Skip to content

30 April 2008, Woensdag

Januarie 14, 2009

Goeie middag!

Hoop dit gaan goed met julle almal? Alleen hier op die plaas verlang mens soms na ‘n bietjie geselskap, so laat gerus van julle hoor. Is dit nie ‘n wonderlike gedagte dat dit gister Maandag en vandag Vrydag is nie? Ek sien uit na ‘n rustige lang naweek. Alhoewel my skoonsuster, haar man en kinders kom kuier, so dit sal seker nie te rustig wees nie. Die kinders is mos soggens nog voor die hoenders aan die gang – dit maak darem die dag dan so ‘n bietjie langer  :-)

So van hoenders gepraat… die hele hoender familie (een haan, twee henne en een kuiken) slaap mos nou saans op ons voorstoep. Daar is so ‘n rankplant en dis nou waar hulle elke aand gaan sit – so hoog as moontlik. Middae… ongeveer die tyd… kom raas hulle hier op die stoep. Die een hen lê nou haar eiers hier in ‘n blombak op die stoep regs langs die voordeur – nou hoef ek darem nie ver te loop om eiers te gaan uithaal nie. Gister het twee van die eiers op ‘n baie misterieuse manier net spoorloos verdwyn. Die vorige kere wat eiers verdwyn het was dit agv ‘n likkewaan of slang, maar nou dat die eiers reg langs die voordeur lê verkies ek maar om te glo dat dit nie weer een van daai twee kon wees nie. My 3 klein pikkels raak ook nou mooi groot. Ons is nog nie 100% seker wat hulle is nie – moontlik ‘n haan en twee henne. Hulle is te kostelik. Hul slaap nog steeds saans in die kombuis in ‘n hokkie maar bedags laat ons hulle nou buite rondloop. Ons gaan kyk maar net so af en toe waar hulle is. Hulle is so mak, hulle kom sommer aangehardloop as hulle my sien / hoor.

Ek beplan om die naweek bietjie te verf. Jaco het vir Blikkie en Bruno (die groot honde) ‘n hok gebou. Dit is darem nou saans net te koud buite. Op ‘n stadium het ons al onder twee komberse en ‘n duvet geslaap. Vandag skyn die sonnetjie lekker buite, maar sodra hy sak is dit winter. In die huis is dit ook maar koud. Om terug te kom by die hok… dit was gister die honde se eerste aand in die hok. Blikkie het die hok vreeslik geniet, maar Bruno het net geweier om daarin te slaap. Jaco het als probeer om hom daar in te kry, maar sodra hy wegloop dan kom die hond ook weer uit. Sal hom maar vanaand met biltong of iets daarin probeer lok en hoop hy bly daar. Hoekom sal jy dan nou buite op die yskoue sement wil slaap as jy ‘n heerlike warm hok met komberse het? Ek wil die hok graag die naweek probeer verf… sal maar sien hoe ver dit kom.

Met Tinkie en Kiddo gaan dit goed. Hulle het deesdae die nuwe gier om vir ure lank te verdwyn – is juis weg op die oomblik. Het nou die aand eers hier by 9-uur terug gekom. Ek was natuurlik al rasend van bekommernis! Ons roep en fluit hier buite, maar hulle kom eers wanneer hulle wil terug. Geniet hulle natuurlik gate uit. Ons is net bang dat hul moontlik in tonnels onder die grond inklim en dalk nie weer kan uitkom nie. Hulle is mos gebore jagters, so ek gun hulle maar die plesier solank as wat hulle weer huis toe kom.

Die ganse is deur die genade darem nog almal met ons. Een Sondagnamiddag toe dit nou tyd raak vir die diere om kos te kry, sien ons daar is net twee ganse in plaas van vier. Daar het ‘n ysige koue wind buite gewaai en die maan het soos ‘n geel vol kaas in die skemerlig gehang – het pragtig gelyk. Ek het begin roep en my verbeel ek hoor geluide ‘n ent verder weg (anderkant die omheining). Ek en Jaco is uit by die hek en het in die rigting van waar ek die geluide gehoor het begin loop. Ons kom toe op die skokkende toneel af van Bruno wat met ‘n mond vol vere staan. Reg rondom hom was daar vere… en onder die bos het die een gans gelê. Indien moontlik, het ek myself nog kouer geskrik. Hoewel die ganse my soms wil rondjaag, is dit die laaste manier waarop ek wou hê hulle moet doodgaan. Jaco het die gans opgetel en gesien hy lewe nog. Wonder bo wonder het hy net ‘n hele paar vere verloor. Een gans was toe nog vermis. Was bang dat die honde hom moontlik reeds opgeëet het, maar ons kon nêrens nog vere of bloed of iets sien nie. Na ‘n gesoek het ons hom ‘n hele paar meter verder sien staan – ongeskonde. Toe kos dit vir Jaco om eers die gans te gaan vang. As dit nie was dat ek toe nog aan skok gelei het nie, sou dit nogals ‘n goeie foto-oomblik gewees het. Bruno het die nag in ‘n hok deurgebring sonder kos – as sy straf. Die volgende oggend (nadat hy kos gekry het en uitgelaat is) het hy sowaar weer vir dieselfde gans kans gesien. Jaco moes maar die sweep inspan. Tot op hede het hy nog nie weer die ganse gepla nie. Ons hoop maar dit bly so, want ons is bang as hy eers bloed geproe het, mag hy dalk lammers ook begin vang. Dit lyk darem of hy meer wou speel as jag.

Skoonma het toe nou die dag vir ons die kerrie-afval kom maak. Het heerlik gelyk en geruik (nadat die kerrie en uie bygekom het), maar ek het nogtans nie die moed gehad om daarvan te proe nie.

Ons het die naweek ‘n sonstoof by skoonma gekry (was hare maar sy gebruik dit nie meer nie). Vandag het ek nou die ding uitgetoets. Het hoender en rys vanoggend al daarin gesit. Dis net so ‘n ding wat jy buite in die son sit met ‘n deksel wat oplig. Jy sit jou kos in spesiale swart enamel potte, dan daar binne-in. Julle sal nie glo hoe warm word dit nie. Ek het vroeër gaan loer hoe dit lyk en het omtrent my vinger verbrand toe ek die deksel wil oplig. Is angstig dat dit nou aand moet word sodat ons daarvan kan proe. Sal volgende keer laat weet hoe dit was.

Jaco is vandag by die kraal besig om lammers te merk. Ek het vroeër gou gaan loer hoe hulle lyk. Daar is nou so ongeveer 50 klein lammertjies. Hulle staan apart van hul ma’s… so stel jul nou net voor watse geraas dit is. Jou kop kan dit amper nie hou nie soos die lot blêr. Ons boer mos met Dorpers (wit lyf met swart kop), maar daar is een lammertjie wat so ‘n ligte bruin kop het – te oulik. Die arme bloedjies word nou vandag gemerk (kry gate in hul ore met oranje tags aan en hul sterte word afgesny – shame). Daar was een lammertjie met so ‘n dik swelsel onder sy keel (net ‘n groot knop onder sy vel). Jaco het gereken dis ‘n sweersel en gesê hy en Jan moet dit oopsny. Toe ek dit hoor, het ek my maar uit die voete gemaak. Ek kan nou maar eenmaal nie daai deel van die boerdery hanteer nie.

Genoeg nuus vir vandag. Geniet julle laang naweek!!

Lammergroete,

Anoesjka

PS: Ek het weer nuwe fotos opgesit http://www.putfile.com/anoesjka onder die Plaas Album

Comments are closed.

%d bloggers like this: