Skip to content

5 November 2008, Woensdag

Maart 22, 2009

Hallo julle!

Hoop dit gaan goed met julle. Ons het ons jaar-viering baie geniet. ‘n Jaar nadat ons die eerste keer hier wakker geword het, was nogal baie anders as daardie eerste more. Waar dit daardie oggend doodstil was, het ons nou vir Hendrik en die Pikkels gehad om ons wakker te kraai… en dan natuurlik ook al die ander diere. Dit was dan toe ook net mooi op die oggend wat Spikkel se eiers begin uitbroei het en dit nog voor ons haar geskuif het uit die blompot. Ek het juis een van die kuikentjies in my hand gevang voor hy die afgrondes af wou tuimel. Ag, hulle is tog te kostelik as hul so klein is. Spikkel is ‘n vreeslike kwaai ma, maar ons het haar darem geskuif gekry na die “hondehok” (sommer ‘n sement hok met ‘n draad omheining hier buite wat ons al vir Skapie, Mookie ens ook al gebruik het – nou nie die regte hok waar die honde slaap nie). Daar kon sy rustig die res van haar eiers uitbroei – alhoewel, meeste van hulle was vrot, net 3 het uitgebroei.

So van kuikens gepraat… Jaco en Jan het nou die dag besluit om die fontein hier naby die huis bietjie skoon te maak. Dit is heel toegegroei onder die riete – so erg dat mens skaars die water kon sien. Jaco het die hele storie toe aan die brand gesteek en ek is seker mens kon die vuur tot in die dorp sien🙂 Die vlamme het meters hoog in die lug opgeskiet en dit het soos “guy fox” geklink. Die hele werf was onder die swart roetstukke. Daarna kon mens darem weer die water in die fontein sien. Jaco is toe ook sommer met sy “wader” daar in om te kyk hoe diep dit is. Die water sal maklik vir my by skouer hoogte pas. Intussen het die riete alweer begin uitloop en moet Jaco hulle binnekort met gif behandel. Ons plan is om die fontein heeltemal skoon te kry sodat die ganse daar kan swem. O ja, om terug te kom by die kuikens… daar tussen die bosse het Jaco toe op ‘n voëlnessie afgekom met 4 piepklein kuikentjies in – hulle het soos klein aasvoëltjies gelyk. Ons het ‘n foto probeer neem, maar dis nie baie duidelik nie. Ons het hulle ook een keer in die nag gaan besoek om te kyk watter soort voëltjie die ma is, maar dit was so donker en sy’t weggevlieg voor ons mooi kon sien. Twee dae later het ons ontdek die nessie is leeg… iets het die kuikentjies gevang. Ai, ek het skoon hartseer gevoel oor hulle.

Met my 3 Pikkels gaan dit nog goed. Hulle baklei nou net met mekaar dat die bloed loop. Hul rooi kamme kry sommer so ‘n blou-pers kleur as hulle befoeterd is. Ons het nou eintlik te veel hane, want dit is Hendrik, die 3 Pikkels en dan nog 3 klein haantjies en daar is maar net 6 henne waarvan 4 nog klein is. Dat van hulle pot toe moet gaan, wil ek niks van weet nie. Die klein haantjies kraai ook nou al, maar ai… dis die allervreeslikste geluide wat daar uitkom. Mens kan nie help om te lag nie. Al die hoenders gaan slaap nog saans in hul hok. Hulle is nou nogal goed in die gewoonte en mens sukkel nie meer so om hul daar te kry nie. Sodra ek met die blikkie mielies na die hok begin loop, kom die hoenders uit alle oorde aangehardloop. Voor die hok toe gemaak word, moet hulle ook eers getel word: 1 x Hendrik, 1 x Rooihen, 1 x Spikkel met 3 kuikentjies, 7 x klein hoendertjies en 3 x Pikkels. Soms gaan dit maar rof binne daai hok. Ou Hendrik kan glad nie die Pikkels verdra nie en hulle moet gereeld les opsê. Hy is baie beskermend teenoor sy Rooihennetjie.

Ons het so uitgesien na die klein gansies wat nou in hierdie week moes uitbroei, maar… iemand het alweer die eiers opgevreet. Ons was laas naweek De Aar toe vir ons maandelikse inkopies en kuier en toe ons Sondagmiddag terugkom, is die gansnessie leeg. Ons was so teleurgesteld. Wat gebeur het, weet ons ook nie, want die honde het nog nooit by daardie nes gaan pla nie en die gans wat daar gebroei het, was vreeslik kwaai – sy het selfs al ‘n paar maal vir Jaco gebyt. Die eiers moes nou teen die einde van die week uitgebroei het. Dit lyk of die ganse nou maar hul lot aanvaar het en opgegee het met die broeiery – selfs die gans wat nou al vir weke lank op niks sit en broei het, het nou eindelik van die nes af opgestaan. Hulle moet maar volgende jaar weer probeer.

Met die boerdery gaan dit goed. Ons het so 2 weke gelede ‘n paar nuwe ramme bygekoop. Ek het saam gery toe hulle in die kampe afgelaai is en dit was nou interessant om dop te hou. Sommer met die afklimslag het hulle al hul lippe omgekrul en die ooie begin uitkyk. Die ooie het ook nie op hulle laat wag om te kom kennis maak nie. Al wie nie bly was nie, was die ou ramme. Een van hulle het sommer dadelik vir die nuwe jong ram laat verstaan wie is baas deur so ‘n bietjie kop te stamp en kragte te meet.

Dit is nou weer die tyd van die jaar waar die skape gedoseer en teen bosluise behandel moet word. Jaco en Jan is hierdie week besig daarmee en dit is omtrent harde werk. Al die skape moet gevang en omgedop word. Hulle is van vroegoggend tot saans laat besig. Kom net die middag vinnig huis toe vir ‘n lafenissie vir die keel en iets vir die maag. Die reën is nog net ‘n bietjie skaars. Laasjaar hierdie tyd het ons sommer al lekker baie reën gehad. Maar ek moet ook bysê dat die muskiete ons toe ook rondgedra het. Sover het ek nog net een muskietbyt weg. Ons het nou die dag darem so 3mm reën gehad – net om die stoffies nat te maak. Dis toe wat ek die kleinste ou paddatjie sien wat ek nog gesien het. Hy het hier voor die venster waar ek sit en werk, verby gehop, maar is skaars groter as my duim se kop. Die veld is droog en ons hoop net die reën wag nie meer te lank nie.

Met die honde gaan dit nog goed. Kiddo het nou die dag haar eerste muis gevang. Weet nie waar sy aan die muis gekom het nie, maar toe ek weer sien het sy die yslike muis in die kombuis – dit het amper soos ‘n hamster of ‘n ding gelyk. Arme ding. Verder doen Bruno en Blikkie maar elke nou en dan kwaad. Aan die begin het Bruno mos geweier om op die bakkie te klim. Hy sal eerder vir kilometers agter die bakkie aan hardloop as wat hy sal opklim en net saamry. Noudat ons hom uiteindelik sover gekry het om op te klim en saam te ry, wil hy net heeltyd op die bakkie klim. Jy loop nog net in die rigting van die bakkie dan is Bruno al op.

Glo dit nou of nie, maar Skapie en Mookie se verhouding is beëindig. Vandat die ander beeste (MooMamma, Ousus en die twee kalwers) nou weer terug is op die plaas, het Mookie besef sy hoort eintlik by hulle en nie tussen die skape nie. Sy wei nou elke dag saam met hulle en kom nie eers meer huis toe nie. Skapie het nog ‘n paar dae verlore hier om die huis rondgedwaal en selfs een dag saam met die beeste gaan loop, maar nou is hy permanent tussen die ander skape. Selfs hy kom nie eers meer huis toe vir ‘n paar lusernpille nie. Dit kan dalk net goed wees vir sy dieet, maar nou begin die debat weer of hy moet mark toe of nie. Die twee kalwers het nou ook name gekry. Die versie is Daisy en die bulletjie Cruiser.

Dan nog iets wat gebeur het terwyl ons die naweek in De Aar was… Mense wat verby die plaas gery het, het ‘n lammertjie in die pad gekry en vir Jan daarvan kom sê. Dis nog ‘n baie jong lammertjie – tot die naelstringetjie is nog aan. Jan is toe al die pad in dorp toe om melk in die hande te kry. Ons wou nie graag weer ‘n hanslam hê nie, want dit is maar ‘n duur storie en mens raak so geheg aan hulle. Maandag het Jaco die lammertjie saam gevat kraal toe in die hoop dat hy sy ma sal opspoor. Die lammertjie moes die nag in die veld saam met die ander skape oornag. Gisteroggend vroeg het Jan en Jaco weer na hom gaan soek om te kyk of hy sy ma gekry het of nie. Daar is arme ou lammertjie toe nog steeds sonder ma. Nou is lammertjie weer hier in die “hondehok” en moet ons weer gereeld bottels melk aandra. Die slag is dit ‘n ooitjie wat natuurlik haar kans baie groter maak om nie eendag mark toe te gaan nie🙂 Sy is so pragtig en fyntjies. Ek dink ons moet haar Ounooi noem (vernoem na my aanstaande swaer se oorlede kat).

Ons swaeltjies op die voorstoep dra nog steeds veertjies aan na hul nessie, maar ek glo nie daar is al eiertjies nie. Die mossies op die agterstoep is hulle egter ver voor. Hulle het al hul eiers uitgebroei en die kuikentjies is al groot. Ek het agtergekom hoe lekker dit is om voëls te kyk. Mens besef nie aldag hoeveel verskillende voëls daar eintlik rondom jou is nie. Hier is bv die Europese Byvreter wat die mooiste kleure het. Hulle besoek ons net in die somer. Ek dink selfs julle in die stede sal ‘n nuwe voëltjie ontdek as jul net bietjie rondkyk.

Jaco het vanmiddag weer met ‘n ooi en ‘n lammertjie huis toe gekom. Die lammertjie is vanoggend in die kraal gebore, maar om een of ander rede wil die ooi nie hê hy mag aan haar drink nie. Nou staan hul altwee agter op die bakkie in die hoop dat sy die lammertjie gewoond sal raak. Jaco en Jan het haar selfs al vasgedruk sodat die lammertjie kan drink. Die arme ding is nog piepklein en sy velletjie so ‘n pienk kleur. Hopelik ruk die ooi haar reg, anders sit ons met nog ‘n hanslam.

Wag, dis tyd om die hoenders in die hok te kry en vir Ounooi nog ‘n bietjie melkies te vat.

Laat dit goed gaan met almal van julle en laat hoor asb van julle.

Lammergroete

Anoesjka

PS: Ek sal later ‘n foto van Ounooi stuur…

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: