Skip to content

30 Mei 2008, Vrydag

Januarie 14, 2009

Hallo almal!

Dankie vir die van julle wat nog gereeld van julle laat hoor. Dan is daar ‘n paar van julle wie se naam nog so verlangs ‘n klokkie lui.

Dit is maar ‘n onplesierige dag vandag. Die wind waai en dis bewolk – het al ‘n paar druppels geval, maar niks noemenswaardig. Ek is nou maar eenmaal nie gemaak vir die winter nie! Die vorige paar dae was dit vriesend koud – veral vir my wat so moet stil sit voor die rekenaar. Ons koolstoof is darem vandag aan en die kombuis is heerlik warm – dink ek moet my kantoor daar gaan inrig. Ons het selfs ‘n dag gehad waar hier dik mis gehang het. Die son het eers hier na half 12 die middag deur die mis begin brand. O en nog ‘n ding van die winter… dit lyk my die spinnekoppe kry ook koud, want ons het nou al 3 bobbejaanspinnekoppe in die huis gekry. Grrrrrrrrr. Die enigste voordeel is dat die mot- en muskietplae nou aansienlik minder is.

Kan julle glo Sondag sal dit ‘n jaar wees wat my pa nie meer hier is nie. Party dae tref dit my nog soos ‘n skok en ander dae kan ek nie glo hoeveel tyd is al verby nie. Die afgelope jaar sal ek seker nooit vergeet nie. Dankie vir elkeen van julle se ondersteuning en vriendskap. Ek en Jaco waardeer dit.

Verder gaan dit nog goed hier. Het omtrent ons hande vol gehad met kwepers die vorige twee weke. My ouma (van Vosburg) het hier gekuier en deur die dag vir my kwepers geskil en saans het ek dit dan net gaan kook en bewerk.

<onderbrekeing> Sjoe, nou’t ek eers geskrik toe Jaco my roep en sê ek moet melk in sy oog kom gooi. Jan (wat hom op die plaas help) het nie die skaap so lekker vasgehou nie en toe Jaco die dip aansit toe skop die skaap van die dip op Jaco uit… en in sy een oog. Het vreeslik gebrand, maar lyk darem nou weer fine.

In elk geval, om terug te kom by die kwepers. Ons het kweperlekkers, -konfyt en -blatjang gemaak. En vir ‘n eerste probeerslag, sal ek sê dit het nie te sleg uitgekom nie. Alles is darem eetbaar (en lekker)… ons sal nou net moet sien of dit die toets van tyd deurstaan. O… en net vir ingeval julle dink dat ek my ouma misbruik en haar in die werk steek as sy kom kuier… sy is ‘n mens wat nie vir ‘n oomblik wil ledig sit nie. Sy vra vir werk, al is sy al 86 jaar oud! My tannie het vir ons ‘n klomp lemoene gebring en daarvan het ons toe sommer marmelade gekook. Iets wat ek nooit voorheen geëet het nie, maar wat is dan nou lekkerder as tuisgemaakte marmelade. Het nog ‘n hele klomp lemoene wat ek die naweek sal moet begin bewerk.

Jislaaik… die nommer-asb-telefoon het nou so knaend gelui dat my ore nou nog sing.

My pikkels (die 3 kuikens) raak nou groter by die dag. Hulle lê nou saans daai voëlhokkie amper vol – ja, hulle slaap nog steeds saans in die kombuis. Hulle raak nou al so oulik hulle sal sommer by die agterdeur inloop as jy dit vir hulle oop maak. Het vir Jaco gesê hy sal nou maar ‘n stellasie vir hulle in die kombuis moet bou  ;-)

Verder loop hulle al agter my aan as ek buite kom en hulle sien my. Maar dit gaan nog ‘n tydjie wees voor hulle volwaardige hoenders genoem kan word.

Ons rooi hennetjie is tans weer besig om op 10 eiers te broei. Sy het vir lank so haar eiers weggesteek dat ons nie geweet het waar sy lê nie. Toe op ‘n dag hoor ek die ganse maak ‘n vreeslike bohaai. Hulle is toe besig om die arme hennetjie aan te val. Kyk.. met daai vier ganse mors jy nie sommer nie – hulle is die base van die plaas. Hoekom hulle haar aangeval het weet ek nou nog nie, want sy het net rustig op haar eiers gesit en broei. Dis toe dat ek nou die nes ontdek het. Jaco en Jan het haar nou geskuif na die duiwe hok (met eiers en al) sodat sy eerder haar kuikens daar kan uitbroei. Dis darem veiliger – weg van al die gevare. Dis ook nie sommer net vir tel haar en die eiers op en skuif dit nie. Nee, ‘n hen gaan sit nie sommer weer op haar nes as jy daar gekarring het nie. Ons moes vir twee dae ‘n boks oor haar en die eiers sit sodat sy nie daarvandaan kon padgee nie. Dit het darem gewerk… sy sit nou bankvas op haar eiers. So oor ‘n paar weke is hier weer klein goedjies wat piep sê.

Deur die genade is al die honde nog met ons. Bliksem het mos besluit om sy naam gestand te doen en die ding te gaan aanvang wat ons die meeste gevrees het…. om lammers te gaan vang. Jaco het gelukkig gesien toe hy dit doen, maar dit was te laat. Die lammertjie was in die bors gebyt. Jaco het wondgoed aangesit, maar ‘n paar dae later het ons die lammertjie dood in die veld gekry – van sy ribbes was gebreek. Blikkie het egter nie by daardie een lam volstaan nie. Nog een is die dag daarna in die nek gebyt. Sover ek weet, lewe hy darem nog. Dit is vir ons ‘n groot bekommernis, want hulle sê as ‘n hond dit eers een keer gedoen het, dan sal dit maar kos om hom dit afgeleer te kry. Blikkie het nie ligtelik daarvan afgekom nie, maar ten minste is sy lewe gespaar. Onder andere was hy aan ‘n ram in die kraal vasgemaak… net om hom so ‘n bietjie van ‘n vrees vir skape te laat ontwikkel. Tot vandag het hy darem nog nie weer so iets aangevang nie en vir sy (en ons) part hoop ek dit bly so. Bruno, Tinkie en Kiddo is darem almal nog op die been. Tinkie het haar lyf jagter gehou en nou die dag ‘n muis dood gemaak. Sy was baie trots daarop.

O ja, ek het laas vir julle vertel van die kos wat ek in die sonstoof sou kook. Dit het nogal glad nie sleg uitgekom nie (was darem gaar) en in die somer sal ek beslis meer van die stofie gebruik maak. Ek het wel geleer dat hy nie so lekker werk om ‘n brood in te bak nie – hy kan hom pragtig mooi laat rys… totdat hy platval.

Skapie en Mookie is steeds mekaar se beste vriende op aarde! Oral waar die een gaan, gaan die ander. Skapie is tot barstens toe vet en Mookie dring daarop aan dat hy nog sy melk in die oggende nodig het.

Jaco spandeer deesdae baie tyd in die veld met die wat dit nou lam-seisoen is. Kom party aande eers donker by die huis. (Hy werk maar vir ‘n kwaai baas). Sover hy kan agterkom het ons nog nie enige skade gely agv jakkalse die seisoen nie, maar hy het wel in die week vars spore in ons veld gekry (3 verskillendes, waarvan een sommer ‘n groot jakkals was). Al wat ons kan doen is om te hoop dat hulle nie gaan begin maai onder die lammers nie, want ‘n jakkals vang jy nie sommer nie.

More is dit weer tyd vir ons maandelikse uitstappie De Aar toe🙂 Ek het klaar gehoor ons moet more al net na 4 opstaan! So vanaand gaan ek sommer saam met die hoenders al in die kooi kruip.

Nou ja, laat ek eers groet.

Geniet die naweek!!

Groete uit die koue Karoo,

Anoesjka

http://www.putfile.com/anoesjka/albums/

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: