Skip to content

6 Augustus 2008, Woensdag

Januarie 15, 2009

Hallo almal!

Hoop dit gaan goed met julle? Jammer ek het so lank laas van my laat hoor, maar die afgelope tyd was maar taamlik dol. Eers was ek vir twee weke in die Kaap, toe net twee weke by die huis en toe weer amper twee weke in Pretoria. Nou is ek darem weer by die huis tot en met November maand. Dan is dit weer Kaap toe vir my suster se troue.

Dit is wonderlik om weer terug te wees by die huis… by Jaco, al ons dierekinders en die wye vlaktes. Ek besef weer opnuut hoe bevoorreg ons is om hierdie lewenswyse te kan geniet.

Die afgelope naweek het ons die wonderlikste weer gehad. Lekker sonskyn dae met geen wind, maar vandag is die wind weer met mening terug. Is darem gelukkig nie koud nie – ek het nou net mooi genoeg van die koue gehad. Het ek al vir julle gesê dat dit so koud was dat ons water in die krane party dae gevries was? Dit was bitter koud, maar het eintlik nie so lank aangehou nie. Die eerste tekens dat dit begin somer word is reeds daar. Die vlieë raak nou weer lastig buite en daar is enkele motte wat saans in die kombuis rond fladder. Maar ek gaan nie daaroor kla nie… ek is net te bly die somer is op pad.

Daar was egter ‘n demper op my aankoms by die huis Donderdagaand… Op pad van die busstop af uit plaas toe het ons ‘n steenbokkie raak gery. Eers het ons een links van die pad gesien staan en terwyl ons nog vir hom dophou toe spring daar nog een van die regterkant af voor ons in en… doef. Dit het so skielik gebeur. Jaco het uitgeklim en die bokkie op die bakkie gelaai – hy het nog gelewe, maar kon nie meer hardloop nie. Teen die tyd wat ons by die plaas aangekom het, was die bokkie dood. Ons het regtig baie sleg gevoel daaroor. En die ergste van alles is dat dit ‘n dragtige ooi bokkie was. Die klein bokkie was al ten volle ontwikkel en sou waarskynlik binne die volgende paar dae gebore geword het. Die lewe kan so wreed en onregverdig wees.

Laat ek nou probeer onthou wat alles in die afgelope maand en ‘n half gebeur het…

Laas het ek vertel van die rooi hennetjie se 9 kuikens wat uitgebroei het. Een van hulle het dit egter nie gemaak nie – die arme dingetjie het verdrink. Met die ander 8 oorblywendes gaan dit baie goed. Ons het hulle op hok gehou vandat hulle uitgebroei het tot en met die naweek wat verby is (dis omtrent ‘n maand en ‘n half). Saterdagoggend het hulle vir die eerste keer die voorreg gehad om die dag buite in die son deur te bring. Ons laat kom hulle nou elke dag uit, maar gaan kyk so elke paar uur of hulle nog voltallig is. Ons is maar baie versigtig, want hier is valke en muishonde wat graag ‘n versnapering van hulle sal wil maak. Die bruin hennetjie het ook nou weer haar sit gekry en die slag op 9 eiers. Sy sit nou in ‘n toegeboude hok so hopelik kom daar nie weer iets by haar eiers uit nie. Spikkel is nou so te sê ‘n volwasse hoendertjie. Sy het nog nie ‘n eier gelê nie, maar ek glo nie dit sal meer te lank wees voor dit gebeur nie.

En dan is daar nog my 3 Pikkels… Hulle raak nog steeds groter by die dag. Ons was onder die indruk dit is ‘n haan en twee henne, maar nou het een van die hennetjies ook begin kraai! Ons hoop maar dat sy net ‘n identiteitskrisis ondergaan. As sy egter ook ‘n haan is, mag ons dalk ‘n klein probleempie hê. Dit is glo hoogs waarskynlik dat die twee hane gaan baklei as hul groot is. Die oplossing sal wees dat een van hulle moet pot toe…. maar mens eet mos nie jou kinders nie! Nee, ons sal maar ‘n ander plan moet maak. Die drie slaap ook nog steeds saans in die kombuis, al is hulle nou al so groot. Omdat hulle in ‘n hokkie groot geword het, ken hulle nie van op ‘n stellasie sit en slaap nie… nee, hulle lê plat op die grond en slaap. Dit is nou ietwat van ‘n probleem. As hulle buite slaap, sal hulle moet leer om hoog te sit en slaap sodat muishonde en goed hulle nie sommer in die nag kan vang nie. Ons het hulle al in die rankplant op die stoep gesit waar die ander hoenders snags slaap, maar hulle wil niks daarvan weet nie. As ons maar sien dan kom sit hulle voor die agterdeur en wag om in te kom.

Mookie (Hannie) groei nog in lengte en breedte. Sy het nou al stewige horingkies. Ou Skapie (Baba) groei net in breedte – as dit enigsins nog moontlik is. Hy is plat vet en sal ernstig ‘n dieet moet begin oorweeg. Die twee is steeds onafskeidbaar. Die ganse het egter nou nie net hul snawel in vir my nie, maar ook vir Mookie. So groot soos wat sy is, is sy amper banger vir die ganse as ek. Sy laat spaander omtrent as die ganse net hulle nekke in haar rigting draai. Maar ek weet presies hoe sy voel🙂  Die wit gans het egter ‘n sagte plekkie vir Bruno en Bliksem. Hy hou daarvan om aan hul lywe te knibbel en die honde staan maar ewe rustig stil daarvoor en geniet die aandag wat hulle kry.

Met Jaco gaan dit goed. Hy geniet elke oomblik van boer wees en is maar altyd besig met ‘n ding. Het nou die dag weer 3 stukkende windpompe gehad om reg te maak. Op die oomblik is hy en Jan in die veld besig om skaap bymekaar te maak. Die lammers se klokke moet verstel word en nuwe lammers moet gemerk word. Sover lyk dit of ons ‘n goeie lammer seisoen gaan hê, maar ons het al vier lammertjies dood in die veld gekry wat definitief gebyt was – jakkalse. Het ook enetjie gekry wat lyk of hy dood gebore is. Teen more, wanneer hy nou klaar al die kampe deurgegaan het, behoort ons te weet of daar nog lammers vermis word en hoeveel.

Verder kan ons net getuig dat die Here regtig vir ons sorg. Soms kyk ons terug en wonder hoe het ons deur hierdie maand gekom, maar Hy is goed vir ons en voorsien op wonderbaarlike maniere. Ek het julle al gesê dat ons nog ‘n bul moet koop vir Mookie, MooMamma en Ousus. ‘n Bul sal ons ‘n paar duisend rand kos. Onthou julle dat Mookie se ma en ousus eers op ons buurplaas geloop het saam met die beeste daar? Hulle het mos geweier om hier by ons te bly. Nadat die beeste daar verkoop is en MooMamma mos vir ‘n tyd lank op tou gestaan het, het ons hulle sover gekry om hier te bly. Hierdie twee beeste is egter baie wild en is op die oomblik in ‘n kamp nie naby die huis nie. Nou die dag toe Jan in die veld is, ontdek hy toe dat twee nou drie geword het. Ja, ons het ‘n nuwe kalfie! Dit is ‘n pragtige ou dingetjie – ‘n rooibruin kleur lyf met ‘n wit kop. Dit was regtig onverwags, want ons het nie eens geweet Ousus is dragtig nie. Dit is nou haar eerste kalf en om alles te kroon is dit ‘n bulletjie. Nou hoef ons nie meer ‘n bul te koop nie. Ons kon nog nie agter kom of MooMamma dalk ook dragtig is nie. Jaco wil nou die beeste skuif na die kamp om die huis sodat ons kan probeer om hul meer mens-mak te kry, maar dis glad nie so maklik nie. Hy het nou die dag twee perde gehad waarmee hulle die twee beeste en kalfie probeer aanjaag het, maar daai beeste wil nie vir hulle laat aanjaag nie. Nee… hulle wou eerder die perde jaag. Hy is nou besig om aan ‘n ander plan te werk.

So van perde gepraat… seker so bietjie meer as twee maande gelede het die twee perde op die buurplaas mos ‘n vulletjie gehad. ‘n Pragtige dingetjie! Maar hy was nie lank daar nie toe het hy net spoorloos verdwyn. Ons dink maar iemand het hom gesteel. Ek kan nie glo wat die mense alles aanvang nie.

Wel, ek moet eers groet. Laat dit goed gaan met julle.

En onthou… gister is verby…. more is nie gewaarborg nie…. so maak die beste van vandag!

Kalfgroete

Anoesjka

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: