Skip to content

12 Januarie 2009, Maandag

Maart 22, 2009

Hallo

Ek hoop dit gaan goed en dat julle almal ‘n lekker Kersfees en Oujaar gehad het. Ek kan skaars glo dat Januarie alweer amper in die helfte is. Mag 2009 net voorspoedig wees!

Met my en Jaco gaan dit nog goed – kan julle glo ons is vandag al 13 jaar lank gekys😉 Ons het Kersfees en Nuwe Jaar op die plaas deurgebring saam met familie. Anders as laasjaar, het ons nie hierdie Kersdag reën gekry nie, maar dit was gelukkig koeler as die ander dae. Dit is deesdae omtrent nooit onder 30 grade nie en vir die res van die week voorspel hulle net 34 en 35. Ons reën is nog baie skaars, maar ons bly vol vertroue. Behalwe vir gister, het ons nog geen reën gekry sedert my vorige e-pos nie.

Gister het ons ‘n storm gehad. Dit is ongelooflik om te kan sien hoe die weer na ‘n mens toe aankom. Eers het daar net ‘n donker bank weer gelê in Vosburg se rigting en ons kon die gerammel van die weer hoor. ‘n Rukkie later was daar ‘n bruin wolk op die horison en ons het geweet hier is nou ‘n sterk wind oppad. Jaco het die windpompe naby die huis gaan vasdraai. Petoorskop (die spitskop wat op baie van my windpomp fotos in die agtergrond is) was potblou soos ons hom nog nooit gesien het nie. Ek het in gehardloop om my kamera te gaan kry en toe ek buite kom was die kop weg! Kort daarna was die storm by ons. Die wind was vreeslik sterk, maar wonder bo wonder het ons nie enige skade gehad nie. Daar het net twee groot takke naby die hoenderhok afgewaai. Ander was egter nie so gelukkig nie. Na gister se storm het ons swaelkuiken nog nie weer huis toe gekom nie. Net ‘n paar dae gelede het een van die ouers ook verdwyn. So nou is daar net een ou swaeltjie oor uit die gesinnetjie van 4. Ek voel skoon hartseer daaroor, want hulle het so ‘n kort rukkie gehad om gelukkig saam te wees. Nou moet die enetjie alweer die winter alleen ingaan. Verder sit die hele Vosburg ook sonder krag. Bome is ontwortel en het op die kragdrade geval. Dit gaan glo 4 weke neem vir hulle om die dorp se kragtoevoer reg te maak. Nadat ek dit gehoor het, kan ons net sê dankie Vader dat ons so lig daarvan afgekom het.

Ek het julle laas vertel van die Rooihen se 3 kuikens wat uitgebroei het – twee swartes en een gele. Intussen is een van die swartetjies oorlede. Na ‘n paar dae het hy net skielik siek geword – dink sy magie was nie lekker nie – en hy wou ook nie verder eet nie. Ek het hom ingebring en warm gehou in ‘n lap tot hy eindelik opgehou het met asemhaal. Net daarna het die geletjie ook opgehou met eet. Kort-kort het sy ma vir hom weggeloop en dan staan hy heel verlate. Ek kom toe agter dat die outjie skielik blind is. Ek het hom in my een hand gevat en in die ander vir hom kos tot by sy snawel gebring en daar eet hy toe. Ons het nie die hart gehad om ‘n einde aan sy lewe te maak nie, so nou voer ek hom so 4 keer op ‘n dag. Verder loop hy al agter sy ma se gekloek aan. Gelukkig is daar niks fout met sy gehoor nie. Weet nie werklik wat van hom gaan word as sy ma hom eers los nie, maar ek probeer om maar nie nou al daaraan te dink nie. Die ander swart kuikentjie het ook vir so twee dae opgehou met eet, maar hy het wonderbaarlik reggekom. Weet nie wat dit met die kuikens was nie, maar ons het wel in ‘n boek gelees dat dit nie nou ‘n goeie tyd is vir hoenders om te broei nie agv die hitte. Een van ons 4 jong hennetjies het ook nou haar eerste kroos van twee piepklein kuikentjies.

O wag, so van hoenders gepraat. Nou een oggend terwyl ek buite besig was om die hen en kuikens kos te gee, hoor ek ewe skielik ‘n skril geluid wat ek nog nie voorheen gehoor het nie. Die hoenders het vir ‘n paar sekondes gevries – asof selfs hulle weet dat daardie geluid gevaar inhou. Bo in die boom sien ek toe ‘n valk en volgens my boek is dit ‘n Bleeksingvalk. Dit is so lekker om die voëls deur ‘n verkyker van naderby te bekyk.

Waar ons nou laas jaar hordes muskiete en motte gehad het, is hier nou hierdie jaar weer baie bye. Dit gons behoorlik al van vroegoggend af op ons voorstoep. Daar is ‘n rankplant met sulke oranje blomme aan en die bye en kewers is mal daaroor. Dis heuningbye, perdebye, rooibye, enige ding! Jaco is selfs nou die dag deur ‘n heuningby gesteek op sy pols. Sy pols was vir twee dae seer en opgeswel en sy hande en voete het vreeslik gejeuk.

Ons het ook weer ‘n tweede sarsie pynappelbier gemaak hier voor Kersfees, maar ons het dit effens te lank laat staan. Teen die tyd wat ons dit wou drink, het dit soos regte bier (met ‘n bittersmaak) geproe. Dit was nou glad nie vir my baie lekker nie, maar Jan het dit vreeslik geniet. Sy mond was sommer lekker los na ‘n paar glasies. Dit gaan mos nie oor hoe hy proe nie, maar oor hoe hy maak.

Op 26 Desember het ons ‘n nuwe baba gekry… Basjan. Hy is ‘n skaaphond wat op daardie stadium 6 weke oud was. Hy is nou een bedrywige outjie. Alles moet gekou en gebyt word. Moes nou die dag my selfoon charger in stukke optel. Ons is maar nog dom met die opleiding van honde, maar ons gaan ons bes probeer met Basjan. Hy jaag al klaar die twee hanslammers rond as ons saans met hulle gaan stap. Verder jaag hy die hoenders ook rond, maar die henne met die kuikens laat hom gou verstaan wie is baas. Ek moet sê hy groei nogals vinnig – is al klaar weer groter as twee weke gelede.

Met die ander diere gaan dit nog goed. Een van die beeste (Ousus) het vir ‘n paar dae lank ‘n baie seer voet gehad en het baie swaar geloop, maar sy is nou weer gesond. Ounooi en Kobusina raak ook net al hoe groter en vetter. Hulle is nou uitgelaat uit hulle klein hokkie uit en wei nou in die klein fonteinkampie langs die huis. Alhoewel, hulle loop meestal net teen die draad af vanwaar hulle ons nog steeds kan hoor en sien. Natuurlik is die melk seker die ware aantrekkingskrag na ons.

My skoonsuster se twee kinders kuier ook vir die afgelope twee weke al by ons. Hoewel dit nogal ‘n uitputtende taak is om skielik twee bondels energie in die huis te hê, maak hulle ook ons lewe bietjie interessanter.

Hier is so ‘n paar sêgoedjies: The Little Mermaid is eintlik Little Marmite; ‘n Oogpister is ‘n Pie-ooger; Old McDonald had a farm is OpsitDonalds had a farm; doring is doonger en so is daar nog vele meer. Dankie tog vir Nils Holgerson wat my uithelp as ek net ‘n rukkie van stilte soek🙂 Verder geniet hulle dit om al die diere kos te gee.

Nou ja, ek moet seker eers groet sodat ek agter die kospotte kan kom.

Lekker dag verder!

Stormgroete

Anoesjka

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: