Skip to content

23 September 2008, Dinsdag

Maart 22, 2009

18 September 2008

Hi daar

Hoe gaan dit? Gaan goed hier – geen klagtes nie. Buiten nou die wind wat waai en my sinus vererger. Maar die wind bring water hetsy uit die grond of die lug, so ons moet dankbaar wees daarvoor. Dit het hoeka nou die aand vir ons weer ‘n bietjie donderweer hier uitgewaai – het darem ‘n paar druppels gereën ook. Dit is een van die wonderlikste goed in die natuur om te ervaar wanneer die weer so opsteek. Eers is daar die drukkende gevoel – of iets êrens aan die broei is in die lug. Dan later hoor jy die gerammel in die verte en jy luister hoe dit al hoe nader kom en as die eerste druppels val, kry jy daardie vars reuk van klam grond.

Oral in die natuur kan ons sien dit is lente. Die perskebome is vol pienk blommetjies en begin nou ook groen blaartjies uitstoot. Die wingerdstokke loop weer uit en orals is voëltjies besig om nes te bou. Die mossies is besig om laas jaar se nessie voor die agterdeur te “revamp”. Ons eensame swaeltjie (wie se maatjie voor die winter dood is) het nuwe liefde gevind. Die tweetjies is so pragtig. Hul hou van styf teen mekaar sit en doen alles saam. Hulle is ook besig om te werk aan hul nessie op die voorstoep. Terwyl die enetjie grassies en takkies na hul klei nessie aanvlieg, sit die ander enetjie op die gras. Ek kon nog nie oplees oor hul gedrag nie, maar dit lyk of hy dophou vir gevaar. Ons het wel uitgevind dat hulle Kransswaels is.

Vir die eerste keer in jare het die mense by die Sindikaat koring geplant. Dit is te mooi om die bewerkte lande so te sien as jy daar verby ry – alhoewel hulle nie almal kon bewerk nie agv ‘n water tekort. Die koring staan nou al ‘n hele ent bokant die grond – grasgroen.

Nou die dag het Tinkie (ons klein jagtertjie) weer vreeslik aan die blaf gegaan. Dit het vinnig die ander honde se aandag ook getrek en Jaco moes gaan kyk wat aangaan. Daar staan toe ‘n Maanhaarjakkals net hier naby die huis agter die dam. Jan het my kom roep en ek is ook soontoe met my video kamera. Dis nogals ‘n mooi dier en ook goed vir die samelewing. Hy eet termiete, insekte en soms spinnekoppe en miere. Maar die outjie het nie vir ons lekker gelyk nie. Hy’t glad nie weggehardloop nie, net daar gestaan en grom vir ons. Ons het hom maar daar gelos en die honde daar weggehou. Die volgende oggend het ons hom dood gekry onder ‘n bos.

‘n Ander keer weer was Tinkie en Kiddo saam weg veld toe. Kort daarna het ons weer ‘n vreeslike geblaf gehoor. Ek en Petro was alleen by die huis. Ons is toe agter hulle blaf aan om te gaan kyk wat hulle nou weer ontdek het. Op pad soontoe sê ek toe vir Petro ek weet nie eintlik wat ons gaan doen as ons nou op hulle afkom en daar is iets waarvoor hulle blaf nie, want ons is maar albei ewe bang. Dis toe iets in ‘n gat waarvoor hulle so blaf en toe ons daar kom was Tinkie al halflyf in die gat. Hulle het so histeries geblaf dat ek gedink het wat ookal in die gat is het haar gebyt – maar gelukkig nie. Met ‘n groot gesukkel het ons die honde daar weggekry, maar ons kon nie sien wat in die gat was nie (eintlik was ons net te bang om te kyk, maar Petro sê sy het oë gesien).

Spikkel sit nou glad nie meer op haar nes nie. Die ganse het mos gedink sy’s nie ‘n goeie broeier nie en toe jaag hul haar van haar nes af. Haar eiertjies was mooi diep onder die plant in waar sy gesit het, maar die een gans haal dit toe uit en broei toe self daarop. Sy het ‘n hele nuwe nessie gebou en selfs van haar eiers ook daarby gelê. Maar ai, dit was ook maar van korte duur, want Bruno en Bliksem kan nou maar eenmaal nie die eiers uitlos nie. Hulle het nou al hoeveel opgevreet. Die twee wyfie ganse het toe maar besluit om saam ‘n nes te bou. Hulle sit nou langs mekaar en broei, maar selfs dit het die honde nie weggehou nie. Hulle het die nes leeg geëet. Een van die ganse het gister weer ‘n eier gelê, so ons hou nou maar duim vas dat daar iets van sal kom.

Met die ander hoenders gaan dit nog goed. Die agt kuikens raak nou groot – van die haantjies probeer nou kraai. Spikkel en die Rooi hennetjie lê nou ook in dieselfde nes eiers – reg hier voor my venster in die varing blompot. Spikkel is altyd eerste in die oggend by die nes en sodra sy opstaan dan kom sit die Rooi hennetjie. Maak my taak van eiers uithaal baie maklik. Het julle al ooit nagedink oor waar dit vandaan kom as iemand praat van ‘vlerk sleep’? Ek het nou die dag eers opgelet hoe die haan sy vlerk sleep voor die hennetjie.

22 September 2008

Vandag het ons ons eerste ware lente dag – maar die wind waai alweer by tye.

Met Jaco gaan dit nog goed. Ons leer nou maar albei hoe om voort te gaan sonder Tinkie – dankie vir al jul bemoedigende woorde. Die huis voel sommer leeg en stil sonder haar. Ek mis dit nou om hoeveel keer op ‘n dag op te staan om vir haar die deur oop en toe te maak sodat sy kan in of uit. Ons kan agterkom dat Kiddo haar ook vreeslik mis. Sy gaan nou glad nie eens alleen by die huis uit nie. Hulle tweetjies het saans in die kombuis geslaap, maar noudat Kiddo alleen is voel ons te sleg om haar alleen daar te los, so sy het nou maar weer teruggetrek bed toe.

Ek en Jaco is nou albei besig om te swot vir ons vuurwapenlisensies. Hy moet more gaan vir sy kursus en toetse – gelukkig net een dag. Ek moet 1-2 Oktober gaan en is nogal gestres daaroor. Ek voel nog glad nie voorbereid nie. Mens moet amper ‘n regsgeleerde word voor jy ‘n lisensie kan kry. Die plek waar ons moet gaan is nogals ver hiervandaan (amper 200 km) so more oggend is dit sommer baie vroeg opstaan – Jaco moet al 08h00 daar wees. Hou maar duim vas!

Ek het netnou so vir die spul geveerdes gelag… eers het een van die Pikkels vir arme Spikkel rondgejaag, maar toe loop hy hom vas teen die ganse wat toe weer op hulle beurt vir die Pikkel rondjaag – dit sal hom leer. Hulle het omtrent ‘n stofwolk op gehardloop.

Laat dit goed gaan met almal van julle!!

Geveerde groete

Anoesjka

PS: Ek heg vir julle ‘n fototjie van Grootbok aan (in memorium).

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: