Skip to content

8 Junie 2009, Maandag

Junie 9, 2009

More,

Hoe gaan dit vandag met julle? So ‘n week gelede het ek nog gedink die winter is so ver nie te sleg nie, maar toe kom die koue. Laas naweek was bitter koud en daarna het dit nog nie veel beter geword nie. Soggens wanneer ek die hoenders moet gaan oop maak en kosgee, vries my hande omtrent af. Die sonnetjie wil ook net nie bedags lekker skyn nie… hier bly sulke wit vliese in die lug hang. Ons het so ‘n paar weke gelede selfs ‘n bietjie hael gehad. Die arme hoenders het heel verward gelyk toe hulle skielik bestook word met ys korreltjies.

Het ek julle al vertel dat die bye toe vanself weggetrek het uit die buite toilet (longdrop)? Ons het een aand (nadat ons van die dorp afgekom het) enkele bye rondom die agterstoeplig gesien wat vir ons nogal vreemd was. Die volgende dag het Jaco in die toilet gaan kyk en die hele nes was leeg. Dit lyk of daar een of ander siekte in die nes kon wees. Ek wonder waar het hulle nou heen getrek.

Ou Basjan (nou al amper 7maande oud) het al lekker groot geword, maar ek dink hy sal nog ‘n bietjie rek. Die enigste probleem is dat steeds net sy een oor regop staan. Hy is vreeslik spelerig. Ons het vir ons ‘n boek bestel oor hoe om skaaphonde te leer en wag nou net dat hy moet kom, maar dit sal seker eers in volgende maand wees. Basjan het al ‘n paar woordjies geleer soos SIT, BLY, KOM… hy gehoorsaam dit net nie altyd nie. Hy is beslis “skerper” as die ander honde en ook baie fyn op gehoor. Hy’t gisteraand ‘n rukkie ingekom terwyl ons TV gekyk het en het stip voor die TV gaan sit en luister. Altwee sy ore het glad vir ‘n tyd regop gestaan. Toe hy nou nie mooi kon verstaan maar waar is die mense dan wat so praat nie, het hy probeer om om die TV te loop om hulle te soek. Hy het ook al vir sy eerste keer saam veld toe gegaan toe Jaco’le skaap bymekaar gaan maak het. Die eerste dag het hy die arme skape so rondgejaag dat een selfs binne ‘n dam gespring het. Gelukkig was hy naby genoeg aan die kant en kon Jaco hom uittrek. Die volgende dag het hulle baie ver geloop en terwyl hul besig was met die tweede kamp het Basjan besluit maar nou het hy eers genoeg gehad en sommer self die pad huis toe gevat. Hy het nog baie om te leer, maar dis so ongelooflik om te sien hoe vinnig hy al klaar sekere dinge leer en hoe sy natuurlike instinkte oorneem.

Met ou Blikkie en Bruno gaan dit nog heel goed. Hulle twee het net alewig ‘n stryery aan die gang oor lêplek in hul hok (alhoewel daar plek is vir 4 van hulle). Kiddo hou glad nie van die winter nie en soek net heeltyd ‘n skoot of ‘n kombersie.

Ons hane het nog gespaar gebly. Uit ons totaal van 34 hoenders (insluitende kuikens), het ons reeds 14 volgroeide hane (en nog moontlikes). Dit is hopeloos te veel vir ons getal henne. Een dag besluit ons ons gaan hulle maar hou en die volgende dag besluit ons weer nee… ons sal hulle maar moet slag. Dit bly maar ‘n moeilike besluit. Dit is maar net nie baie ekonomies om so ‘n klomp hane aan te hou nie, maar elkeen is so pragtig en uniek. Ons kry darem nou weer so ‘n paar ekstra eiertjies op ‘n dag. Van die jong henne het nou eindelik begin eiers lê. Nou is dit net ‘n kwessie van om hulle op te spoor (voor die honde). Hulle hou juis so daarvan om in die hondehokke hul eiers te lê. Het nou die dag vir Basjan net betyds betrap toe hy met ‘n eier in sy mond uit sy hok uit gestap kom. Een van ons groot jong henne was egter nie so gelukkig nie. Dit was al sterk skemer en die hoenders was op pad hok toe, toe ek een van hulle ‘n vreeslike keel hoor opsit. Gewoonlik is dit maar net die hoenders wat mekaar jaag, maar ek het nogtans onrustig gevoel. Ek’t vir Jaco gaan roep en gevra om gou saam met my te gaan kyk – was te bang ek loop my dalk vas in ‘n wilde dier (bv ‘n kat). ‘n Entjie van die hok af het ons iets hoor grom. Toe sien ons mos dis Mannetjie (Jan se hondjie) wat daar reg langs ‘n hoender lê (net reg om aandete te begin geniet). Die arme hennetjie het nog gelewe, maar was so vreesbevange. Sy het vreeslik gekla toe Jaco haar optel. Ons sien toe sy het ‘n gat op haar rug, maar dit het nie te erg gelyk nie. Jaco het woundsept aangespuit, maar ek het nie baie hoop vir haar gehad nie. Ek kon sien sy’t pyn en lyk nie lekker nie. Jan het natuurlik vir mannetjie die loesing van sy lewe gegee. Ek glo nie hy sal ooit weer naby ‘n hoender kom nie (en vir sy part hoop ek nie so nie). Ons het die hennetjie in ‘n voelhok gesit en haar in die huis laat slaap. Sy wou glad nie eet of water drink nie. Die volgende oggend het sy nog netso in haar hokkie gesit. Terwyl ek toe in die badkamer is, hoor ek net ‘n gespartel in haar hok en toe weet ek sommer. Dit was haar laaste stuiptrekkings. Daar lê sy toe stokstyf in die hok. Sy sou nou in hierdie tyd begin eiers lê het saam met die ander jong henne. Na haar dood het ons nog ‘n gat onder op haar bors ontdek. Shame, sy het seker maar baie pyn verduur.

So op die hartseer noot, moet ek ook noem dat dit nou al 2 jaar is sedert my pa se dood. Dit is ongelooflik hoe die tyd vlieg. Twee jaar gelede hierdie tyd, was beslis die swaarste tyd in my lewe. Die ergste van als is dat die lewe aangaan… tyd staan nie vir ‘n oomblik stil nie. Nie eers om jou gevoelens en verlies te respekteer nie. Of dalk is dit juis uit respek vir ons gevoelens en verlies… want niks bring soveel troos soos tyd nie. My pa sal vir ewig in ons harte en herinneringe voort leef. Hy was ‘n baie besonderse mens en ons sal hom nooit vergeet nie.

Op ‘n positiewe noot, is dit nou weer lamseisoen en hier het sommer al ‘n hele klomp lammertjies die wêreld binne gekom. Hopelik kry ons nie hierdie seisoen enige hanslammers by nie. Ounooi is klaar ‘n handvol. Sy loop steeds hier by die huis en het nog nie veld-toe-gaan-planne gemaak nie. Kobusina het so vir ‘n week hier kom kuier. Shame, sy lyk maar vreeslik skraal. Ounooi se kondisie is stukke beter – sy lyk mos soos ‘n pantserkar. Jaco het vir Kobusina gebring om hier te kom loop juis sodat sy ‘n bietjie gewig kan optel, maar sy wil niks weet van lusernpille eet nie. Dit was nogal oulik om te kyk hoe die twee hier om die huis wei. Ounooi is mos gewoond aan alleen wees, maar Kobusina soek haar trop – al is dit nou net ‘n trop van twee. Sy het oral agter Ounooi aangeloop. As Ounooi gaan lê… dan gaan lê sy ook. As sy Ounooi uit haar oog verloor het, het sy ‘n vreeslike geblêr opgesit. Dan moes ek eers weer gaan help dat die twee net bymekaar kan uitkom. Basjan het natuurlik die nuwe skaap op die werf baie ammusant gevind. Ounooi is honde gewoond en laat haar nie sommer rond jaag nie, maar Kobusina is maar wild. Basjan het haar omtrent gejaag. Seker die dat sy toe maar besluit het om eerder in die veld saam met die ander skape te gaan loop. Een oggend toe ons opstaan was Kobusina weg veld toe en Ounooi weer alleen.

Die ganse raak nou weer lekker befoeterd. Ek weet nie of dit is omdat dit weer amper hulle broeityd is nie, maar ek dink maar so. Deesdae waag ek dit nie sonder my besem op die werf nie. Hulle het my nou alweer ‘n paar maal gejaag. Dit was eintlik baie onverwags, want die afgelope tyd kom ons goed oor die weg en het ek al my vrese vir hulle oorkom. Hulle het nou die dag selfs vir Jaco ook gejaag – en dit gebeur nie sommer nie. Vir Kiddo sien hulle ook altyd kans – veral die wit gans. Hy val sommer die motors ook aan.

Die twee baba swaeltjies is al uitgegroei en reeds vernuftige vlieërs. Al vier van hulle (pa, ma en kinders) is nog ongedeerd.

Nou ja, dis eers al nuus vir vandag. Ek hoor graag van julle!
Geniet die week!

Wintersgroete uit die koue Karoo,
Anoesjka

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: