Skip to content

5 Februarie 2009, Donderdag

Maart 22, 2009

Hallooo!

Hoop dit gaan nog goed met julle? Hier is nie klagtes nie. Ons is baie dankbaar vir die bietjie reën wat ons so ‘n week gelede gekry het – 8.5mm en die volgende dag nog 2mm. Ons kan nog nie ‘n verskil in die veld sien nie, maar ek glo elke bietjie help. Ons kyk uit na nog reën. As dit nie was vir die grasgroen doringbome nie, sou die veld maar taamlik swart lyk. Ons het eers gedink die turksvye lyk hierdie jaar maar treurig – hulle kry mos net reënwater – maar eintlik dra hulle so baie. Na die eerste turksvy wat ek geëet het die seisoen, het ek met 3 dorings in my mond opgeëindig.

Hier het al twee groot swerms sprinkane oor die plaas gevlieg, maar gelukkig nie by ons gekom sit nie. Klink darem of daar nie regtig ‘n groot sprinkaan krisis in ons omgewing was die jaar nie.

Met Jaco gaan dit nog goed. Hy bly maar bedrywig. Het nou die dag alweer windpompe reggemaak. By die een pomp was daar ‘n byenes in. Hulle moes dit toe eers die aand uitrook sodat hulle die volgende dag die koeke kon verwyder om aan die pomp te kan werk. Hy het darem ongedeerd daarvan afgekom, maar Jan het ‘n bysteek weg en Bruno (hond) sommer ‘n hele paar. Ten minste is die pomp nou reg en gooi hy water in die dam vanwaar ek my groentetuin wil natlei. Daar is nog nie ‘n saadjie in die grond nie, maar ons werk daaraan. Ek sukkel net om al die saad hier in die hande te kry wat ek graag wil hê. Jan en Jaco is nie eintlik baie positief oor die groentetuin nie. Hulle sê die ystervarke gaan my groente verniel en opvreet, maar ek gaan maar positief bly. Wie nie waag nie, wen nie. Die grond moet verkieslik omgeploeg word, maar is op die oomblik hopeloos te droog en hard. As dit nou net kan kom reën, kan ons dit probeer omploeg. Beide die trekker en die ploeg kom uit Noag se ark, so dit mag dalk op ‘n storie vir ‘n volgende keer uitloop…

Uiteindelik is ons voëlbad nie meer net ‘n groot wit tuin ornament nie. Elke dag kom hier sommer ‘n paar voëltjies water drink en ek het selfs al enetjie gesien bad. Vandag het ek juis hier by die voëlbad ‘n “nuwe” voëltjie ontdek… die Witkeelkanarie. Die twee kransswaeltjies is darem nog altwee hier, maar ek weet nie vir hoe lank nie. Hier is twee ander Grootstreepswaels wat by een van ons swaels se nessies (hulle het 3 nessies hier op die voorstoep) wil intrek. Hulle is nou regtig baie mooi – ek het hulle in die Kaap ook al gesien. Hulle was nou al ‘n paar maal hier by die nes, maar vandag het hulle sommer klei ook aangevlieg. Hulle is hard besig om te bou aan die nessie. Ek is bly oor die nuwe intrekkers, solank hulle net nie ons ander swaeltjies laat wegtrek nie.

Die nuwe hoenders het sommer goed hier aangepas. Hulle is al klaar mak. As hulle in die aand sien ek kom aangestap met my wit kos emmertjie, sak hulle my omtrent toe. Selfs al het ek nie eens die emmer by my nie, dan kom hul steeds nader om te kyk of ek nie tog ‘n bietjie kos by my het nie. Waar ek voorheen net vir die hoenders heel mieliepitte gegooi het, kry hulle nou ‘n mengsel van mieliepitte, koring, “mixed-food”, opgekerfde lusern en lê-meel. Die brousel lyk en ruik vir my so lekker kraakvars dat ek sommer lus word om daaraan te proe. Die enigste probleem is dat ons te veel hane het. Ons sal ten minste 5-6 van hulle se koppe moet laat rol, maar ai… ek kon dit nog net nie oor my hart kry nie.

Boerdery is beslis nie vir sussies nie – eintlik wens ek soms ek het nie ‘n hart gehad nie. Mens raak te lief vir die diere en as daar iets met hulle gebeur of as jy self die doodsvonnis vir hulle moet oplê, voel dit of jou hart wil breek. Ons het Dinsdag vir Jan ‘n hoender belowe, maar toe hy die aand kom om een te kom haal, kon ek net nie sê watter ene nie. Nou het ons dit maar eers gelos, maar ek weet die dag gaan binnekort aanbreek wat ek wel een sal moet laat gaan. Ek gee nie om vir die kos wat hulle eet nie, maar hulle verniel die arme henne net te veel. Die henne is maar my motivering.

Vandat al die nuwe henne gearriveer het, het my gunsteling Pikkel ook skoon van my vergeet. Ek het hom gewoonlik ‘n paar maal op ‘n dag opgetel. As ek buite kom het hy sommer na my toe aangehardloop gekom en elke oggend het hy op die muurtjie voor die agterdeur vir my kom kraai. Hy’t ook ten minste een keer op ‘n dag ‘n draai gemaak voor die venster waar ek sit en werk. Wanneer die voordeur oopgestaan het, het hulle 3 mos sommer net reguit ingeloop. Nou pas hul net die henne op. Ek kry hom darem nog so af en toe in die hande en skel hom eers oor hy nie meer vir my kom kuier nie.

Verder sukkel ek om die eiers in die hande te kry. Of hulle lê nie genoeg nie, of ek kry net nie hulle lêplekke nie of die likkewane is my een voor. Ons het nou al drie likkewane die afgelope week of twee hier om die huis gekry – naby die hoenderhok (waar hul saans slaap) en een sommer in die voortuin. Ons los hulle maar – hou nie daarvan om hulle dood te maak nie. Jaco het die een op die bakkie gelaai en wou ‘n ent met hom ry voor hy hom aflaai, maar voor hy nog kon wegry, het die likkewaan bo van die bakkie afgeklim en spoorloos verdwyn. Ek het nog uitgehardloop gekom met die kamera, maar toe is hy reeds weg. Jan is vreeslik bang vir die likkewane, maar Jaco vang hulle sommer so met die kaal hand. Het nogal vir my gesê as ek hom sien moet ek hom ook so vang. Ha ha… wat’s die kanse?

So van reptiele gepraat… ons het mos nou die dag weer op ‘n kobra afgekom. Dit was al sterk skemer en ek, Jaco en Jan het by die huiswater windpomp (naby die huis) gestaan en wou net begin aanstaltes maak huis toe, toe Jaco skielik roep “wow… stop… slang!” My bene het skielik soos jellie begin voel. Tussen my en Jaco was daar ‘n Asbos en dis waaronder die slang toe was. Ek het die honde en Ounooi weggeroep huis toe en sommer dadelik ‘n ketel en ‘n pot kookwater gaan opsit. Jaco en Jan het die slang opgepas. Wat dinge moeilik gemaak het, is dat daar klomp ‘scrap’ lê soos ou bande, planke, metaal, pype, ens. Dit was moeilik om die slang dop te hou en dit het gevoel of die water ‘n ewigheid neem om te kook. Uiteindelik was dit klaar. Ek het dit net vir hulle gaan gee en is weer huistoe, waar ek maar my gebedjies opgesê het. Jan was self so bang vir die slang dat hy nie naby wou kom nie. Jaco moes maar alles alleen doen. Met flits in die een hand en ketel in die ander moes hy hom op ‘n band balanseer, die slang dophou en gooi met die kookwater. Die water was te min en gelukkig het ek nog ‘n pot opgesit. Jan het die slang met klippe gegooi, maar was so angstig dat hy amper vir Jaco raak gegooi het. Soos wat die slang na Jaco toe aangekom het, het hy die tweede pot water op hom gegooi. Dit het die slang styf gemaak en hulle kon toe sy kop vermorsel. Nee kyk, ek weet nie wat ek sonder hom sou doen nie, want so naby ‘n slang waag ek dit beslis nie. Ons was albei maar taamlik bewerig en verlig daarna.

Het ek nou al vir julle vertel watse verkeer stres ek in die oggend het? Waar julle nou vroeg more begin stres oor iemand wat sit en slaap as die robot groen is of ‘n taxi wat skielik voor jou inry en dit net om ‘n paar meter verder skielik voor jou te gaan stop, het die plaas ook maar sy eie verkeer stres. Deesdae gaan dit al so ‘n bietjie beter, maar kom ek vertel julle van my ergste oggend. In die oggend word ek wakker en die eerste ding wat ek hoor, is die gekloek van die hen en haar kuikens se gepiep. Hulle kom byna tot voor die kamerdeur en wag vir hulle kos. Basjan, wat voor die deur slaap, gee ook af en toe ‘n tjank in afwagting dat ons nou moet opstaan. Dan skemer die hane se gekraai in die hoenderhok deur. Hoe wakkerder ek word, hoe meer klink dit vir my of die hoenders mekaar gaan begin opvreet in die hok as ek nou nie gou genoeg daar kom om vir hulle oop te maak en kos te gee nie. Eers moet Basjan sy kos kry sodat hy darem vir ‘n paar minute onder my voete uit is. Dan gee ek gou die hen en kuikens kos, maar voor hulle dit kan opeet is Basjan daar om te help. Ja… hy en Kiddo verbeel hulle mos hulle is hoenders en eet net so hard saam aan die mieliepitte.

Dit gee omtrent ‘n geroeiery af om net die honde weg te hou. Verder is Basjan mos nou uitgerus en uitgehonger vir aandag. Hy spring heeltyd teen my op en byt net waar hy ‘n plek kry – ‘n paar kledingstukke het al gesneuwel. Naderhand gee ek maar op en beweeg aan waenhuis toe om die ander hoenders se kos te kry. Voor ek nog by die deur kan kom, laat die ganse my mooi verstaan hulle is ook honger. Hulle maak ‘n vreeslike geraas en kom aangevlieg (as jy dit vlieg kan noem). Goed, ek gee dan maar eers die ganse kos. Intussen het Ounooi bewus geword van die beweging op die plaas en kom al blêr-blêr nader. Sy het ‘n lang nag agter die rug en sterf van die dors. Maar sy is tevrede om eers te ‘settle’ vir die ganse se mielies. Nou moet die ganse met die skaap en die honde kompeteer om by hul kos uit te kom. Blikkie en Bruno geniet die koel oggend en het sommer nuwe lewenslus. Hulle hardloop en speel so met mekaar dat hul sommer in jou vas hol as jy nie kyk nie.

Uiteindlik is my emmertjie vol en kan ek aanbeweeg na die hoenderhok. Basjan is gou uitgeëet aan die mielies en kom met ‘n spoed agterna gehol. As ek gou genoeg is kan ek die hekkie toe maak voor Ounooi ook wil agterna. Ek het skaars die hoenderhok oop of Basjan is binne en die hoenders laat hoor hul ontevredenheid. Party van hulle skiet soos ‘n pyl uit ‘n boog by die deur uit. Ander is haastig besig om kos van die vloer af op te pik en ‘n paar verskriktes wag op die stellasie totdat daar eers ‘n rustigheid neerdaal. Dis juis so vroegoggend (en namiddag) wat die hane nie die henne kan uitlos nie. Eers jaag die hoenders mekaar (of om by die kos uit te kom of omdat hulle hond-se-gedagtes het) en dan jaag Basjan weer die hoenders. Teen daai tyd is my keel al droog geraas, maar niemand wil luister nie.

Nou weer terug waenhuis toe om die emmer te gaan bêre. Oppad soontoe trap ek eers in ‘n doring wat dwarsdeur my plakkie steek. Ouch! Dan koeler toe om Ounooi se melk te kry (as daar nog is). Teen die tyd is sy al so angstig vir haar melk. Sy trap op my toon, stamp die bottel met haar kop en is so vervaard dat sy sommer my vinger gryp in plaas van die bottel se tiet. Dis nou net die laaste strooi. Ek is skaars ‘n halfuur wakker en is klaar vuil en sommer omgekrap omdat niemand na my wil luister nie.

Ek storm in huistoe en gaan soek daai eerste koppie koffie. Terwyl die koffie trek, kom ek agter Kiddo is weg (sy is mos orals waar ek is). Nou eers weer terug waenhuis toe. Ja-nee… vir die soveelste keer is sy daar toegemaak. Terug in die kombuis is daardie eerste sluk koffie hemels. Ek kan nie anders as om net te sug… en dan te glimlag oor die diere en hul streke nie. Al voel dit soms of ek ‘n aar gaan bars, kan ek nooit vir hulle kwaad bly nie. Hulle is dan nou ons lewe. So volgende keer as jy jou humeur wil verloor in die verkeer… dink aan die plaasverkeer.

Nou moet ek eers groet. Laat dit goed gaan tot ‘n volgende keer.

Reptielgroete

Anoessssssjka

One Comment leave one →
  1. Rudi permalink
    September 8, 2010 6:19 nm

    Baie dankie. Dit maak vir baie interresante lees stof.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: