Skip to content

15 Oktober 2008, Woensdag

Maart 22, 2009

Goeie more!

Hoe gaan dit met julle? Hier sit die son sommer al hoog en die somer is eindelik hier. Die weer het sommer oornag verander en ek kla glad nie. Nou wag ons nog net vir daardie eerste somer donderstorm. Al die bekende somer geluide is weer terug… buiten die getjirp en gekoer van verskeie voëls wat maar altyd daar is, is daar nou weer krieke wat kriek in die nag, die langasempie (Rooiwangnaguiltjie) wat weer saans sy enjin aanskakel, kolganse wat honkgeluide maak terwyl hulle oor die plaas vlieg (net so terloops… ‘n kolgans is eintlik ‘n gansagtige eend) en dan natuurlik my gunsteling die ha-ha-hadeda geluid van die Hadeda. Natuurlik is daar ook die minder gunstelinge soos die gezoem van brommers en die gezim van sy maerder neef, die muskiet. So van voëls gepraat… Blikkie en Bruno het nou eendag so vreeslik geblaf hier agter die huis. Ek het gaan kyk en sien toe ‘n hele ent verder in die veld staan ‘n Sekretarisvoël. Dis die eerste keer wat ek so ‘n voël hier gesien het. Dit is darem ‘n yslike groot voël. Ons het hom probeer afneem, maar dit was bietjie te ver. Jaco het nader gestap, maar daai groot voël het soos ‘n groot speld in die veld verdwyn (sonder om op te styg).

Met al die diere kinders gaan dit nog goed. Alhoewel… ons het alweer een van ons klein hoendertjies (nou al te groot om nog kuikens genoem te word) verloor. Ons weet nie werklik hoe en wanneer dit gebeur het nie. Ons vermoed Jan het dalk vergeet om hulle toe te maak in die hok die tyd wat ons Orania toe was vir ons vuurwapenlisensies. Al die hoenders slaap nou saans in die hok. Dit sukkel maar bietjie om hulle daar te kry, maar ons wil nou maar hou daarby. Hulle mors darem te veel hier op die voorstoep.

Ek het julle mos vertel van Spikkel en die Rooihen wat ‘n nes gedeel het om hul eiers in te lê. Die Rooihen het eerste broeis geraak en op die nes begin sit. Spikkel het soggens gekom en dan in dieselfde blompot geklim en haar eier net langs die Rooihen gelê. Sodra sy opstaan dan skrop die Rooihen die nuwe eier ook onder haar in. ‘n Paar dae later toe besluit Spikkel maar sy is ook nou broeis en wil ook op die nes sit. Dit het glad nie goed afgegaan met die Rooihen nie. Vir die eerste 3 dae sit en broei die twee toe langs mekaar en kort-kort hoor jy hoe maak die een vir die ander een kwaai geluide. Na 3 dae toe besluit die Rooihen, nee dit gaan nou nie vir haar werk nie en gee toe maar die nes oor aan Spikkel wat nou nog daar (of eintlik hier voor my venster) sit en broei. Ons sal nog ‘n plan moet maak om haar te skuif, want ek verwag daai kuikens binnekort en ek weet nie of hulle ‘n val van meer as ‘n meter sal kan hanteer nie.

Ons het nog nie nuwe klein gansies nie. Die arme ganse sit en broei vir weke nou al op niks. Alhoewel, ek het eergister ‘n nuwe nes ontdek met 4 eiers in. Dit is nou ons laaste hoop. Die honde weet gelukkig nog nie van die nes nie. Om weer terug te keer na die Rooihen… sy het mos nou die dag sowaar ‘n eier binne in die hondehok gelê. As dit nie was dat ek die eier voor die honde gekry het nie, het hulle sowaar brekfis in die bed gehad. Ons het onlangs ‘n nuwe plastiek sproeierkop op die tuinslang gesit. So ‘n groot ronde oranje ene. Nou, die ganse is gewoond om sommer so waar die water uitloop as die pyp op die gras lê te kom water drink, maar die nuwe oranje gedoente het hulle nou nie geken nie. Hulle het dit stadig bekruip en omtrent vir hom geblaas. Ek het so ‘n behoefte gehad om net daardie tuinslang so ‘n plukkie te gee. Kon nie glo daar was iets waarvoor hulle so versigtig is nie.

Dit was mos alweer skoolvakansie en Jaco se suster se twee kinders het weer hier kom kuier. Ons geniet dit altyd om hulle hier te hê – gee die huis soveel lewe en maak die lewe so interessant. Wie het nou ooit geweet Bobbejaan klim die berg om die boere vi te erg. Die tweetjies was ook saam met ons Orania toe. Terwyl ek bedags geleer is hoe om ‘n vuurwapen te hanteer, moes Jaco die kinders en vir Kiddo besig hou. Die dag voor ons gegaan het, het Jaco my bietjie met sy pistool laat skiet, maar wat ‘n storie. Ek was so bang vir die ding ek het skoon die bewerasies gehad. Na 8 skote het ek vir hom gesê nou kan ek nie meer nie. Verder kon ek ook nie eens die ding oorgehaal kry nie. Na die 8 skote was Bruno in sy hok en Kiddo en Blikkie skoonveld. Seker eers 20 minute later, na ‘n vreeslike geroep, het hulle weer huis toe gekom. Maar na die kursus is ek nie meer bang vir ‘n vuurwapen nie. Wel, natuurlik sal ek wees as ek aan die verkeerde kant van die loop staan. Ek het 50 skote op die skietbaan afgevuur en al moet ek dit nou self sê, was ek ‘n beter skut as meeste van die ander daar. Ek kry hom nou maklik oorgehaal en kan hom selfs uitmekaar uit haal as dit moet. Jaco is natuurlik sy kursus deur en het sy sertifikaat alreeds gekry. Nou lê die aansoeke vir bevoegdheid en die lisensies nog voor.

O ja, amper vergeet ek… Jaco het uiteindelik gister weer ons beeste, wat mos op die buurplaas gaan kuier het, huis toe gebring. Dit het eintlik baie makliker gegaan as wat ek verwag het. Mookie het omtrent gemoo toe hy hulle sien, maar sy Skapie los hy vir niks in die wêreld nie. Sover is die beeste nog hier. Jaco beplan om hulle later vandag na die hok toe te lok sodat hy hulle teen bosluise kan spuit. Hy gaan nou maar gereeld vir hulle voer gee net om hulle vertroue bietjie te wen. Die twee kalwers is te pragtig!

Dan natuurlik my ander rede hoekom ek vandag skryf… Ons eerste sirkel hier op Huisfontein is voltooi. Vandag ‘n jaar gelede het ek, Jaco, Tinkie en Kiddo met die laaste deel van ons trek uit die Kaap uit vertrek. Vanaand net na middernag is ons mooi ‘n jaar hier. Kan julle glo hoe die tyd gevlieg het? Hierdie afgelope jaar was onvergeetlik. Daar was soveel hoogtepunte waarvan een natuurlik ons troue was… maar natuurlik kan daar nie hoogtepunte wees sonder laagtepunte nie.

Die verlies van ons geliefde Tinkie was beslis ons laagste punt. Dankie dat julle hierdie afgelope jaar saam met ons gedeel het. Die van julle wat al kom kuier het, dit was lekker om julle hier te hê. Julle ander is enigte tyd welkom. As julle nog plaas-updates wil kry in die nuwe jaar, moet julle my nou maar laat weet.

Wag, ek moet aan die werk kom… ek is immers ‘n werkende boervrou. Die naweek kom van die familie kuier om ons eerste jaar hier te vier. Julle kan gerus die naweek ‘n glasie skink en namens ons op julself klink.

Ons sê dankie vir jul ondersteuning en vriendskap.

Somergroete

Jaco & Anoesjka

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: