Skip to content

18 Junie 2008, Woensdag

Januarie 15, 2009

Hallo almal!

Ek is so opgewonde dat ek nou nie langer kan wag om vir julle te vertel nie. Ons rooi hennetjie het oor die naweek die trotse ma geword van 9 kuikens. Hulle is te pragtig! Piepklein geel en swart donsies wat tog so rats rond skarrel. Hoe daai 9 lyfies hulself so kan versteek onder die hen se lyf weet ek nie, maar as jy die hen net so vinnig kyk, sal jy nie eens weet daar is kuikens nie. Maar nuuskierigheid laat kort-kort ‘n gesiggie onder die vere uitloer. Dis so oulik om te sien hoe ma-hen vir hulle wys hoe om te skrop en te pik – nie dat hulle dit nodig het nie. Dit is mos maar natuurlike instink vir hulle. Ek sal ‘n video-clip van hulle oplaai (later vanaand of more).

My opgewondenheid is wel vanoggend ‘n bietjie gedemp. Ons bruin hennetjie broei nou ook al ‘n geruime tyd op haar twee eiertjies – net links van ons agterdeur sommer op die stoep. Iets het vanoggend haar eiers opgevreet. Het skoon hartseer vir haar part gevoel want sy sit nou al so lank en broei en nou het sy niks. Sy het net opgestaan om bietjie water te gaan drink. Ons vermoed dit was alweer ou Blikkie wat die skuldige een is. Het die eierdoppe nie ver van die nes gekry nie. Die hen het daarna weer op haar nes gaan sit… so asof daar nog iets is. Sy sit nou nog en broei…

Onthou julle van die hondehok wat Jaco en Jan vir die groot honde gebou het? Ek sou hom mos al geverf het, maar het nog nie daarby gekom nie. Jaco het intussen al die onderlaag aangesit. Die honde geniet hierdie hok vreeslik… en die hoenders… en die ganse. Ja… nou die dag hoor ek sulke vreeslike krap geluide en gaan loer toe wat hier buite aangaan. Kry toe die haan en een van die henne binne in die hok besig om te skrop. En ‘n ander dag was dit weer die ganse se beurt om die hok te verken. Al vier van hulle was in die hok. Steek net kort-kort ‘n lang nek by die deur uit en as hy sien jy kyk vir hom trek hy weer sy kop terug. Ons moes hulle maar daar uit”jaag” want hulle kan nou vir jou vreeslik mors. Hulle torring aan al wat ding is. Of dit nou yster, tou of plante is. Het nou al al my plante op die stoep verniel. As ek daar kom dan lê daar maar net ‘n hoop blare en takkies op die grond waar die plant eens was.

Het ek al gesê dat die ganse dink hulle is die base van die plaas? Al is ek die een wat elke aand vir hulle kos gee, het hulle my nou al ‘n paar keer aangeval. Nou die dag het ek eintlik al gevoel hoe die gans sy snawel in my vleis inslaan, so amper was dit. Ek het een vreeslike gil gegee en toe ek weer kyk is Jaco langs my. Ek het glo so gegil dat ek porselein kon laat bars. Maar dit was ook die eerste en die laaste keer wat hy tot my redding wou kom. Nou vind hy dit vreeslik amusant as die ganse my wil aanval. Eintlik is dit een gans… die witte. Ek het nog nooit gans geëet nie, maar ek is seker dit kan lekker wees🙂

Met die ander diere gaan dit nog spekvet en gesond. Ou Mookie en Skapie het nou die dag van mekaar verwyder geraak – een was aan die voorkant van die huis en een aan die agterkant. Weet nie eintlik hoe dit gebeur het nie, maar hulle het omtrent ge-mooh en gemêh om mekaar weer te vind. Hulle is tog so lief vir mekaar. Alhoewel… as dit by die kosbak kom (lusernpille) dan word ou Skapie maar soms ‘n bietjie gerofstoei deur Mookie. Mookie kan mos nooit genoeg kry as dit by kos kom nie en sy moet seker ook so af en toe haar horinkies uittoets. My 3 pikkels raak steeds groter by die dag. Hulle is nogal ‘n “treat” om dop te hou. Hulle hou daarvan om vlieënde insekte te jaag en vanoggend het een dit reggekry om ‘n insek te vang. Maar hy het maar gesukkel om sy vangs vir homself te hou. Die ander twee het soos honger aasvoëls agterna gehardloop. Sodra hy dink dis veilig om sy versnapering neer te sit en rustig daaraan te pik, dan is die ander twee langs hom.

Hoop julle het almal ‘n heerlike lang naweek gehad? Ons het eintlik baie lekker weer gehad, maar vandag is die koue onplesierige wind weer terug. As mens in die stad is, besef jy nie eintlik hoe bevoorreg jy is om so baie dinge so maklik tot jou beskikking te hê nie. Ons naaste twee dorpe is Vosburg en Britstown (beide so 30 km van ons af). Daar kan jy basiese goed kry soos brandstof, drank en as jy gelukkig is ‘n vars brood. Dan is daar De Aar waar ons ons inkopies doen (ongeveer 80 km van ons af). Nou kyk… as jy net een keer in ‘n maand jou inkopies kan gaan doen, dan sal dit nogal gaaf wees as jy kan kry wat jy soek. As jou tydsberekening reg is, kan jy dalk kry wat jy soek, maar oor ‘n naweek, aan die einde van die maand, werk dinge nie so lekker nie. Daar was byvoorbeeld geen suurlemoensap, Doritos chips, crushed garlic en ook nie van die koffie, botter, viennas, hoender of wors wat ons altyd koop nie – om maar ‘n paar te noem. So volgende keer as jy weer winkel toe gaan, kyk bietjie om jou rond en waardeer die groot verskeidenheid.

Het ek julle al die wonder van ‘n gas yskas vertel? Of miskien is dit nie noodwendig enige gas yskas nie maar ten minste ons gas yskas. In die somer werk hy soos ‘n bom – onder verkoel hy en bo vries hy. Solank jy hom nie te veel oop en toe maak nie en solank jy sorg dat die bottel genoeg gas in het voor jy beplan om vir ‘n dag De Aar toe te ry. In die winter is dit ‘n heel ander storie. Nou het ons ‘n vrieskas (bo en onder). Aan die een kant is dit ‘n goeie ding want ons het altyd ‘n probleem met die klein vries spasie, maar as jy ‘n blikkie coke in die yskas vergeet is dit ‘n ander storie.

Wag, die son begin al sak en ek moet gou die ganse en hoenders gaan kos gee.

Kuikengroete

Anoesjka

http://www.putfile.com/anoesjka/albums/

Hier is gou nog nuus.

My Pikkel-haantjie het vanoggend vir die eerste keer probeer kraai en ek is so trots op hom. Dit kan nog nie eintlik ‘n kraai genoem word nie, maar ten minste probeer hy baie hard. Ek het ‘n stukkie op video geneem en julle kan hier http://www.putfile.com/anoesjka/media daarna gaan luister. Dis nie baie goeie beeld nie, maar dis die klank wat belangrik is. Daar is ook clips van die nuwe kuikens.

Dis ‘n koue, winderige wintersdag hier in die karoo. Die wind het wel nou so ‘n bietjie rustiger geraak en hier val sagte reën druppels. Ek hoor dit sous omtrent in die Kaap en dit klink soos die perfekte dag vir my ouma se ertjiesop en vetkoek.

Ek moet groet tot volgende keer.

Kraaigroete

Anoesjka

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: