Skip to content

17 Maart 2009, Dinsdag

Maart 22, 2009

Vandag voel vir my soos die begin van winter. Dit was vanoggend ysig koud buite en hier is heeldag so ‘n onsmaaklike koue wind. Ek is nie ‘n wintermens nie en sien glad nie uit na die klappertandkoue wat voorlê nie…

Ek het hierdie brief eintlik al ‘n paar dae gelede begin skryf, maar kom nou eers daarby uit om dit te stuur. Eintlik het ek net gewag tot ons ‘n foto van die groen veld kon neem. Ons het ‘n “before” foto geneem maar wou ‘n “after” een van min of meer dieselfde plek af neem. Het dit gou vanmiddag in my etenstyd gaan neem, maar ai… wat ‘n gesukkel. Eers is al die honde agter op die bakkie om ook te kan saam ry. Met die wegtrek hardloop Ounooi (die hanslam) blêr-blêr agterna. Gewoonlik skud ons haar af om die eerste draai wat die pad maak, maar teen die tyd wat Jaco die hek by die teerpad (wat ons moes oorsteek) oopgemaak het, was sy weer by ons.

Kyk, ek het nog nooit ‘n skaap so vinnig gesien hardloop nie. Wonder of ‘n mens skaapresies kry… sy sou beslis ‘n goue medalje gewen het. Sy loop al agter Jaco aan. Toe hy oor die pad loop om sommer daardie hek ook te gaan oop maak, is sy agterna… bo-oor die motorhek en al. Dat sy nog nie ‘n been daar gebreek het nie, is ook ‘n wonder. Jaco het haar twee keer agter op die bakkie saam met die honde gelaai sodat sy maar kan saam ry, maar sy spring elke keer af.

Sy hardloop toe al die pad saam. Dit werk vreeslik op my senuwees, want sy hol soms voor die bakkie in en ek vrees net die keer wat ons haar dalk raakry. Oppad na die plek van waar ons die foto wou neem het ons alweer op ‘n dooie skaap afgekom. Dit wil amper lyk of iets hom kon gevang het… dalk die honde… maar gister se bui reën het al die spore weggevat. Ai, ek hoop darem nie dit is die honde nie. Elk geval, terwyl ons daar gestop het, het Ounooi ons alweer ingehaal. Ons moes omtrent jaag om onder haar uit te kom. Met die terugkomslag was sy net skoonveld! Weet nie wat van haar geword het nie. Soos sy gehardloop het, kon haar hart dalk gaan staan het. Jaco het vir my en die honde by die huis kom aflaai en is nou eers weer terug om die skaap te gaan soek. Never a dull moment…

Hier is die res van my brief🙂

12 Maart 2009, Donderdag

Hallooo

Soos altyd, hoop ek dit gaan nog goed met julle. Ons kan nie kla nie – die veld is lekker groen en die diere het kos om te eet. Gister namiddag het ek gesien die weer steek op, maar nie regtig soveel daarvan gedink nie. Die wind het ewe skielik met mening opgekom en sommer die reën ook saam gebring. Dit was omtrent ‘n sterk wind en die water het ook behoorlik geval. So vergeet ek toe skoon van die sitkamervenster wat al die tyd oop staan… en die weer het reg uit daardie rigting gekom. Jaco het buite by die waenhuis geskuil en geroep dat ek die venster moet gaan toemaak. So kon ek nie ‘n dooie woord hoor wat hy sê deur al die wind en reën deur nie – ek dog hy praat met Jan. Teen die tyd wat ek besef die venster is oop, was dit al te laat. Die gordyn, mat en banke onder die venster was waternat. Ai… toe die reën verby is, het die reënmeter ‘n verstommende 1 duim en 4 punte gewys. Die weer is besig om nou weer op te steek – die wind waai sterk en die gerammel kom al hoe nader… val ook alreeds ‘n paar druppels. Al my vensters en deure is darem nou toe.

Die beeste is weer terug hier op Huisfontein waar hulle hoort. Dit was eintlik heel maklik om hulle hier te kry. Hulle het al die pad van die buurplaas (Pompfontein) af geloop agter ‘n bak kos aan. Wat mens ook nie als kan regkry met kos en geduld nie.

Nee, daar is nog nie ‘n enkele saad in die grond nie. Ek het wel ‘n paar aartappelmoere geplant – sommer net so ‘n paartjies om te kyk of daar iets van gaan kom. Op die oomblik is daar nog niks… Jaco het eindelik volstoom begin ploeg en als het net lekker gewerk… toe breek daar weer ‘n ding. Die trekker loop net ‘n tydjie dan gaan staan hy. Jaco het omtrent geroei met die trekker. Hy het tot vir Trekkerman laat kom, maar selfs dié kon nie die trekker aan die loop kry nie. Toe besluit Jaco dit is nou hy en die Blou Bliksem, maar loop gaan hy weer loop… of hy nou 60 jaar oud is of nie. Terloops…die trekker is so oud, hy loop nog eintlik op kragparaffien. Vandag kry ‘n mens nie eers meer dit te koop nie. Nou gebruik ons ‘n mengsel van gewone paraffien en petrol. Die trekker word aangeskakel met petrol en dan skakel jy hom oor op die paraffien mengsel. Jaco het sy boeke nageslaan en met baie geduld van die parte uitmekaar gehaal, skoongemaak en weer teruggesit. Sy ure se harde werk was darem nie verniet nie – geduld, deursettingsvermoë, brandewyn en opsit tot twee-uur in die oggend het die ding gedoen. Die trekker loop weer! Hoera vir ons nuwe trekkerman! Die trekker werk nou al drie geslagte lank in ons familie. Ek ken nie die ploeg se storie nie, maar ek is seker hy is so oud soos die berge. Nietemin, hy kry die werk gedoen. Saterdag het ons weer bietjie geploeg en ek het self die trekker gery. Was eers bietjie versigtig, maar toe begin dit lekker raak. Nou wil ek net trekker ry.

Hier het nou een aand so ‘n sterk wind opgekom – sommer skielik. Ons het ‘n geluid gehoor wat klink soos sinkplate, maar nie geweet waar dit vandaan kom nie. Die volgende oggend toe sien ons maar die huiswater tenk se dak het afgewaai en sommer ‘n stuk van die muur ook. Die pyp van die windpomp het ook gebreek en so gooi die pomp toe al heel aand water op die grond. Die pyp is darem nou weer reg sodat die water in die tenk kan gooi, maar die dak moet nog reggemaak word. Klink ook maar na ‘n groot storie. Ons mag dalk sonder water wees vir ‘n tydjie terwyl die muur reggemaak word.

Met al die diere gaan dit nog goed. Of nee… ek jok. Een van die hoenders is nie meer met ons nie. Twee dae gelede het ek uiteindelik die moed bymekaar geskraap om een van die hane se kop te laat rol. Dit was maar moeilik, maar ek moes dit doen ter wille van my henne. Dit was een van die pragtige Rhode Island Red hane. Ek moes hom self gaan uitwys en totsiens sê vir hom. Jan en Petro sê hy het baie lekker geproe. Nou is Jaco self lus vir een van die hane, maar ai… ek kan nog nie sover dink nie. Ek vat dit maar een stappie op ‘n slag. Boerdery is so wreed, maar ook so lekker. O en amper vergeet ek om te sê… Hendrik en al sy henne het mos nou weer hier op die voorstoep ingetrek. Hulle het nou vir ‘n lang tyd saam met al die ander hoenders saans in die hoenderhok gaan slaap, maar op ‘n dag het hy net besluit hy slaap nie weer daar nie. Dink die ander hane jaag hom ‘n bietjie rond. Nou een oggend het ek ‘n nuwe kraai-geluid gehoor. Dis toe Spookie, een van die drie jong hennetjies. Sy is toe eintlik al die tyd ‘n haan! Ai, nou is daar nog ‘n haan te veel.

Ounooi word vetter by die dag. Gelukkig is daar nog nie sprake van mark toe gaan nie. Sy is mos immers ‘n ooi en miskien kan ons haar hou. Sy is nou al heeltemal gespeen en kry net soggens en saans ‘n bietjie afrondpille. Verder wei sy maar hier al om die huis. Kobusina het alweer die pad gevat veld toe en was baie lanklaas hier by die huis. Sy hou nou maar eenmaal nie daarvan om hier te bly nie. Lyk of Ounooi nog geen behoefte het om saam met die ander skaap te gaan wei nie. Sy gaan maar orals waar ons gaan. As ons gaan stap, stap sy saam andersins wei sy naby die huis of lê voor die agterdeur. As dit te stil raak buite gee sy ‘n blêr net om te hoor waar is almal dan nou.

Nou die oggend toe ek buitentoe gaan om die hoenders kos te gee, toe sit hier sowaar ‘n Bloureier in een van die bome. Ek het die hoenderkos net daar op die grond neergesit en is met ‘n vaart verby Jaco die huis in om die verkyker te gaan haal. Toe ek weer buite kom het Jaco intussen nog ‘n vreemde voël twee bome verder opgemerk. ‘n Spierwit voël met ‘n rooi-swart snawel wat lyk nes ‘n plat lepel. Dis so lekker om sulke vreemde voëls te sien en hulle dan in my boek te gaan soek en te probeer identifiseer. Die spesifieke een was ‘n Lepelaar. Ons het die afgelope tyd heelwat “nuwe” voëls gesien wat agter die water aankom, maar kon nog nie almal van naby genoeg bekyk om hul te kan identifiseer nie.

Ten spyte van die groen veld, het ons in laas week een van die vier jong ramme wat ons laas jaar gekoop het, dood in die veld gekry. Hy was egter al so verrot dat ons glad nie kon sien wat die oorsaak van sy dood was nie. Sy oorknip en horings is al waaraan ons hom kon uitken. Ons is maar taamlik spyt oor die verlies, maar soos hulle sê… you win some, you lose some. So het die twee twin sisters (hennetjies) wat op dieselfde nessie gesit en broei het, altwee hulle eiertjies ook verloor. Dit kan maar net Blikkie en/of Bruno wees wat dit opgeëet het terwyl die henne opgestaan het om kos te kry. Ek het juis nou die dag vir Blikkie op heterdaad betrap toe hy met ‘n eier in sy mond staan. Toe hy my sien, het hy dadelik die eier laat val en in sy hok gaan klim. Eintlik het dit ook nie veel gehelp nie, want die eier se dop het toe klaar gebreek. In elk geval, die twee hennetjies sit nou steeds saam en broei… op niks.

Dit reën nou lieflik sag…. hmm, laat my sommer lus kry vir my ouma se sop en vetkoek.

Kan julle glo ek en Jaco was Sondag al ‘n jaar getroud? Dit voel nog net soos nou die dag. Mens kan nie glo hoe vinnig die tyd vlieg en hoe vinnig ‘n mens se lewe verbygaan nie. Dis hoekom ons die beste van elke oomblik van elke dag moet maak! Elke sekonde wat verby is, is vir ewig verby.

Nou ja, dis weer tyd om te groet. Ons het nou die dag die mooiste reënboog reg oor die plaas gehad. Dit was asemrowend – net jammer dat dit so groot was dat ek dit nie met my kamera op een slag volledig kon afneem nie. Ek weet nie van julle nie, maar as ek ‘n reënboog sien, gee dit my altyd nuwe hoop. Hier is sommer net ‘n gediggie waarop ek afgekom het. Ek verstaan nie alles nie – dis mos juis wat dit ‘n gedig maak – maar dit is mooi vir my.

Reënbooggroete

 

Anoesjka

PS: Ek heg so ‘n paar weerlig fotos aan, maar hulle het taamlik “blurry” uitgekom. Die muskiete het my so aangeval dat ek nie kon stilstaan om die fotos te neem nie!

Titel: Beloftes in ‘n Reënboog
Deur: Ster

Wie het alles saamgegooi?
Waarvandaan?
Erens begroet ‘n vreugdestraan
vanuit sy eie baan

Wanneer die pragtige reënboog op die horison verskyn
Is elke kleur op sy plek deur engele volmaak geverf
deur waterdruppels uitgekerf
sodat mensekinders vrylik kan swerf

Die reënboog is vervul met liefde sonder pyn
geen wroeging vir die soliede aardse myn
dis standvastig en volmaakte kleure wat oor almal skyn
dat die belofte aan die mensdom nie deur water sal sterf

Die begin en einde van die boog ver verwyder van mekaar
hulle word weggekeer deur ‘n engelskaar
verniet probeer jy die punte daarvan kry
hulle bly uit jou hande gly

Beweeg nader om dit mooi te bekyk
bly dit weggly om jou vir altyd te ontwyk
jy voel skielik gekul
wat wil die kleure onthul?

Dis ‘n aardse wonderwerk
lank gelede gemaak ~ ‘n ewige merk
van Iemand om Sy belofte te versterk
as nagedagtenis vir die mensdom sonder perk

6 Kommentaar leave one →
  1. Maart 24, 2009 10:12 vm

    Baie welkom Anoesjka!! Ek geniet jou skrywes vreeslik baie! 🙂

  2. Maart 24, 2009 11:45 vm

    Is my eerste inloer hier en sal beslis meer kom inloer, is mal oor die plaaslewe en mis dit baie.

  3. Maart 24, 2009 11:52 vm

    Baie welkom Anoesjka!!! Sonkind het my nou so nuuskierig jy sal moet skryf dat dit klap!!! 😆

  4. Maart 24, 2009 5:29 nm

    Welkom Anoesjka!! Jy weet seker dat die naam : Anuschka ‘grace’ of ‘favor’ beteken? Ek’s reeds so chuffed met ‘n ander ‘graceful’ girl called Ann… (Sonkind) wie se naam dieselfde herkoms het – Coincidence?? I think not… birds of a feather…😉

  5. Maart 24, 2009 10:41 nm

    Welkom Anoesjka….

    Ek het Sonkind se skrywe oor jou baie geniet op haar ou blog. Sien sommer uit na nog baie van jou stories hier Oppie Plaas

  6. Anoesjka permalink
    Maart 25, 2009 8:36 vm

    Dankie! Nee… ek het nie geweet nie🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: