Skip to content

5 Desember 2008, Vrydag

Maart 22, 2009

Hallo

Hoop dit gaan goed met julle almal. Dit is lekker om weer terug te wees by die huis. Vir die van julle wat nie weet nie, ek was vir twee weke in die Kaap (en Jaco vir ‘n week). Ons het dit baie geniet om weer van julle te sien. By die van julle wat ons nou nie kon uitkom nie, ons maak dit volgende keer. Kiddo het dit net so geniet in die Kaap. Sy het mos immers daar grootgeword. Fluffy (die hond wat ons daar by my ouma gelos het) was so uit haar vel uit om ons te sien. Die eerste aand kon ek amper nie slaap nie, want die hond het heeltyd onder my kamervenster gestaan en tjank. Sy was natuurlik baie ongelukkig toe ons nou weer weggaan. Bliksem en Bruno, wat op die plaas agtergebly het, was weer diep ongelukkig. Hulle het gate gegrawe, goed stukkend gekou en wou later nie meer eet nie. Hulle is darem nou weer gelukkig.

Na my laaste brief het daar sommer alweer ‘n paar dinge gebeur. Waar sal ek begin….

So ‘n tyd gelede het Jaco en Jan weer die skaap in die Grootkopkamp bymekaar gemaak. Die kamp is egter aan die anderkant van die teerpad en aangesien die kraal aan diekant beter is, wou Jaco die skaap oor die pad bring. Ek en Petro (Jan se vrou) is toe aangestel om vlagswaaiers te wees. Ons moes elkeen seker so 80m van die hek af staan – ek aan die Britstown kant en sy aan die Vosburg kant – en ons vlae swaai vir enige aankomende verkeer, terwyl die skape rustig oor die pad loop. Die enigste probleem was dat ons nog nie vlae gemaak het nie en toe kry ons maar elkeen ‘n stuk van ‘n ou rooi “overall”. Na al ons moeite het ek verwag dat daar ten minste een voertuig verby sou kom, maar niks. Ons help toe maar die skaap aanjaag tot by die kraal. Daarna moes ek maar weer aan die werk spring en Petro het so bietjie in die huis kom help. So 5-uur se kant die middag word ons twee toe weer kraal toe ontbied. Toe is dit nou help skape tel. Wat ‘n missie!

Dit was warm en die wind het gewaai en my sinusse het gefloreer op al die kraalstof. Om skape te tel klink maklik, maar glo my… dis nogals ‘n takie. Die skape het verskillende kleure oorbelle aan (min of meer volgens hul ouderdomme). Elke kleurgroep word apart getel en dan word die groot totaal ook getel. Nou, as jou groottotaal verskil van dit wat jy altesaam in elke aparte kleurgroep gekry het, dan is dit ‘n probleem. Dan is daar êrens ‘n fout, maar die probleem is waar? So dan begin jy maar weer van vooraf tel. Na die tellery is dit toe weer terug oor die pad met die trop skape, met rooi overalls gereed om gehys te word indien nodig. Al wie agtergebly het, was 9 hamels wat markgereed was. Hulle moes toe na die koeikamp (naby die huis) geskuif word. Die beste manier sou wees as Jaco en Jan hulle net gevang en op die bakkie gelaai het, maar na ‘n harde, warm dag in die kraal was hulle nie regtig lus om nog skape te vang en op die bakkie te laai nie. Dit het te veel na harde werk geklink.

Ek en Petro word toe weer ingespan om saam met Jaco en Jan die lammers na hul nuwe kamp aan te jaag. Wat ‘n fout was dit nie! Weet julle hoe wild en vol energie is hamel lammers? Hulle hardloop in al wat ‘n rigting is behalwe in die een wat hulle nou eintlik moes gaan. Jaco moes huis toe hardloop om die motorfiets te gaan haal. Dit het heel goed gewerk tot ons voor die hek gekom het waar hulle nou moes in. Kyk… dommer as ‘n skaap het ek nou nog nie gesien nie. Hulle staan ‘n paar meter van die hek af, maar sodra jy nader kom om hulle net bietjie aan te help, dan laat spat hulle weer in ander rigtings. Nege-uur daardie aand kry ons hulle eers in by daardie hek. Gelukkig het die maan geskyn sodat ek darem vaagweg die klippe en bosse kon sien waaroor ek moes hardloop en spring en dit agter ‘n lot dom skape aan. Ons kele was droog van fluit, skreeu en geluide maak. Dit was omtrent ‘n laaang dag. ‘n Les wat mens hieruit kan leer… kortpad is nie altyd korter nie.

Net die volgende dag is ons fisiese vermoëns weer op die proef gestel. Petro was weer hier by die huis gewees aangesien sy nie die vorige dag als kon klaarkry met die wat ons moes skape jaag nie. Terwyl ek rustig sit en werk, het ek ewe skielik Jan gehoor skreeu en hardloop. Petro het ingekom en kom sê dat daar rook buite is en dat Jaco gesê het Jan moet water bring. Onmiddellik is ek toe uit my stoel om te gaan kyk wat aangaan. Toe ek buite kom sien ek net vlamme (so ‘n entjie van die huis af). Na al die opwinding van die vorige dag, het Jaco bietjie verveeld gevoel en gewonder of gras vlambaar is. Nee, ek spot sommer. Hy was besig om vuilgoed op die ashoop uit te brand toe die wind ‘n vonk op die droë gras laat val. Binne sekondes het dit in ‘n vuur ontaard. Vir ‘n oomblik het ek gedink hierdie vuur gaan ons vier nie vandag kan keer nie. Petro en ek moes emmers vol water aandra en doodgooi terwyl Jan en Jaco die vlamme met nat sakke geslaan het. Wonder bo wonder het ons dit onder beheer gekry. Die vuur het kort voor my pa se graf opgehou. Tot donker toe het Jan en Jaco nog water gegooi op al die smeulende plekke, want die wind wou ook nie gaan lê nie en ons wou nie enige kanse vat nie. Die twee dae het ten minste gesorg dat ek my maand se oefeninge inkry.

Onthou ek het laas vertel van ons swaeltjies op die voorstoep wat so besig is om nes te bou, maar daar gaan nog niks aan nie? Net voor ek Kaap toe is, toe ontdek ons 3 eiertjies in hulle nes. Klein wit eiertjies met donker spikkels. Een van die eerste dinge wat ek gedoen het toe ons weer terug was by die huis, was om te gaan kyk of die swaeltjies nog okay is. En raai wat sien ek toe? Twee klein koppies wat oor die rand van die nessie loer. Ek is nie seker wat met die derde eiertjie gebeur het nie, maar sover kan ons net twee voëltjies sien. In die twee weke wat ek weg was, het die eiertjies uitgebroei en is die voëltjies al so groot dat hulle een van die dae behoort te vlieg. Dis ongelooflik. Die nessie is so klein, maar saans slaap hulle al 4 daar… ma, pa en die kleintjies. Dit is te kostelik. Bedags werk ma en pa ewe hard om kos aan te dra en ‘n wakende ogie te hou en al wat die kleintjies doen is eet, slaap en wag vir die dag wat hulle groot genoeg is om hul vlerke te sprei.

So ‘n paar dae gelede het ek ‘n ander klein voëltjie onder die wasgoedlyn opgetel, wat uit sy nessie geval het. Ek het hom ‘n rukkie gehou en kos probeer gee, maar hy wou nie eet nie. Jaco het op die leer geklim en hom weer terug in sy nessie gesit. Teen skemeraand toe sien ons sy ma is by hom. Ons is nie heeltemal seker nie, maar ons dink dit is ‘n Fiskaal. Die volgende dag het ons by die nessie gaan kyk en die outjie het nog rustig daar gesit, maar gister toe ons weer daar kom, is die nessie leeg. Ons hoop maar hy is gereed vir die lewe daar buite.

O ja… ek het alweer slegte nuus om julle mee te deel. My Spikkel hennetjie het in die tyd wat ek in die Kaap was, verdrink. Ai, sy was so pragtig. Ek vermoed die hane het haar gejaag en sy het skuiling op die damwal gesoek en toe so in die water beland. Sy was mos die enigste kuiken wat ons van ons oorlede Bruin hennetjie gehad het. Spikkel het darem 3 klein kuikentjies nagelaat. Hulle gaan nog goed aan en raak elke dag bietjie groter. Verder moes ek hoor dat Jaco my dierbare Spikkel vir Jan en Petro gegee het om op te eet! Jan sê sy was sommer lekker vet en as ek vra of hulle nie maagpyn gekry het nie, dan lag hulle maar net. Hier is wel een van die Rooi hen se kuikens (nou al groot hoendertjies) wat identies lyk soos Spikkel. Sy is… Klein Spikkel.

Ons Rooi hennetjie broei alweer. Die slag net op 3 eiertjies en in dieselfde blompot waar ou Spikkel haar eerste en haar laaste kroos uitgebroei het. Eintlik wou ons die eiers wegvat (hier is nou al genoeg hoenders – of hane ten minste) maar die arme hennetjie is so gekarnuffel deur die hane, dat ek haar maar die ruskansie gun. Alhoewel, dit help ook nie veel nie, want die hane kom jaag haar sommer van haar nes af. Sy was mos altyd Hendrik Haan se geliefde hen, maar noudat daar 4 jong hennetjies is, het hy heeltemal van haar vergeet. Hy loop nou saam met die 4 henne – hulle het nou onlangs begin eiers lê. My 3 Pikkels loop in hul bachelor groepie en dan loop die 3 jong haantjies in hulle bachelor groepie. Ek sal seker een van die dae hoor dat van die hane moet pot toe gaan.

Terwyl ons nou in die Kaap was het ons vir die tuin ‘n lekker groot voëlbad gekoop. Dit staan hier in die voortuin waar ek elke dag daarna kan kyk terwyl ek werk. Die enigste probleem is dat daar nog nie een voël daarin gaan sit het nie. Miskien is hulle maar nog net skrikkerig vir die nuwe ding in die tuin. Ek is al so nuuskierig om te weet wie dit eerste daarin gaan waag.

Met die boerdery gaan dit nog goed. Ons het heerlike somersdae en nagte en in vergelyking met laasjaar is dit nog muskiet- en motvry. Ons raak nou net baie angstig dat dit moet reën. Die veld is droog en van die skape begin nou daaronder ly. Ons het al lammertjies dood in die veld gekry en dan is daar ook ‘n paar wat saam met hul ma’s loop, maar wat baie swaar kry. Dink nie die ooie het genoeg melk vir hulle nie. Ounooitjie kan egter nie kla nie. Sy kry haar melkies op hul tyd. Sy’t sommer al heelwat gegroei in die tyd wat ek weg was. Is vreeslik bederf. Bly nou nie meer bedags in die hok nie, maar loop hier op die werf rond. As ons in die huis is, dan lê sy voor die agterdeur en as die deur net oopgaan, dan is sy binne-in die kombuis. Andersins hardloop sy agter Jan of die honde aan. Saans as ons haar weer in die hok gaan sit, dan sit sy darem ‘n vreeslike keel op. Dis net blêr blêr blêr.

Nou ja, ek het seker eers genoeg gesê vir een dag. Geniet die naweek wat voorlê en laat hoor gerus van julle!

Swaeltjiegroete

Anoesjka

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: