Skip to content

15 Desember 2008, Maandag

Maart 22, 2009

Hallo julle!

Kan nie glo die einde van die jaar is amper in sig nie. Die tyd het ongelooflik vinnig gevlieg. Elke keer wat mens aan die einde van ‘n jaar kom, dan kyk jy terug na wat jy alles deur die jaar gedoen het (of nie gedoen het nie). Ek weet nie van julle nie, maar ek voel amper elke jaar asof daar nog soveel is wat ek deur die jaar wou doen, maar waarby ek net nie uitgekom het nie. Maar dit maak nie saak nie – sal net volgende jaar ‘n bietjie harder moet probeer. Miskien raak ek nou oudšŸ™‚ maar ek besef net al hoe meer hoe belangrik jou verhouding met jou Skepper en jou familie en vriende is. ‘n Mens raak soms so vasgevang in al die gejaag, dat mens vergeet om tyd te maak vir dit wat regtig belangrik is in die lewe. Wees dankbaar teenoor ons Hemelse Vader vir die spesiale mense in jou lewe. Vir die van julle wat nog bevoorreg genoeg is om ouers, oumas en oupas te hĆŖ… spandeer ‘n bietjie tyd saam met hulle. Leer soveel as moontlik by hulle. Die van julle wat reeds ‘n gesinnetjie van julle eie het… maak tyd vir julle kinders. Doen iets spesiaals as ‘n gesin saam. Waardeer jou man / vrou en vertel hom / haar net weer ‘n slag dat jy hom / haar liefhet. Die van julle wat nog na die regte deksel soek… moenie moed opgee nie. Alles gebeur op die regte tyd. Maak weer kontak met vriende / familie wat julle lanklaas gesien het. Mens raak so maklik gewoond daaraan om net vir mekaar te e-pos dat jy nie eens meer moeite doen om mekaar te sien nie. Leer om weer werklik om te gee vir mekaar.

Wag, dis nog te vroeg in die oggend vir sulke diep gesprekke. Wat is nuus op die plaas…

Dit was die afgelope tyd vreeslik warm, maar ek kla nie, ek hou mos van die somer. Alhoewel… 36’C sonder enige wind vir twee dae in ‘n ry was nie ‘n grap nie. ‘n Mens se energievlakke is dan maar laag – hier is mos ook nie waaiers of ‘aircon’ om bietjie verligting te bring nie.

Dan het ons nog ‘n hanslam bygekry. Ek het julle mos vertel van Ounooitjie. Seker so ‘n week of wat gelede het sy ‘n maatjie gekry. Dit is ‘n boeppens lam wat Jaco in die veld gesien het. Dit beteken hy het nie ‘n ma nie (oftewel ons weet nie waar die ma is nie). Hy’t maar hier en daar ‘n bietjie melk gesteel by die ander ooie en verder veldkos geeet. As ‘n lam nie voldoende melk kry nie, dan ontwikkel hy ‘n boeppens. Dit het kompleet gelyk of die arme ding twee rugbyballe ingesluk het (een aan elke sy). Ons het hom Kobus gedoop. Ou Kobus het maar gesukkel om die bottel te vat. Hy was taamlik wild vir mense en ons moes maar geduld met die outjie hĆŖ. Jy moes hom so tussen die bene vasknyp en dan met die een hand sy mond probeer oop maak en met die ander die bottel indruk. Dit het maar sukkel-sukkel gegaan.

Ounooitjie is egter so mak en wil niks weet van in die hok bly bedags nie. Ons het toe maar vir Kobus ook buite laat loop saam met Ounooi. Maar toe die ander skape in die veld hier naby die huis wei, toe is Kobus agterna. Teen die tyd wat ons agtergekom het Kobus is weg, was dit te laat. Die volgende dag moes al die skape weer bymekaar gemaak word in die kraal om vir Kobus te vang. Het hom toe vir so 3 dae op hok gehou voor ons hom weer uitgelaat het. Intussen het ons agtergekom dat Kobus eintlik ‘n ooitjie is, so nou is sy maar Kobusina (of ek roep hulle albei sommer net my Ounooitjies). Hier laatmiddag kom ons toe agter dat Kobusina weer weg is en sien haar toe deur die verkyker tussen die ander skape. Jan en Jaco is agterna om haar te probeer vang. Dit was warm en Kobusina het haar nie so maklik laat vang nie. Arme Jaco en Jan moes omtrent rondhardloop, maar hulle het haar darem gevang gekry. Nou is sy weer terug op hok. Ons los hulle nou maar meeste van die dag in die hok – net sodat sy eers kan mak word. Sy drink darem nou baie maklik uit die bottel. In die middae, as ons ‘n entjie met die honde gaan stap, gaan die tweetjies ook saam. Dan knibbel hulle aan al wat bos is langs die pad. Gistermiddag toe ons ‘n entjie gaan stap, sien ons ‘n hele klomp meerkatte – dit was ongelukkig net te ver om ‘n mooi foto te kon neem.

Die swaelkuikens is uit die nes. Sommer kort nadat altwee vir die eerste keer gevlieg het, het die ene verdwyn. Ons weet nie of hy dalk sterk genoeg was om op sy eie te gaan en of daar iets anders met hom gebeur het nie. Die ander enetjie vlieg elke dag ‘n bietjie beter. Hulle verdwyn sommer al vroeg oggend en soms kom hulle eers weer terug teen sonsondergang. Aangeheg is ook ‘n foto van twee duifies wat in ‘n peperboom uitgebroei het – hulle het intussen ook hul nessie verlaat. O, en die eerste voĆ«ltjie het in ons voĆ«lbad kom water drink – ‘n mossie.

Hoewel ons nog nie kan kla van muskiete nie, het ons nou al twee ander besoekers in die huis gehad. Eers was dit ‘n redelike groot skerpioen. Hy het nou die aand by die kombuisdeur ingekom en gelukkig het Jaco hom gesien en vinnig ‘n plan mee gemaak. Nou is ons maar bietjie versigtig as ons saans buite rondloop – of selfs kaalvoet in die huis loop. Die volgende aand toe is daar weer ‘n vlermuis in die huis. Grrrrrrrr. Hulle laat my gril. Ons weet nie waar hy ingekom het nie, maar hy’t teen goed vasgevlieg en twee ou glas ornamentjies gebreek. Terwyl ek in die badkamer weggekruip het, het Jaco sommer die vlieĆ«plak byderhand gekry. Shame. Dis eintlik so ‘n oulike ou diertjie – lyk vir my nes ‘n muis met vlerke.

Die Rooihen se kuikens het gister begin uitbroei en vanoggend is daar 3 pragtige klein kuikentjies. Een van hulle lyk of dit ‘n Pikkel kuiken kan wees.

Dan moet ek eers vertel van die lekker pynappelbier wat ek en Jaco gemaak het. Dit bly nou maar eenmaal vir my lekkerder as gemmerbier – ek verdra mos glad nie gemmer nie.

Nou ja, ek gaan eers groet. Ons wil ook net vir julle elkeen ‘n GeseĆ«nde Kersfees en ‘n baie Voorspoedige Nuwe Jaar toewens! Die wat met vakansie gaan… ry asseblief versigtig!

Geseƫnde Groete

Jaco, Anoesjka, Kiddo, Bliksem, Bruno, Ganse, al die Hoenders (te veel name), Ounooitjie, Kobusina & die Swaels

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: