyd wat ons gedink het dit behoort uit te broei het Jaco na die eier gaan kyk en sowaar…. daar was fyn krakies in die dop. Groot was ons opgewondenheid! Die volgende oggend kon ons nie wag om te gaan kyk hoe lyk ons nuwe klein gansie nie. Groot was ons teleurstelling toe ons daar kom en ‘n dooie klein gansie kry. Hy was so pragtig en perfek, maar dood. Ons weet nie wat gebeur het nie en of van die ander ganse hom moontlik dood gemaak het nie. Die wyfie gans het nog vir lank daarna op haar leë nes gesit. Kort daarna het die twee ander wyfies weer begin eiers lê. Die honde het weereens een van die neste leeg geëet. Die ander nes het vir ‘n lang tyd drie eiers ingehad en moes al naby aan uitbroei wees toe hulle ook uit die nes verdwyn het. Die arme gans sit nog steeds op haar nes. Hulle krap mos hul nessies mooi toe as hul opstaan om te gaan eet. Ek het nou die dag so onder die takkies en vere gaan loer en raai wat vind ek toe in die nes? Drie groterige kalkklippe. Ek is seker die gans dink dit is nou haar eiers. Die ganse bly nou maar ongelukkig met hul broeiery. Verder is Jaco hard besig om die fontein vir die ganse skoon te maak – van die riete uit te roei – sodat hulle daar kan swem. Ons het hul al ‘n paar maal soontoe gelok en in die water gesit, maar hulle hou nie baie daarvan nie. Hopelik raak hulle nog gewoond daaraan.

Die trekker staan steeds stukkend so ons kon nog nie begin plant nie, maar ons het ‘n paar tamaties in die blomtuin geplant. Nou wag ons net om te sien of hulle darem iets gaan dra. Dis ook die eerste jaar wat ek blomme in die tuin het – nou vandat hier nie meer ‘n skaap of ‘n hoender in die tuin kan kom nie.

Op die voorstoep staan so ‘n groot plastiek blompot wat ons gebruik het vir die Rooihen om in te broei. Een oggend wat ons wakker word klink dit heeltyd vir my of daar iets in die blompot is. Hoor kort-kort skuifel geluide. Toe ons in die pot gaan kyk, kry ons toe twee oulike klein muise daar binne. Ag, maar hulle is regtig so pragtig. Hoewel dit swaar was, het ons vir Jan gesê hy moet hulle maar vir sy kat huis toe vat. Jan het skoon van hulle vergeet en later die middag het ons hulle toe maar vrygelaat. Hulle woon toe al die tyd onder die voorstoep – daar is tonnels wat daar ingaan. Hoe hulle in die blompot beland het, weet ek nie. Sowaar, die volgende oggend hoor ek weer dieselfde geluide en toe ek by die blompot kom, sit dieselfde twee muise weer vir my en loer. Ek het hul maar eers daar gelos. Later die oggend kry ek toe net skielik hond se gedagtes en wonder waar Kiddo (my Jack Russell) is. Wraggies! Toe ek by die blompot kom sit daar net een muis en Kiddo staan op die gras met die ander muis in haar mond. Hy was klaar dood. Ai, ek het skoon hartseer gevoel oor die muisie. Ons het die ander muis nog eers in die blompot gelos omdat ons nie kon besluit wat om met hom te doen nie. Die volgende oggend toe ek gaan kyk, toe is daar sowaar weer twee muise in die pot. Ek het maar vir hulle ‘n bietjie fyn mielies en water in die pot gesit. Ons het ook vir hulle ‘n lap in die pot gesit waaronder hulle ingeklim het om te slaap. Vir twee dae het ons hulle so aangehou. Die derde dag moes Jaco veld toe en toe vat ons sommer die pot met die muise saam om hulle ver in die veld te gaan los sodat hulle vir hul ‘n nuwe huis kan vind. Toe Jaco die lap optel om hul vry te laat… is daar sowaar drie muise! Dit lyk darem of die hele kolonie van muise nou onder die stoep weg is, want ons het nog nie weer ‘n muis daarna gekry nie.

Ai, ek het nou die dag so lekker gelag… Tiekie is mos nou bekend vir haar eiervretery. Die dag lê sy toe ook so en lek aan ‘n eier. Sy maak mos net ‘n klein gaatjie in die dop en dan lek sy al die eier uit met haar tong. So sien ek maar ons Spikkel hennetjie loop al om Tiekie en dit lyk of sy ook ‘n stukkie van die eier wil hê. Tiekie is nog besig om ‘n rus kansie te vat en haar lippe af te lek toe die hen skielik na die eier toe pik. Sy pik toe ook net mooi in die gaatjie wat Tiekie gemaak het en daar sit die eier om haar snawel vas. Sy hardloop toe rond met die eier om haar snawel. Dit het so snaaks gelyk. Sy het ook so lank gesukkel om die eier af te kry dat ek genoeg tyd gehad het om in te gaan huis toe en my kamera te gaan haal. Ek kon net die laaste stukkie op video neem voor sy die eier afgeskud gekry het. Sy het die eier net afgeskud toe Blikkie verbygestap kom en sommer die eier vir hom toe-eien en daarmee wegstap. So spyt ek kon nie die hele petalje van die begin af op film vaslê nie.

So van Tiekie gepraat… sy het onlangs ‘n groot operasie deurgemaak. Sy was op hitte, maar ons kon sien daar was groot fout met haar. Verder het ons ook harde knoppe onder haar pensie ontdek. Veearts moes maar kyk en het gesê dat sy gesterilliseer sal moet word en dat hy die kankeragtige knoppe kan uitsny. Honderde rande later en Tiekie is weer op die been. Ek moet sê sy het verbasend vinnig herstel. Drie dae en toe loop sy sommer alweer gemaklik ver ente.

Ons Kransswaeltjies op die voorstoep het intussentyd alweer gebroei en die slag het hul drie kuikens groot gemaak. Die drietjies het sommer vinnig die nes verlaat om hul eie nes te gaan skrop.

Die beeste is nou weer terug in die kamp waar hul was en kry nie meer ekstra voer nie. Hulle het mos vir ‘n lang tyd hier naby die huis geloop sodat MooMa en Ousus se kondisie kon verbeter met die ekstra voer van lusernpille. Hulle het egter so stout geraak dat Jaco hulle maar weer terug geskuif het. Hulle het oor al wat draad is gespring om in die groot tuin te kom om turksvye te eet. Maak nie saak hoeveel drade Jaco en Jan probeer regmaak en hoër maak het nie, hulle het ‘n manier gevind om oor te kom. Ou Mookie was tot ‘n paar keer hier by die huis op die werf waar sy groot geword het.

So van draadspring gepraat… ons hou mos saans vir Basjan en een van die groot honde op hok om te voorkom dat hulle gaan kwaad doen. Basjan het toe agtergekom maar as hy bo-op die hok se dak staan, dan kan hy oor die draad spring. Dit kos toe vir Jaco en Jan om die draad so drie drade hoër te span. Desnieteenstaande was Basjan die volgende oggend weer buite die hok. Nou het hulle die hok so hoog gespan dat ou Bassie nie daar kan uitkom nie al maak hy wat.

My spul kuikens het sommer al lekker groot geword. Daar is ongelukkig weer ‘n hele paar haantjies wat pot toe sal moet gaan. So ‘n tyd gelede het ek weer dat Jan vier van die hane slag. Ek het dit maar swaar oor my hart gekry, maar dit kon nie anders nie. Een van hulle was my pragtige veervoethaan wat elke dag tot bo-op die hoenderhok se dak gevlieg het om daar te staan en kraai. Al is hulle nie meer op die werf nie, is elkeen van hulle nog in my hart. Nou eendag toe ek die waenhuis se deur oop maak om vir die hoenders kos uit te haal, sien ek ‘n klein vlermuisie teen die muur sit (redelik laag). Hy was te kostelik. Terwyl ek hom nog so staan en bewonder, kom daar ‘n hoender verby, gee ‘n sprongetjie en pik die vlermuis van die muur af. Daar hardloop hy toe met die vlermuis in sy snawel weg en gaan eet hom op. Ek was glad nie beïndruk nie. My hoenders word nou vir drie dae lank op hok gehou – vandag is dag twee. Hulle is glad nie tevrede daarmee nie. Ons gee vir hulle medikasie in teen iets soos verkoue en dan mag hulle geen groenvoer eet nie. Die medikasie is in hul drinkwater so nog ‘n rede hoekom hulle nie nou vryelik kan rondloop nie. Na die drie dae kan hul vir twee dae uitkom en dan moet hul weer vir drie dae op hok wees vir verdere medikasie.

Een van die henne lê nou al vir ‘n geruime tyd haar eiers in die blomtuin. Ons het haar maar toegelaat aangesien sy nie regtig in die tuin geloop en skrop het nie. Daar was al ‘n stuk of nege eiers in haar nes. Toe ek Saterdag uit gaan om die tuinslang te gaan verskuif (juis in die rigting van haar nes) sien ek toe net uit die hoek van my oog ‘n reptielagtige ding beweeg. Ek het so groot geskrik dat ek sommer dadelik gehardloop het om vir Jaco te gaan roep sonder om behoorlik te kyk wat dit is. My eerste gedagte was Pofadder of Likkewaan. Gelukkig was dit toe net ‘n likkewaan. Hoe die vabond dit reggekry het om in die tuin te kom weet ek nie, maar hy is soos blits weer daar uit ook. Net een eiertjie het oorgebly.

Terwyl ons nou van reptiele praat… die ander dag sit ek nog so en werk toe ek ook net skielik uit die hoek van my oog iets sien beweeg. Toe ek weer kyk sien ek ‘n slang reg voor my venster op die voorstoep. Ek was lam geskrik. Jaco was nie by die huis nie en wat maak ek nou met ‘n slang. Ek het dadelik die kamera gegryp om darem die bewysse te kon toon as Jaco by die huis kom. Die slang het seker my beweging gesien en het vinnig weggesyl en onder een van die vetplante in verdwyn. Van die foto het ons afgelei dat dit ‘n Sweepslang is. Hy eet glo akkedisse en is nie giftig nie. Daardie selfde namiddag toe ons loop om die hoenders te gaan kosgee, sê Jaco toe net skielik “Oppas!”. ‘n Paar treë van ons af lê daar toe ‘n Pofadder. Gelukkig het ek vir Jaco gevra om saam te loop anders het ek dalk nie eens die slang betyds gesien nie. Nie dat dit ver is om te loop nie… dis reg hier by die huis op die werf. Ek het net gesorg dat ek al die honde in die hok kry. Jaco het toe maar die slang dood gemaak. In laas week weer het ek een oggend vir Tiekie net so ‘n tjank hoor gee en toe kom sy hier oor die voorstoep gehardloop tot binne die huis. Dadelik het ek sommer net so ‘n slang se gedagte gekry. Ek het gaan kyk maar kon niks sien nie. Dieselfde dag het Jaco die gras gesny en sien toe ‘n slangetjie. Dit het vir ons gelyk na ‘n klein sweepslang so ons het hom nie dood gemaak nie. Hy’t maar die heel dag hier in die gras rond gesyl. Hy was glad nie baie skrikkerig vir ons nie.. ek het heelwat fotos geneem. Alhoewel hy gee sulke vinnige bewegings dat dit moeilik was om ‘n mooi foto te kry. Ek het maar onrustig gevoel met die slang in die gras. Ons het hom nog nie weer gesien nie, so hopelik het hy vir hom groener grasvelde gaan soek.

Jaco het gister ‘n Poukuiken in die veld gekry nadat hy amper bo-oor hom gery het. Ons is nie heeltemal seker of dit ‘n Gompou of Ludwigse Pou is nie. Hy is al redelik groot en het al vere, maar hier en daar sit nog donsies. Dit is te pragtig! Laat my eintlik baie aan ‘n volstruis dink. Gisteraand het die outjie by ons in die huis geslaap. Hy is baie skrikkerig. Jaco het vir hom mins gevoer. Ek is altyd skepties daaroor om wilde diere self groot te maak. Vir my is dit maar die beste as hul daar in hul natuurlike omgewing bly. Hy het hom vandag weer saam gevat veld toe om te kyk of hul dalk sy ma sien. Nadat hul hier weg is, het ek nogals baie op die internet opgelees oor gompoue (Kori Bustards) wat met die hand grootgemaak word en aan die eenkant hoop ek Jaco bring weer ons poutjie saam terug huis toe.

Jaco werk vandag weer bietjie tussen die skaap. Hul het gister op ‘n lammetjie afgekom wat deur jakkalse gevang is. So ‘n paar weke gelede het my amper-aanstaande-swaer hier by ons kom jakkalsjag. Hy is ‘n beroepsjagter. Jaco is die nag saam met hom in veld toe en rondom half vier die oggend toe skiet hy twee Rooijakkalse (‘n reun en ‘n teef). So die heel nag se opsit was darem nie verniet nie. ‘n Jakkals skiet jy ook nie sommer maklik nie. Mens het spesiale toerusting nodig om die jakkalse te “roep”. Dis die allervreemdste geluide…

Verder gaan dit goed met ons twee. Ons is nog gelukkig saam en gelukkig op die plaas. Jaco moes egter in die tyd van sy ouma afskeid neem. Sy is op die goeie ouderdom van 89 oorlede. Sy is op hul plaas tussen Calvinia en Williston begrawe. Sy oupa (92) bly nou nog in die ouetehuis op Richmond. ‘n Mens kry sommer ‘n knop in jou keel as jy dink dat twee mense wat ‘n lewe van oor die 60 jaar gedeel het, skielik van mekaar moet afskeid neem. Die lewe is kort en kosbaar en ons moet die beste maak van elke oomblik wat ons het. Waardeer en respekteer elke persoon wat deel is van jou lewe hier op aarde – ten spyte van verskille.

Op hierdie noot gaan ek eers groet. Ek gaan seker nie weer van my laat hoor voor 2010 nie. Almal van julle wat met vakansie gaan… ry asb versigtig en geniet dit!!

Geseënde Kersfees en Voorspoedige Nuwe Jaar!!!

Krismisgroete,
Anoesjka & Jaco

PS: Poutjie het nie weer huis toe gekom nie…

Woensdag, 23 September 2009

Oktober 7, 2009

Dagsê!

Dit is eindelik Lente en ons almal hier verwelkom dit. Ons kan nog net nie die winter pajamas wegpak nie, maar die dae raak al hoe lekkerder. Al wat ‘n geveerde is, is besig om of nes te bou, of te broei, of kuikens groot te maak. Al het ons nog nie reën gehad nie, is die motte, muskiete en muggies ook al hoe meer sigbaar. As ons skemeraand ‘n entjie gaan stap dan is die muggies so lastig dat jou arms eintlik meer oefening as jou bene kry.

Sedert my laaste brief het hier al ‘n spul kuikens uitgebroei. Die eerste hen het in ‘n ou erdvarkgat so ‘n entjie van die huis af gesit op twaalf eiers. Ons het omtrent die dae afgetel totdat die spul kuikentjies moes uitbroei. Nie een van ons henne het al so baie kuikens op ‘n slag uitgebroei nie. Hier was groot opgewondenheid toe ons die eerste kuikentjie ontdek het. Groot was ons teleurstelling toe ons die volgende oggend weer gaan kyk hoeveel daar is. In die nag het iets (ons dink ‘n muishond) die eerste ses kuikentjies wat uitgebroei het kom opeet en was daar net ses eiers oor. Ons het haar toe met eiers en al geskuif na ‘n plekkie in die blomtuin waar ons ‘n ogie oor haar kon hou. ‘n Dag later toe is al 6 kuikentjies daar. Die noodlot was nog nie klaar met haar en haar kuikens nie. ‘n Paar dae later het een van die oorblywende ses verdrink. Dan het ek julle mos laas vertel van Tiekie (die nuwe hond op die plaas wat van die dorp af kom). Sy het nou ‘n regte eiervreter geword. Daar gaan amper nie ‘n dag verby wat sy nie êrens ‘n eier in die hande kry nie en as sy gelukkig is, sommer drie! Dis ‘n wonder dat sy nog nie gevrek het van die cholestrol nie. Hoewel sy reeds met haar een voet so te sê in die graf staan, het sy ook agtergekom dat sy nog jonk genoeg is om kuikens te vang. (Seker die eiers wat haar so ‘n “boost” gee) Sy het dan ook een van hierdie hennetjie se kuikens dood gebyt. So die totaal van twaalf, is nou op vier. Alhoewel, die hen het deesdae nie meer ‘n saak met haar kuikens nie. Saans klim sy op die stellasie sonder haar kuikens. Hulle viertjies bly dan op die grond in ‘n hoekie en klim al bo-oor mekaar vir ‘n bietjie hitte. Elke aand gaan haal ons eers die hen van die stellasie af as dit donker is en sit haar by die kuikens. Of sy nou dan daar bly weet ek nie regtig nie. Ek sien hulle loop nou deesdae ook maar alleen en kos soek. Dis die eerste keer wat die hen kuikens het, so miskien is sy maar nog net die gewoond aan die ma wees idee nie. Buiten haar is daar nog vier ander henne met kuikens. ‘n Hen met een kuiken, een met twee kuikens, een met vyf kuikens en een met ses kuikens. Hulle is almal te kostelik. Die eerste spannetjie raak nou al groot en is al vier weke oud.

Om terug te kom by Tiekie… sy het nou al ‘n totaal van vier kuikens gevang – die klein gedroggie! Die een dag het sy sommer twee gevang. Ons hou haar nou met valk oë dop. Ten spyte daarvan kan mens ook maar nie vir haar kwaad bly nie. Dat ‘n dorpshondjie haar nou so snoep hier op die plaas kom hou. Moenie dink sy wil die droë hondekos eet nie. Alhoewel dit al is wat sy in die dorp geëet het (meeste van die tyd) soek sy nou net vleis. Ek moet die droë kos eers sag maak met kookwater en dan vleis daarby meng sodat sy darem ‘n bietjie daarvan kan inkry. Kiddo is nie so mal oor haar nie. Soms lê die tweetjies nogal lekker styf teen mekaar en slaap maar ander kere wil Kiddo net vir Tiekie byt. Ek moes hul al ‘n paar maal uitmekaar uit haal en dit gaan gewoonlik nie maklik nie. Kiddo was ‘n tydjie terug niks lekker nie. Sy het varingitis gehad en is nou amper klaar met haar reeks antibiotika.

Verder is die ganse ook aan die broei. Dit lyk of al drie grys ganse wyfies is en die witte die mannetjie. Al drie wyfies sit nou op ‘n nes en alhoewel die honde ook al heelwat van die eiers opgeëet het, het elkeen so tussen twee en vyf eiers onder hulle. Ek soek tog nie nog ‘n klomp ganse op die werf om my rond te jaag nie. Die wat broei is verskriklik befoeterd. Hulle staan minder gereeld as die hoenders van hul neste af op en as hul opstaan dan maak hulle hul eiers eers mooi toe met donsies, takke en blare. Die enigste probleem is nou dat daar ‘n kans is dat die eiers nie bevrug is nie. Die gans wat eerste begin broei het sit nou al meer as dertig dae en daar is nog geen teken van ‘n klein gansie nie. Nou hou ons maar die nes in afwagting dop.

Die swaeltjies se twee kuikens het toe eindelik hul nes verlaat. Ek het begin dink hul gaan nou ook hier bly, maar hul ouers het natuurlik gedink hulle is nou groot genoeg om hul eie nes te gaan skrop. Ma en pa is nou weer druk besig om hul nessies op te knap met klei en gaan seker een van die dae weer broei.

So van nesbou gepraat… die kraaie glo mos hulle nes moet ‘n staal versterking hê. Jaco het nou al twee keer by ‘n windpomp gekom waar die kraaie besig is om nes te bou van stukkies draad. Soveel so dat die windpomp nie eens meer kon draai nie!

Seker so ‘n week gelede staan ek en koffie drink voor die kombuisvenster toe ek ‘n muishond rustig oor die stoep voor die buitekamers sien stap. Gelukkig was Jaco ook in die kombuis en toe die muishond by die enjinkamer ingaan, hardloop Jaco toe om die deur te gaan toe trek. Nou wat maak ons nou met hom was toe die groot vraag. Maak ons hom dood of laat ons hom wegkom. Ek glo mos nou maar eenmaal als wat leef speel sy rol in die natuur (en soms ook in die voedselketting). My eerste gedagte was toe, wat eet die muishond? Ek het my boekie geraadpleeg en sien toe onder andere die volgende: insekte, paddas, slange, spinnekoppe, eiers en hoenders… ja hoenders. Nogtans kon ek dit nie oor my hart kry om die diertjie te laat dood maak nie. Ons bedink toe ‘n ander plan (mens moet mos maar ander maniere vind om jouself mee te vermaak). Jaco vra toe vir Jan om vir hom ‘n spanner uit die enjinkamer te gaan haal en ek staan skelmpies gereed met die kamera. Dit toe nou ook als verniet want Jan is daar in en uit sonder dat hy eens geweet het van die muishond. Jaco gaan kyk toe wat dan van die dier geword het. Daar kry hulle hom toe in ‘n rak tussen die tools en voor hul nog kon wonder wat om nou te doen, is hy soos blits by die deur uit en weg. Hy’t so vinnig gehardloop ek kon hom nie eens op video kry nie.

Dit was seker ook net twee dae later, terwyl ek besig was om die kuikens hulle middagete te bedien, wat ek ‘n hen vreeslik hoor skreeu het. My hart was dadelik in my keel want toe weet ek sommer daar is fout…. groot fout. Ek het nader gegaan in die rigting van die hen se geluide en ‘n ent verder het ek haar so half tussen die bosse gesien. Iets was besig met haar, maar ek kon nie mooi sien wat nie. My eerste gedagte was die muishond, maar ek wou nie nader gaan nie want Kiddo was by my en ek was weer bang dat Kiddo dalk die muishond gewaar en dit jaag (en dalk ook nog seer kry). Ek hardloop toe al roepende en gillende om vir Jaco te gaan soek. Hy en Jan was gelukkig nie te ver nie. Ons is weer terug na die plek waar ek die hen gesien het en daar kry ons haar toe… alleen. Wat ookal haar beet gehad het, het haar seker net daar gelos toe hy my gehoor het. Shame, dit was een van my groot ou henne. Sy was maar taamlik vermink en so graag as wat ek wou hê dat sy moes oorleef wou ek haar nie nog verder laat ly het nie. Jan het haar toe maar vankant gemaak en haar plekkie is nou leeg in die hoenderhok.

Ek het nou die dag weer ‘n muis so jammer gekry. Alhoewel ek grillerig is vir hulle, is ‘n muis vir my tog so ‘n oulike ou dingetjie. Met sulke klein blink swart ogies en oulike oortjies. Ons bêre die hoenderkos in die waenhuis in groot dromme. Nou partykeer sit ek nie altyd die dromme se deksels heeltemal reg op nie en dan bly daar nog ‘n opening. Toe ek nou die oggend by die drom kom om die hoenderkos uit te haal, toe sit daar ‘n muis vas tussen die drom en die deksel. Die opening was toe nou groot genoeg vir hom om in die drom te klim, maar hy het hom so trommel dik gevreet dat hy nie weer kon uit nie. Teen die tyd wat ek hom gekry het was hy al klaar half met die dood deurmekaar en het Jan hom maar vir sy kat gaan gee.

Woensdag, 7 Oktober 2009

Onthou jul ons eerste hanslam wat ons gehad het kort nadat ons hier aangekom het? Skapie (Baba) was sy naam. Hy en Mookie het mos so saam groot geword en was beste vriende tot hul paaie geskei het nadat die res van Mookie se familie eindelik op die plaas kom bly het. Van toe af het Skapie mos maar hier in die veld saam met die ander skape gewei. Nou Skapie is so ‘n paar weke gelede mark toe. Dit was maar swaar, maar dit kon nie anders nie. Kobusina het hom ook vergesel. In die afgelope paar maande het Skapie nooit meer huis toe gekom nie, maar vreemd genoeg net ‘n paar dae voor hy mark toe is, toe kry ons hom hier buite op die werf. Kobusina het ook net buitekant die hek gestaan en nog so ‘n vriendelike blêr gegee. So asof hulle vir oulaas kom afskeid neem het.

So van Mookie (Hannie) gepraat… sy is nou al ‘n uitgegroeide bees (alhoewel nie baie groot nie). Cruiser (die bulletjie) en Daisy (vers kalfie) is al net so groot soos sy en hulle is amper ‘n jaar jonger as sy. So groot soos wat Cruiser en Daisy is, drink hul steeds aan hul ma’s wanneer hul die kans kry. MooMa en Ousus se kondisie het bietjie verswak nadat hul die kalwers gehad het. Jaco het nou die beeste verskuif sodat hul weer hier naby die huis is. Nou kry hul elke oggend en aand voerpille om hulle kondisie te verbeter.

Met Ounooi gaan dit nog goed. Daar is gelukkig nog nie planne om haar mark toe te stuur nie. Nee sy kan aanbly om vir ons klein Ounooitjies te gee. Alhoewel, ons laat haar nou nie meer hier by die huis rondloop nie. Ons is nou in die proses om haar te “speen” van ons. Ons hou haar nou in die tuin kampie waar die turksvye is saam met twee ander ooie en hul lammers. Aan die begin was dit baie swaar vir haar. Sy was gewoond om elke oggend en aand nog voerpille en mielies te kry en sy’t ook gereeld saans saam met ons en die honde gaan stap. Sy het die eerste ruk omtrent geblêr. Nou is sy darem al rustiger. So elke derde dag of wat gaan maak ek ‘n draai by haar en vat vir haar kossies. Ek mis haar hier by die huis, maar dit kon nie anders nie. Sy’t alles in die tuin opgevreet en verniel!

Met ons drie seuns, Blikkie, Bruno en Basjan gaan dit ook nog goed. Ons hou hulle nou beurtelings op hok. Na Ounooi was daar nog ‘n ooi wat hulle beet gekry het een nag. Dit was sommer net hier naby die huis. Hulle het omtrent al die skaap se wolle uitgepluis en die bloed het oral op die bosse en klippe gelê. Ons moes die skaap in die veld gaan soek en sy en haar lam is van die skape wat nou saam met Ounooi in die tuin kampie loop. Sy het regtig erg gelyk (nog veel erger as Ounooi), maar is darem goed besig om te herstel. Nou los ons nooit vir Basjan alleen nie. As ons hom nie kan dophou nie, moet hy maar in die hok gaan. Hy het nou al ‘n paar keer saam gegaan om skaap bymekaar te maak en daar was nog nooit enige probleme nie. Dit lyk darem of hy al hoe meer begin luister.

Onthou julle ek het jul al vertel van die Europese Byvreter voëltjie wat ons in die Somermaande hier kry? Hulle het seker so twee weke gelede hier gearriveer. Hulle is regtig pragtige voëls en maak die vrolikste prrr prrr prrr geluide. Net jammer my kamera kan nie ver genoeg inzoom om mooi fotos te neem nie. Die Rooiwangnaguiltjie (of die Langasem soos Jaco se oupa vir hom geleer het) start ook nou sy enjintjie snags.

Ons het omtrent ‘n bedrywige naweek agter die rug. My oudste suster (van die Kaap) en haar man en kinders het vir ‘n paar dae hier kom kuier. Verder het ek ook al die ander familie hier genooi om die naweek saam te kuier. Ons was lanklaas so baie mense hier bymekaar. Net jammer ek het ‘n verkoue ook nog ontwikkel. Die kinders het dit omtrent geniet. My suster se seuntjie (1jaar) het hom verkyk aan die honde en hoenders. Saans het die manne ‘n bietjie gaan jakkalsjag. Hulle kon nou wel nie ‘n Rooijakkals in die hande kry nie, maar het wel ‘n Silwervos (of draaijakkals) gekry. Hy is nie so ‘n groot gevaar vir lammers soos die Rooijakkals nie. Volgens my boekie eet hy muise, insekte, reptiele en voëls, maar ek verstaan hy kan ook klein lammertjies vang.

Sedert ek die mail begin tik het, het daar nog niks van die ganseiers gekom nie. Jaco het twee van die drie neste se eiers oopgebreek en almal was vrot. Ons neem aan die eiers was nie bevrug nie. Nou wag ons maar om te kyk of die derde een dalk iets gaan oplewer.

Nou ja, dis eers al van my kant af. Laat dit goed gaan met julle en laat hoor gerus van julle!

Jakkalsgroete,
Anoesjka

14 Augustus 2009

Augustus 17, 2009

Hallo,

Ek vertrou dat dit nog goed gaan met julle almal. Met ons gaan dit ook nog baie goed. Ons is nog gesond en het werk so ons mag nie kla nie. Verder is ons nog baie gelukkig getroud en baie gelukkig op die plaas. Ek was onlangs vir so amper twee weke in die Kaap (vir my ma se 60ste b-day) en dit was lekker om weer van die vriende en familie te kon sien – net jammer mens kan nie altyd by almal uitkom nie.

Terwyl ek weg was het daar egter ‘n paar dinge hier op die plaas gebeur. Die ergste is seker dat dit hoenderslagdag was. Ek het maar gereël dat hulle dit doen terwyl ek nie by die huis is nie. Jaco het dit ook maar moeilik gevind, maar ons moes net oë toeknyp en dit doen. Ons het hopeloos te veel hane gehad vir ons getal henne. Soos ek ook al gesê het daar is 3 henne wat nooit ‘n voet uit hul hok uitsit nie en dit omdat die hane hul te veel jaag. Hulle het toe 6 uit die 14 hane geslag. Eintlik moes hul nog 3 slag, maar nadat daar ‘n fout ingekom het, het hul maar eerder die hele slagtery gestop. Op een of ander onverklaarbare manier het hulle toe per ongeluk my liewe ou Hendrik se kop afgekap. Hendrik was die hoof haan… die eerste haan wat saam met ons op Huisfontein begin het. Baie van die ander hoendertjies het hul lewe te danke aan Hendrik. Nou is nog net die Rooihennetjie oor uit die 3 hoenders wat saam met ons hier begin het. Ek was erg onsteld oor Hendrik… maar sulke dinge gebeur nou maar. Buiten Hendrik het ons ook afskeid geneem van 2 Klein Hendrikkies, Spookie, 1 Pikkelikkel en ‘n jong haantjie. Die ander 3 moet definitief nog geslag word in die nabye toekoms. Alhoewel hul eintlik nog steeds te veel is, het die vermindering van hane beslis ‘n goeie uitwerking op die henne gehad. So ‘n paar dae gelede het die 3 henne wat nou vir maande lank net in die hok bly sit het, dit eindelik weer buite gewaag! Ek is vreeslik verlig daaroor. Hulle het selfs nou begin eiers lê ook. Deesdae kry ons maklik 8 eiers op ‘n dag. Waar ons voorheen eiers moes bykoop, sukkel ons om nou als opgeëet te kry. Ek gee darem baie van die eiers vir Jan’le. Een van die dae kan ons dalk ‘n paar verkoop.

Weet nie of ek al vir jul gesê het nie, maar daar is 3 honde by die dorpshuis in Britstown. Een klein wit brakkie (Tiekie), een amper worshond (Luna) en dan Blikkie en Bruno se ma Ciska. Tiekie is regtig ‘n klein wonderwerkie… mens wonder hoe daardie klein lyfie dit nog reg kry om te werk. Sy het al ‘n paar keer by die dood omgedraai. Onder andere het sy al katgriep gehad en was sy al twee keer raak gery. Nou die dag het Luna haar weer so vreeslik aan die een oor gebyt. Shame, sy het omtrent met haar oortjie teen die grond geloop. Jaco het haar veearts toe gevat en daar het sy 3 verskillende soorte pille gekry om te drink. Van daar af het Jaco sommer besluit sy moet ook eerder plaas toe trek, want die honde in die dorp knou haar net af. Nou is sy heel gelukkig hier op die plaas en geniet natuurlik al die aandag. Die honde hier pla haar glad nie…. behalwe nou vir Kiddo… sy kry nog soms ‘n bevlieging om vir arme Tiekie aan te val. Net ‘n paar dae voor Tiekie was Kiddo ook by die veearts. Sy het weer ‘n “anal gland” wat gedurig verstop. Ook sy het ‘n klomp pille gekry om te drink. Jaco moes omtrent regstaan vir die honde terwyl ek in die Kaap was.

Asof dit nie al klaar genoeg was nie, sien hy toe een more ‘n ystervarkpen in Blikkie se lyf vassit. Gelukkig kon hy dit uittrek, maar selfs daarna het Blikkie nog steeds nie lekker gelyk nie en was die ou klaerig. Met verdere inspeksie sien Jaco toe dat daar nog ‘n pen in sy lyf vassit – een wat afgebreek het. Hy’t probeer om dit uit te haal, maar tevergeefs – dit was net te seer en Blikkie wou nie stil sit nie. Hy’t die veearts gebel, maar hy was nie beskikbaar nie en die ontvangsdame het gesê dat ons maar die veearts in Colesberg moet probeer. Nou dis oor die 300kms van ons af. Om te verhoed dat hy toe al die pad onnodig ry, bel hy toe eers om te hoor of die veearts daar beskikbaar is. Hy verduidelik ook die hele situasie en van waar af hy kom. Hulle het gesê dis reg, hy kan maar kom. So het Blikkie toe sy langste trip nog afgelê. Daar gekom sê die dr toe dat Blikkie narkose sal moet kry en dus daar sal moet oornag. Jaco kan hom weer die volgende dag gaan haal. Needless to say was hy glad nie gelukkig nie. Hy het dan die hele situasie vooraf verduidelik en nou vandat hy daar is wil hulle vir hom sê hy moet die volgende dag weer oor die 600km aflê en dit net om die hond te gaan haal. Nee wat, toe klim hul maar weer netso in die bakkie en ry De Aar toe. Intussen het ek aangehou om die veearts op De Aar in die hande te probeer kry. Einde ten laaste was hy op ‘n plek waar daar sein is en kon ek reël met hom om Blikkie later die aand te sien. Hy het sommer vinnig-vinnig vir Blikkie uit sy pyn verlos… en dit met net lokale verdowing. Ook Blikkie het ‘n klomp pille gekry om te drink. Hopelik gaan ou Blikkie nie weer ‘n ystervark probeer aanvat nie. Dit was nou 3 honde by die veearts in 2 weke se tyd.

Met Basjan gaan dit nog goed. Ek wens net hy kan leer luister. Ons sukkel maar met die opleiding en as sy instink eers oorneem, dan kan jy maar vergeet. Ons het so ‘n week gelede een aand met die honde gaan stap… soos baie ander aande. Ons was al op pad terug en naby aan die huis toe Basjan ‘n Steenbok gewaar en hom begin jaag. Dit het hy ook al voorheen gedoen, maar ek het net so ‘n gevoel gehad dat die bokkie hierdie keer nie so gelukkig gaan wees om weg te kom nie. Basjan hardloop soos die wind en hy was net te na aan die bokkie. Verder het die bok in die rigting van die draad gehardloop. Ek het geroep tot ek blou in die gesig was, maar Basjan het saam met die bok verdwyn. Ons ander het maar aangestap huis toe. Kort nadat ons by die huis gekom het, het ek iets vreeslik hoor blêr. Ek het gedink dalk het die bok weggekom en is Basjan nou tussen die skape in. My senuwees kon dit net nie hou nie en ek het in die bakkie geklim om nader te ry en te gaan kyk wat aangaan. Daar gekom sien ek toe vir Jan aangestap kom met ‘n bokkie in sy hande. Die ergste van alles is dat die bokkie nog gelewe het, maar hy’t geen kans op oorlewing gehad nie. Sy magie was oop. Jan het ook die geblêr gehoor en gaan kyk. Hy het vir Basjan by die bok gekry. Ek weet nou net nie of Basjan die bok so stukkend gebyt het en of hy hom dalk by die draad seer gemaak het nie. Die feit dat Basjan nou bloed geproe het, glo ek is nie ‘n goeie ding nie. Net daar en dan het ons besluit ons gaan nie weer met die honde stap voordat Basjan ‘n leiband het nie. Intussen het ons vir hom een gekry en gaan stap hy nou altyd met sy band aan (wel hy stap en ek hardloop). Ek wil ook nou ernstig daarop begin konsentreer om vir ‘n basic commands te leer. As ek net weet hoe om hom sover te kry om op my te fokus en nie al die ander dinge wat sy aandag aftrek nie.

‘n Vriendin van my (uit die Kaap) het oor die langnaweek vir haar eerste keer op die plaas kom kuier. Dit was lekker om weer ‘n kuiergas hier te hê. Ons was selfs gelukkig genoeg om weer op ‘n hen af te kom wat besig is om ‘n eier te lê! Sy kon darem ‘n fototjie geneem kry, maar ongelukkig het ek nie my kamera byderhand gehad om ‘n video te neem nie! Ek sal nog dit probeer afneem om vir jul te kan wys.

Dit wil eindelik begin lyk of die somer nader kom. Dis steeds koud, maar ek glo die einde van die winter is in sig… en ek kan nie meer wag nie! Jaco is druk besig om die wingerde te snoei. Verder is dit nou ook weer tyd vir skaap werk (lammers merk, dosseer, etc). ‘n Paar van die lammers is al vermoedelik deur jakkalse gevang. Verder moes ons nou die dag 3 siek ooie slag. Ek sal nie in detail ingaan oor wat hul makeer het nie, maar ek kan net sê dat die natuur maar wreed kan wees. Jaco het nog ‘n siek ooi huis toe gebring vir behandeling en observasie. Haar kondisie was nie baie goed nie en haar agterbene effens styf. Twee dae later toe ons weer by die hok kom, toe is daar ‘n pragtige lammertjie wat ons inwag. Aan die begin wou die ooi hom nie hê nie en het ons amper met nog ‘n hanslam gesit. Albei doen darem beter op die oomblik.

Met Ounooi gaan dit ook nou stukke beter. Haar nek is nog nie heeltemal gesond nie, maar dit het al baie verbeter. Sy het nie meer ‘n verband nodig nie en is ook weer haar ouself… vol skop en sprongetjies. Ons het ontdek dat sy ‘n groot liefde het vir Simba Beef chips. Nadat sy eers een geproe het, wou sy net nog en nog hê. As jy nie vir haar wil gee nie, trap sy met haar een voorpoot teen jou been totdat jy vir haar nog gee.

Ons was bekommerd dat ons ganse nie hierdie jaar tot broei gaan kom nie, maar so ‘n paar dae gelede het hulle ons lekker verras. Ons het op twee verskillende neste afgekom… een met 2 eiers en een met 3 eiers. Nie een van hulle het al begin broei nie, maar ons pas die eiers baie mooi op. Die honde is nog bedags op hok (sodat Ounooi heeltemal kan herstel) en saans wanneer hul uitkom tel ons eers die eiers op. Hopelik kry ons hierdie jaar klein gansies.

Nou ja, ek dink dit is eers al nuus vir vandag. Laat hoor gerus hoe dit met julle gaan.
Geniet die week wat voorlê!

Veeartsgroete,
Anoesjka