Skip to content

20 Augustus 2008, Woensdag

Maart 22, 2009

Hallo

Ek het nog altyd geglo dat ‘n mens nie kwaad met kwaad vergeld nie en ek het weer besef hoekom. Dit verander nie wat reeds gebeur het nie – en dit laat jou nie werklik beter voel nie.

Jaco het gister op een van die kuikentjies afgekom. Hy het ‘n hele ent van die hok af gelê, maar daar was geen bytwonde aan hom nie. Ons dink maar hy het weggekom en toe van die koue nag gedood. Gisteraand toe dit nou lekker donker is, het ek en Jaco besluit om bietjie te gaan jag. Sommer net hier op die werf rond gestap – gewapen met ‘n flits en ‘n geweer. Ons het gehoop die oortreder sou terug kom om weer sy geluk te beproef, maar ons jag het niks opgelewer nie. Ons het net ons lê gekry (hier rondom half 11) toe die honde vreeslik begin blaf. Jaco staan toe op om te gaan kyk of hy nie iets kan sien nie en toe ek sy vinnige voetstappe terug hoor, toe weet ek sommer… wie dit ookal is, jou minute is getel.

Terwyl Jaco toe die geweer uit die kluis haal moes ek my slippers en baadjie gryp, want ek is mos die een wat die lig moet hou. Daar in die boom bokant die hok waar die hoenders die vorige nag nog was, sit meneer toe. ‘n Muskejaatkat… ‘n kleinkolmuskejaatkat om presies te wees, of sommer net soos ons hom sê ‘n musseljatkat. Hoog bo in ‘n mik van die boom het hy gesit met oë wat blink soos albasters. Die skoot het hard en ongenadiglik deur die stil nag geknal. Ek is seker menige dier het vir ‘n oomblik tot stilstand gekom, selfs Jan het vanoggend vertel dat hy orent in sy bed gesit het. Daar het die kat bly sit in die boom tot vanoggend.

Dit is eintlik ‘n pragtige dier! Min of meer dieselfde grote as ‘n gewone huis kat, maar met ‘n baie langer stert. Hy is grys met swart kolle op sy lyf en sy stert is swart en grys strepe. Sy gesig is baie spitser as ‘n huis kat s’n en natuurlik is sy slagtande heelwat langer. Hulle dien eintlik ‘n goeie doel in die samelewing, aangesien hulle kos insekte (soos springkane), muise, rotte, spinnekoppe, slange en dan voëls, insluit. Ons het gedink hy het teruggekom om te kyk wat hy nog kan vang, maar raai wie kry ons toe onder hom in die mik? Ons bruin hennetjie. Hy het teruggekom om verder aan haar te eet. Ons hou nie daarvan om wilde diere sommer net voor die voet uit te roei nie, maar was bang dat as ons hom los hy weer kan terug kom en nog lewens eis. Deur sy lewe te neem het my egter nie beter laat voel nie.

Op ‘n positiewer noot… ons ganse het ook besluit om nou te begin broei (wat eintlik baie vreemd is, aangesien hulle nog nie ‘n dammetjie het nie). Nou die dag toe kom ek op ‘n eier af wat hopeloos te groot was om ‘n hoendereier te wees. Dis toe wat ons besef maar die ganse lê ook nou eiers (ongelukkig nie goues nie). Die eier wat ek opgetel het was egter “foutief” – hy het nie ‘n dop gehad nie, net ‘n sagte vlies. Na ‘n bietjie speurwerk ontdek ons toe die nes – toe met twee eiers. Dis ‘n mooi rond geboude nes met ‘n walletjie van droë gras. Later dieselfde dag het ek gesien Blikkie & Bruno staan daar naby die nes. Ek het dadelik onraad vermoed. Toe ek by die nes kom was alles deurmekaar gekrap – weg was die mooi nes en weg was die eiers (of so het ek gedink).

Ontsteld gaan vertel ek toe vir Jaco wat die honde gedoen het en net daar en dan kry Bruno toe slae. Blikkie het gesien daar is groot moeilikheid en het die hasepad gekies – hy het eers weer ure later sy verskyning gemaak. Jan ontdek toe die eiers onder die deurmekaar gekrapte gras en inteendeel was daar nog ‘n ekstra eier by. Hoe moes ek nou weet dat ‘n gans slimmer as ‘n hoender is. ‘n Hoender los gewoonlik haar eiers maar net so oop, terwyl die gans dit nou ewe mooi toe krap vir hitte en beskerming. Needless to say het ek toe laer as wurm bollie gevoel oor die onnodige slae en raas wat die honde gekry het. Moes maar gaan omverskoning vra met ‘n paar koekies. Vandag is daar al 5 eiers, maar of hulle bevrug is weet ons nie.

Met Tinkie en Kiddo gaan dit nog goed. Tinkie bly steeds ons klein jagtertjie en het alweer 2 muise gevang.

Hier op ‘n stadium vanmiddag het Spikkel, die Rooihen en Hendrik Haan darem vreeslik tekere gegaan. Omtrent gekekkel en gekraai. Ek gaan kyk toe net om seker te maak hulle is okay en raai wat ontdek ek? Spikkel het al ‘n nes van 7 eiers en hier dog ons sy lê nog nie eiers nie! Spikkel is nou ‘n volwaardige hoendertjie. Die Rooihen loop nou weer bedags saam met Hendrik en het nou haar 8 kuikens aan hul eie genade oorgelaat. Hulle is nog klein, maar lyk of hulle heel goed op hul eie regkom. Gisteraand, na die vorige nag se drama, het ons besluit om al die hoenders in die hoenderhok toe te maak. Daar kan niks by hulle kom nie. Ons moes omtrent ons storie ken om hulle daar te kry. Die haan en twee henne is gewoond op die voorstoep in die rankplant slaap en wou nie veel van die hok af weet nie. Selfs my Pikkels moes die nag daar deurbring, wat eintlik nog gewoond is aan in die kombuis slaap. Hulle en die haan kom glad nie oor die weg nie en vanmore toe ons daar kom het die gemoedere al hoog geloop. Vanoggend het ons amper verslaap met die wat Hendrik nie op die stoep was om ons wakker te kraai nie.

So van kraai gepraat… al my Pikkels kraai nou! Dit klink nogal komies. Ons het so gehoop dat ten minste een van hulle darem ‘n hen sal wees. In vandag se tyd is enigiets mos moontlik – miskien is hul self nog net nie seker watter geslag hulle nou eintlik is nie. Dit sal nog ‘n hele tydjie neem voordat hulle uitgegroei is.

Jaco is nog druk besig om te boer. Hy het vir ons die lekkerste springbok biltong gemaak. Hy’t onder andere ook alweer ‘n stukkende windpomp reggemaak en al die wingerde gesnoei. Hy het toe ‘n plan bedink om die twee koeie en die kalfie in die kamp om die huis te kry. Elke namiddag het hy vir hulle gaan voer gee by die hek oorkant die pad. (So van pad gepraat… ons nuwe teerpad het nou al glad strepe op gekry). Hulle het dit so gou gewoond geraak dat hulle selfs later na die hek geloop het voor Jaco nog daar was met die kos. Sondagaand toe loop ek, al die honde, Mookie en Skapie saam met hom om weer vir hulle te gaan kos gee. Daar en dan besluit hy toe sommer hulle moet nou oor die pad kom – die voer sal dien as lokmiddel. Ek is tog so bang vir die groot beeste dat ek dit nie te naby wil waag nie. Verder staan ek met kamera, stok en Kiddo in die arms (sodat die nie ook in die pad in hol nie). Maar die nuwe pad hier by ons is nogal besig – veral met groot trokke. Toe hy nou eindelik die hek oop het en wou oorloop na die ander kant van die pad, kom daar toe ‘n vragmotor aan. So het Mookie en Skapie nou al ook in die pad beland agter Jaco aan. My senuwees was gedaan! Ek het al gesien hoe lê die pensmis in die pad. Jaco het voor die vragmotor ingehol om hom te laat stadiger ry. Wonder bo wonder het almal ongedeerd daarvan afgekom, maar dit was nog nie die einde nie.

Jaco (Skapie en Mookie) is toe oor om die ander hek (waar agter die 2 koeie en die kalf toe nou angstig vir hul voer wag) te gaan oopsluit. Dit was die eerste keer in maande wat Mookie weer sy ma en ousus gesien het, maar die ontmoeting was nie baie vriendelik nie. Ek staan toe op ‘n afstand en kyk vir enige aankomende verkeer en Jaco probeer om die 4 beeste en skapie oor die pad te kry. Dit was glad nie ‘n maklike taak nie. Vir ‘n oomblik het dit gelyk of die beeste nou die teerpad gaan aandurf. Terselfdertyd kom daar toe ‘n polisievoertuig aangesnel. Jaco het sy bes probeer om die ou se aandag te kry, maar hy het glad nie eens notisie gevat en stadiger gery nie. Ek het my asem opgehou, want dit kon maklik sy einde ook beteken het. Genadiglik is hy verby sonder om enigiemand te tref. ‘n Paar meter verder het hy toe gestop, agteruit gery en gevra of daar moeilikheid is. Eish!

Intussen het ek die voerbakke gaan optel en begin skud om die beeste se aandag te kry. Einde ten laaste is almal toe oor die pad en veilig agter die geslote hek – presies waar ons hulle wil hê. ‘n Dag later het Jaco en Jan hulle in die veld gaan soek en al drie was nog rustig aan die wy – taamlik ver van die huis af. Maar om een of ander rede wil hulle nou maar eenmaal nie in hierdie kamp wees nie. Moomamma, Ousus en die kalf is alweer al drie op ons buurplaas – so verneem ons vandag. Hoe ons hulle nou weer hier gaan kry is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Gisteroggend het ons ‘n paar heuningbye buite by die “longdrop” gesien draai. Hier teen middagete hoor ek en Jaco toe ‘n vreeslike gegons. Buite was daar toe seker ‘n paar duisend bye besig om in ons “longdrop” in te trek! Dit was nogal iets om te sien. Gisteraand, nadat hulle toe almal tot bedaring gekom het, het ons daar gaan inloer. Daar sit die paar duisend bye toe almal op ‘n hoop. As ek nie so vrek bang vir hulle was nie, sou ek dit dalk waag om ‘n foto te neem, maar ek wou nie enigiets doen om hulle om te krap nie. Jaco het dit oorweeg om hulle uit te rook, maar wonder nou of ons hulle nie eerder eers daar moet los nie. Siende dat dit nou amper lente is en hulle kan help met bestuiwing. Die somer is nou vinnig op pad en ek kla glad nie. Hier staan enkele botterblomme en daisies en die vygies begin ook nou blom. Die kaal bome raak groener by die dag. Lente is beslis die mooiste seisoen van die jaar – vol nuwe beloftes.

Wag, ek moet groet tot ‘n volgende keer. Lyk of ons dalk vanaand kan reën kry.

Hoop dit gaan voor die wind met elkeen van julle!

Heuningbygroete

Anoesjka

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: