Skip to content

4 Mei 2009, Maandag

Mei 5, 2009

Goeie dag,

Hoe gaan dit met julle stedelinge? Hier gaan dit goed. Dit raak net al hoe kouer en ek verlang na die somer.

Ja die kat kom weer want hy wil nie langer wag. Die kat kom weer net die volgende dag…. Jip… die muskejaatkat het weer vir ons kom kuier. Dit was net voor 5 die Sondagoggend toe ek hoor die hoenders wat op ons voorstoep slaap (Hendrik en sy span) raas. My wakker word en opspring was sommer een. Ek het dadelik kat se gedagtes gekry. Alhoewel, ons het heel veilig gevoel met die hoenders op die stoep, want al drie groot honde slaap daar. Blikkie en Bruno se hok is reg by die plek waar die hoenders slaap. Ek het vir Jaco gesê ek dink daar’s iets by die hoenders, maar hy het nog gesukkel om terug te keer uit droomland. Ek het my slippers aangetrek en flits in die hand is ek uit stoep toe. Die honde het nog rustig in hul hokke gelê en slaap. Ek’t met die flits gelig by die hoenders en kon dadelik sien daar is van hulle weg. Ek het stadiger gelig en hulle probeer tel. Een….twee…. drie…vie wat? kyk weer… kat! Daar reg langs die hoenders sit die kat toe dood stil en byna tel ek hom vir ‘n hoender. Vir ‘n oomblik was ek stom geskrik. Ek was nog nooit so na-aan ‘n lewendige muskejaatkat nie. Ek kon sy kop krap as ek wou – dink net nie hy sou purr nie. Skielik begin die adrenalien pomp. Jaco!! Kat!!! Staan op!!! Ek hardloop terug kamer toe om seker te maak hy’t my gehoor. Dit was omtrent ‘n geskarrel om die kluis oop te kry en die pistool uit te haal. Die probleem is nou net hoe skiet mens ‘n kat so naby aan jou. Kon hom baie makliker oor die kop slaan. Net toe Jaco by die kat kom, begin hy te beweeg. Die volgende oomblik hoor jy net hoenders en daar gaan die kat… die donkerte in. Of hy ‘n hoender saam met hom gevat het, kon ons nog nie sê nie. Vyf hoenders was weg. Vir ‘n oomblik het ek gedink die kat het al ‘n paar keer kom vang gedurende die nag, maar toe sien ek vir Hendrik sit op ‘n stomp in die tuin. Ons het ook twee hennetjies bo-op die hondehok gekry. Een hen en ‘n klein jong hoendertjie was nog weg. Daar het van die jong hoendertjie se vere in die blombak gelê. Ons het oral gelig met die flits, maar geen teken van die kat of nog hoenders. Jaco het maar weer gaan lê en ek het eers ‘n draai geloop. Op pad kamer toe het ek weer by die stoep gaan kyk. Kiddo (my skaduwee) was natuurlik saam en die volgende oomblik trek sy weg met ‘n spoed en stop voor die palm boom. Jaco! Die kat! Ek dink hy’s in die boom! Jaco kom uit met die pistool en ek lig al langs die boomstam op. Sekerlik kan die kat nie teen die boom uitklim nie!? Wraggies… daar hang hy! Driekwart ver geklim in die boom en hy klou vir lewe en dood. Dis doodstil en almal het ophou asemhaal – ek dink die kat ook. Bang….bang…. maar dis mis. Nee, die pistool gaan nie werk nie, maar dis weer hopeloos te naby om die kat met ‘n .243 te skiet. Jaco kry toe die .22. Intussen het die kat hoër geklouter tot reg bo in die boom. Hy het homself so versteek tussen die blare en sade dat ons net die puntjie van sy stert sien uitsteek het. Nou wat nou? Kan ek nou rustig verder gaan slaap met my hoendertjies wat so naby is aan die dreigende gevaar? Ons het maar gaan lê (ek steeds beswaard oor die vermiste hoenders), maar ek het eers weer ingesluimer nadat die son uitgekom het. Die vermiste hoenders is darem toe ook opgespoor en almal was ongedeerd. Heeltyd wonder ons nou wat het van die kat geword. Ek was onder die indruk hy’t lankal weggeglip uit die boom. Later die oggend het Jan hier ‘n draai gemaak en ons het hom vertel van die oggend se gebeure. Hy’t saam met ons in die boom kom kyk en sowaar… daar sien hy toe ‘n stukkie van die kat uitsteek. Het Jaco hom dalk raak geskiet dat hy daar in die boom bly lê en doodgaan het? Of slaap hy maar net? Jaco het ‘n leer teen die boom gesit en tot bo geklim, maar steeds kon hy nie naby die kat kom nie. Hulle maak toe ‘n lang ysterhaak en kap teen die boom min of meer waar die kat versteek lê. Skielik spring die kat op en beweeg om in die boom. Hy lewe nog! Toe kruip hy so diep in dat ons nie eens ‘n haar sien uitsteek het nie. Diè kat het beslis 9 lewens. Wanneer hy toe uit die boom uit is weet ons nie, maar ek glo nie hy is meer in die boom nie. Van daardie dag af het ek besluit dis tyd dat Hendrik en sy span weer saans terug trek hoenderhok toe. Eintlik was dit so ongelooflik, maar toe dit begin donker raak daardie aand was hulle duidelik huiwerig om weer in die rankplant te gaan sit. Elkeen het in ‘n ander rigting gegaan. Ons het hulle probeer aanjaag hok toe, maar was dit nou vir jou ‘n gesukkel. Jaco het so agter Spookie aangehardloop, dit was eintlik vreeslik snaaks. Jammer ek kon dit nie op video neem nie🙂 Hulle het omtrent die stof uit die grond uit gehardloop. Dit was later al heeltemal donker en ons sukkel nog steeds met die hoenders. Op die ou end moes ons hulle een-een vang en hok toe dra. Dit was net moeilik om almal op te spoor. Het selfs een van die henne bo-op die koeler gekry. Sy’t met die leer wat teen die koeler se muur staan tot bo geklim. Ons het die twee henne met die kuikentjies ook gevang en in voëlhokkies gesit. So al kom die kat weer, sal hy beslis nie ‘n hoender kry vir aandete nie. Ek weet nie of hy vir die ganse sal kans sien nie…

Deesdae gaan dit darem beter om al die hoenders in die hok te kry, maar daar is maar steeds ‘n paar wat nog nie gretig is om hok toe te gaan nie. Ek dink dit is grotendeels maar oor die groot hoenders (veral die hane) hulle so boelie. Net nog ‘n rede hoekom dit een van die dae hoender-slag-dag sal moet wees. Eintlik is ek nou bly dat ons nie die kat kon doodmaak nie. Hy is so pragtig en verdien om te lewe. Sal maar net probeer sorg dat hy nie ‘n rede het om weer te kom kuier nie.

Die swaeltjies se kuikens het uitgebroei en hulle is al yslik groot. Daar is tweetjies en ek glo hulle gaan een van die dae probeer vlieg. Daardie twee koppies loer baie nuuskierig daar bo uit hulle nessie uit.

Ounooi (die hanslam) loop steeds hier by die huis. Eintlik begin ons nou al raadop raak met haar, want sy vreet alles wat groen is. My Bougenvilla kry net nie kans om te blom nie. Jaco het draad rondom dit gespan, maar nou het Ounooi al ‘n manier gekry om dit op te lig sodat sy lekker kan vreet. Of my Bougie die koue winter sonder blare gaan oorleef sal ek nou maar moet sien. Nou die dag hou ons vir Ounooi dop deur die kombuisvenster. Sy staan toe onder een van die Perskebome. Sy’t al al die blare binne bereikbare afstand opgevreet, maar sy loop op en af onder die boom en jy kan eintlik sien hoe werk daai kop om ‘n plan te beraam om by die groen blare uit te kan kom. Daar staan ‘n werksbank naby die boom en ek is seker sy’t dit oorweeg om daarop te spring, want sy kyk so vir die boom en dan vir die werksbank en weer vir die boom. Wag, hier is sy nou hoekal weer in die blomtuin (sonder blomme). Ek moet haar eers gou gaan uitjaag.

Die vorige lang naweek het Jaco se suster, hul twee kinders en ‘n maatjie mos hier by my op die plaas kom kuier. Jaco en sy swaer was op ‘n jaarlikse familie-motorfietstoer. Hulle het bietjie Sutherland se omgewing gaan verken. Dit was net ‘n baie koue en nat naweek, maar die manne het dit baie geniet. Die kinders het hulleself ook gate uit geniet hier op die plaas. Ten spyte van die koue kon ons hulle net nie binne hou nie. Oom Jaco se trekker was darem net te ‘n lekker speelplek. Verder het hulle die eerste dag al so in die water gemors dat hul skoene sop water nat was en ons dit eers weer teen die einde van die naweek droog gekry het. Die Saterdagmiddag het ons besluit om ‘n ent te gaan stap met die honde en kinders. Ek het hulle gevat na die grond dam waar ek en Jaco altyd met die honde gaan bal speel. Ons het net daar gekom toe ek sien Bruno en Basjan jaag iets in die veld. Eers het ek gedink dis ‘n haas wat in ‘n gat ingekruip het of iets, maar toe sien ons dis ‘n likkewaan. Binne sekondes was Kiddo en Bliksem ook agterna. Dit het gevoel of my hart gaan staan. Ek het gegil en geskreeu op die honde maar nie een wou luister nie. Ek het al gesien hoe gaan hulle die arme likkewaan verskeur en ek kan niks daaraan doen nie. Die volgende oomblik gee Kiddo sulke benoude gille. Die likkewaan het haar aan die neus beet gekry! Ek het nader gehardloop en in die gewarboel vir Kiddo opgetel. Daar hang die likkewaan toe steeds aan haar neus en hy wil nie los nie. Ek was amper histeries! Die veearts is ver en wat maak ek as my hond nou net ‘n halwe neus het!? My skoonsus het die likkewaan geskop terwyl hy so hang en dit het hom gelukkig sy greep op Kiddo se neus laat verloor. Toe takel die ander honde hom weer verder. Ek kon nie toekyk nie en is terug huis toe met Kiddo. Ten spyte van haar noue ontkoming wou sy met alle mag en krag weer terug na die likkewaan. Ek moes omtrent spook om haar in my arms te hou. Na al die gespartel was my nek en gesig later meer vol bloed as die hond se neus. By die huis kon ek haar nou mooi bekyk om die skade te beraam. Ekt haar skoon gemaak en haar neus het heel okay gelyk. Ek was net bekommerd dat sy binne dalk seergekry het waar ek nie kon sien nie, maar dit het nie gelyk of iets haar enigsens pla nie. Ons is terug na die dam gewapen met die sweep en ‘n hand vol lekkers. Ek het dringend iets nodig gehad om van my gebewe ontslae te raak. Kiddo het duidelik ook baie groot geskrik want sy was naar en het sommer diarree ontwikkel – seker van al die stres. Halfpad dam toe toe kry ons my skoonsus, die kinders en die honde. Sy het toe sommer die honde met ‘n stok probeer skrik maak en die likkewaan het ‘n kans gekry om in ‘n boom te klim. Gelukkig is hy een taai dier en ek glo hy sou oorleef. As dit ‘n haas was, was hy lankal in stukke. Toe die honde die sweep sien was hulle natuurlik baie versigtig en kon ek darem meer gerus begin voel. Nou kan ek daaroor lag, maar op daardie oomblik was dit alles behalwe snaaks. Dis nou jammer ek het nie die kamera by my gehad nie…

Die Sondag besluit ek toe ek gaan almal vir ‘n bakkierit in die veld vat – sommer die krippe omry en kyk of alles nog okay is. Die kinders geniet dit tog so agter op ‘n bakkie. Toe almal nou eindelik op die bakkie is (kinders en honde) en ek als het wat ek moet saam vat, toe wil die bakkie nie start nie. Dis net tikketikketikketik. Die twee seuns (8jaar oud) en skoonsus moes toe maar stoot, maar die bakkie was net te swaar. Toe sukkel ons nou eers weer om die honde van die bakkie af te kry, want hulle vrek oor ‘n bakkie en kon nie verstaan hoekom moes hul dan nou weer so gou afklim nie. Die sweet tap al die drie agter die bakkie af, maar niks. Nee, ons het hulp nodig. Die kinders gaan roep toe vir Jan om te kom help. Op en af stoot hulle my hier oor die werf, maar al wat ons hoor is tikketikketikketik. Net voor ek by ‘n hek tot stilstand sou moes kom, sit ek die bakkie in eerste en start weer… wraggies… daar vat hy toe. Eureka! Ek glo nie een van hulle sou nog ‘n tree verder kon stoot nie. Die kinders gil van plesier en daar gaan ons. Eers nadat Jaco’le toe by die huis gekom het leer ek toe van glow plugs….

Nou ja, nou is al die langnaweke verby en moet ons weer fokus op werk. Geniet die res van julle week en laat hoor gerus van julle!

Noue ontkominge groete,

Anoesjka

2 Kommentaar leave one →
  1. Mei 7, 2009 9:19 vm

    Anoesjka ek het vreeslik lekker gelees aan die noue ontkoming en die hond met die halwe neus!! 😆

    Ag ek is mal oor jou blog en jou briewe!!! Moenie worry nie een van die dae is dit weer somer, ek kry ook erg koud die jaar. Dink jy dit is dalk die ouderdom wat intree? 😆

    Lekker bly daar op die plaas!!

  2. Mei 13, 2009 1:58 nm

    Hi daar. Skies dat ek so stil is, maar jy behoort beter as enigeen anders te weet dis malhuis hier. Soms wens ek so die ou dae terug toe ons nog almal hier was en die lewe nog eenvoudig was😆

    Mooi bly, ek moet nog my werk hier klaarmaak, maar wees asseblief nog so kleine bietjie geduldig.

    Groete vir die plaas

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: