Skip to content

1 September 2008, Maandag

Maart 22, 2009

More

Soos hulle mos sê “no news is good news” so ek vertrou dit gaan goed met julle almal🙂

Hoop julle het elkeen ‘n wonderlike Lentedag. Hier is dit winter van vooraf – klink my dit is orals maar die geval. Ons het omtrent stormweer gehad die heel naweek. Was vriesend koud, het gereën en die wind het onophoudelik stormsterk gewaai – letterlik stof uit die aarde uit gewaai. Vanoggend lê die ryp sommer weer wit op die grond. Maar die tekens van lente is definitief hier. Die perskebome bot pienk en orals in die veld is bosse wat blom.

Die ganse is nog broeis. Die slegte nuus is dat die nes van 5 eiers waarvan ek laas vertel het, almal opgeëet is. Ons het nog ‘n nes van 5 eiers ontdek en intussen is dit ook opgeëet. Hulle het weer daarna enkele eiers begin lê op ander plekke, maar soos wat dit gelê word, word dit sommer ook opgeëet. Die goeie nuus is dat ons wel uitgevind het wie so ‘n eierlus ontwikkel het… Bruno! Dis g’n wonder die hond raak nou so lekker vet nie. Ons het hom gister op hok gesit en gisteraand het ons sommer weer twee gans eiers gehad. Maar die oomblik wat hy uit die hok gekom het, het hy een van Spikkel se eiers gaan eet. Gelukkig het ons hom op heterdaad betrap en het hy ‘n goeie pak slae weg. Vandag is hy maar weer op hok. Ons hou nie daarvan nie, maar ons moet iets doen om hom te laat verstaan dat hy nie net al die eiers kan opeet nie. Ons rooi hennetjie het nou vir ‘n tyd lank in ‘n blompot op die voorstoep haar eiers gelê… tot Bruno hulle ook ontdek het. Gewoonlik los ek een eiertjie in die nes sodat die hen weer daar kan kom lê. As alles weg is dan gaan lê sy weer op ‘n ander plek. So moes ek nou al twee keer winkel eiers in haar nes gaan sit omdat Bruno die ander opgevreet het. Maar selfs hulle kon nie Bruno se kake vryspring nie. Spikkel broei nou op 9 eiertjies. Dit sou 12 gewees het, maar Bruno het een weg en ek 2 (het eiers nodig gehad vir vetkoek).

Terug by die ganse… hulle raak nou net al hoe stouter. Ek loop nêrens meer sonder my stok nie – dis nou vir selfverdediging. Nou nie asof die wit gans hom enigsens deur my stok laat intimideer nie. Ek help nou die dag vir Jaco mis aanry met die kruiwa. Terwyl ek die mis van die bakkie af laai in die kruiwa, staan die ganse heeltyd daar om my. Ek vertrou hulle glad nie, so het heeltyd een oog op hulle en een oog op wat ek doen. Toe ek nou eindelik die kruiwa vol het, die graaf neersit en die kruiwa wil begin stoot na waar Jaco dit nodig het, toe besluit die gans nou is sy kans. Soos wat die gans nader kom loop ek agteruit – sonder om ‘n oog van die gans af te haal.  Soos wat ek ritereer en nie kyk waar ek loop nie slat ek amper neer oor ‘n stuk pyp. Kyk, die gans laat my nou eenmaal dinge sê wat eerder kon gebly het. Mookie is so bang vir die gans… as die gans net vir hom kyk dan laat spat hy al, maar Skapie aan die ander kant laat hom nou nie afskrik deur ‘n gans nie – of dalk is hy net te dom om te weet wat is goed vir hom. Gister het die wit gans omtrent vir Skapie laat les opsê. Hy het hom beetgekry aan sy wolle en nie gelaat los nie. Skapie het toe die nodigheid gesien om te hardloop maar die gans het geklou – hy het letterlik aan arme ou Skapie gehang. Dit het nou net my vrese vir die ganse vererger. Selfs my arme Pikkels het al ‘n paar vere verloor in ‘n poging om van die ganse af weg te kom. Hulle ruk nou regtig hand uit. Spikkel is vanoggend van haar nessie af gejaag deur die ganse – dit het gelyk of hulle haar eiers wou hê. Gelukkig het Jaco hulle betyds gekeer voor hulle enige skade kon aanrig.

Woensdagaand laas week, was dit jagnag. Jaco se swaer sou saam met hom en Jan gegaan het, maar kon dit toe nie meer maak nie. Die jagtery kon ook nie uitgestel word nie, want ons het klaar met die abbatoir gereël en die maan en weer was reg. Ek is toe aangewys as die bestuurder, Jaco skiet en Jan werk die skietlig. Die nag was donker en koud, maar gelukkig het die wind nie gewaai nie. Ons is so 20h00 hier weg van die huis af en het sommer gou die eerste bok gekry. Dit was ‘n ver dragtige ooitjie. Jan het haar oopgesny, die bokkie uitgehaal en Jaco het mond-tot-mond gedoen, maar die bokkie was reeds dood. Die ryery was lekker, maar ook nogal stresvol. Jy moet wakker wees. Ons het in die veld gery (nie in die paadjies) so dit gaan maar skud-skud. Verder is dit stikdonker en het ek soms nie geweet waar is Noord of Suid nie, wat nog te praat van die huis.

Ek moes ook uitkyk vir gate en groot klippe en wonder bo wonder het ek almal mis gery. Ons het selfs nie eens ‘n papwiel gekry van al die driedorings waardeur ons moes ry nie. As daar op die dak geklop word moet ek onmiddellik stop en die bakkie dood maak. Ek hou sommer outomaties op met asemhaal ook… totdat die skoot geklap het. Ons het ‘n pragtige groot uil in die veld gesien (sommer so amper langs die bakkie), maar ek weet nog nie watter soort dit was nie. Ongeveer ‘n uur nadat ons van die huis af weg is, skiet Jaco toe die tweede bok. Onmiddellik sit ek toe voet in die hoek na waar die bok gelê het – vir ingeval dit ook ‘n dragtige ooitjie was. En sowaar. Met die aankomslag kon ons sien hoe die klein bokkie nog in die ooi se maag skop. Jaco en Jan het dadelik begin met ‘n noodkeiser en sekondes later toe staan hulle met die pasgebore bokkie in die hand. Ek het nog nooit so iets beleef nie. Ons het hom toegedraai in ‘n kombers en langs my op die bakkie se sitplek gesit. Hy (‘n ram bokkie) was nog papnat en slymerig, maar hy wou lewe. Hy was pragtig en het die oulikste neusie gehad. Dit het so vorentoe en agtertoe op ‘n plooi getrek soos wat hy asemhaal. Ons het dit sy “neusie van hoop” genoem, want elke keer as ons wil kyk of hy nog lewe kyk ons net vir die neusie.

Op pad huis toe het Jaco eers nog ‘n bok geskiet. Grootbok (soos ons die rammetjie gedoop het) was sommer nog sterk aan die asemhaal. By die huis het ons vir hom in ‘n boks met warm komberse voor die koolstoof gesit om lekker droog te kan word. Toe moes ek eers gou op die internet gaan soek hoe maak ‘n mens kunsmatige bies. Het vir hom melkies gegee en ook ‘n warmwatersak by hom in die boks gesit, toe is ons weer veld toe. Die volgende oggend 06h00 het ons huis toe gekom met die laaste bokke – hulle was toe twaalf in totaal en almal kop skote. Daarna moes die laaste vier nog geslag word, maar gelukkig was my werk toe klaar. Ons was skaars by die huis toe my selfoon lui… my suster se seuntjie is daardie selfde nag gebore, ook met ‘n noodkeiser.

Teen daardie tyd was ons drie al stokflou, maar ons sou nog lank nie kon gaan rus nie. Vir my was dit ‘n werksdag en Jaco en Jan moes toe eers weer veld toe. Ons het die nag gedink hy het ‘n bok geskiet, maar ons kon hom nêrens in die veld kry nie. Hulle twee het toe eers weer die plek gaan fynkam om seker te maak dat daar nie êrens nog ‘n dooie bok in die veld lê nie. Intussen het ek my tannie en ouma gebel en gevra hulle moet kom kuier sodat hulle ‘n ogie oor Grootbok kan hou terwyl ek moet werk. Teen ongeveer 10h30 het Jaco en Jan eindelik terug gekom. Die bokke is gelaai en hulle is deur Strydenburg toe om die bokke by die abbatoir te gaan afgee. Dit was ‘n baie lang en uitputtende operasie wat ons aangepak het, maar ons het ook daaruit geleer.

Ek glo volgende keer sal ons beter voorbereidings tref. Ons het deur die dag vir Grootbok buite in die sonnetjie gesit waar hy sy eerste treë en bokspringe gegee het. Hy was sommer vol skop. Die honde was ook gretig om te kom kennis maak. Hy was so pragtig met ore en bene wat heeltemal te groot en lank is vir sy klein lyfie. Ons kon al sien hoe wei hy saam met Skapie en Mookie hier om die huis as hy groot is. Hy het ook so ‘n oulike geluid gemaak wat min om meer klink soos ô. Maar ons opgewondenheid was van korte duur. Die aand het sy magie begin spoel, maar hy het nie werklik siek gelyk nie. Die volgende dag was egter ‘n ander storie. Die oggend het hy nog lekker aan sy melkies gedrink, maar daarna het hy skielik begin agteruit gaan.

Ons het die veearts gebel en alles gedoen wat ons kon, maar ons moes hulpeloos staan en toekyk hoe al sy lewenslus hom verlaat soos wat die tyd aanstap. Die heel Saterdag was ons net doenig met Grootbok. Warmwatersakkies gemaak, komberse omgeruil, hom skoongemaak, elektroliede ingegee en sommer net by hom gesit sodat hy kon weet hy is nie alleen nie. Sy neusie het al flouer asemgehaal en hy het later geen beheer meer oor sy lyfie gehad nie. Ons het so gehoop dat hy sal beter raak, maar later het ek begin bid dat hy eerder maar net van sy lyding verlos kan wees. Dit was aaklig om hom so te sien. Om middernag toe trek sy neusie vir die laaste keer op ‘n plooi en sy eens lewenslustige lyfie was doodstil. Dit was vir ons ‘n baie bitter pil om te sluk. Na al die moord wat daar gepleeg was die nag van die jag het ons so gehoop om hierdie outjie deur te haal, maar al ons pogings was tevergeefs. Die probleem was dat hy nie sy ma se bies ingekry het nie. Dit bevat al die teenliggaampies wat hy nodig gehad het om teen die kieme te veg.

So moes ons nou weereens op die harde manier leer. Intussen gaan ons probeer om skaap/koei bies in die hande te kry en te vries vir ‘n volgende keer. Ou Grootbok is langs Klaradyn (duifeltjie) begrawe. In die kort tydjie wat hy by ons was, het hy sommer ‘n diep spoor in ons harte getrap. Op ‘n positiewer noot… ek was toe reg. MooMamma se maag was nie verniet so rond nie. Hier oor die naweek het sy ook gekalf en die keer is dit weer ‘n versie. Dit gaan goed met albei kalwers, maar hulle is steeds op die buurplaas. Jaco werk nog aan ‘n plan om hulle terug te kry.  Sal hul heel waarskynlik weer probeer lok met voer.

Met Jaco gaan dit goed. Is mos vandag sy verjaarsdag – so op die winters lentedag. Ek het nog nie eens sy verjaarsdagkoek klaar gemaak nie – dit moet nog versier word. My tannie en ouma het darem vanmiddag vir ons kom kuier en tot ‘n koek vir ons saamgebring. Dit is nogal skrikwekkend om te besef hoe vinnig die tyd vlieg en hoe oud ‘n mens al raak. Hopelik word ‘n mens darem nie net ouer nie, maar ook wyser. Sondagmiddag op pad terug huis toe van Vosburg af, het ons die pragtigste volmaakte reënboog gesien. Hoe meer die pad na links gedraai het, hoe dowwer het die reënboog geraak. Dit het my opnuut laat besef dat in elke storm is daar ‘n reënboog vol nuwe hoop en beloftes… dit hang net af uit watter oogpunt jy daarna kyk.

Ek moet eers groet. Laat dit goed gaan met elkeen van julle!

Grootbokgroete

Anoesjka

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: