Skip to content

Woensdag, 23 September 2009

Oktober 7, 2009

Dagsê!

Dit is eindelik Lente en ons almal hier verwelkom dit. Ons kan nog net nie die winter pajamas wegpak nie, maar die dae raak al hoe lekkerder. Al wat ‘n geveerde is, is besig om of nes te bou, of te broei, of kuikens groot te maak. Al het ons nog nie reën gehad nie, is die motte, muskiete en muggies ook al hoe meer sigbaar. As ons skemeraand ‘n entjie gaan stap dan is die muggies so lastig dat jou arms eintlik meer oefening as jou bene kry.

Sedert my laaste brief het hier al ‘n spul kuikens uitgebroei. Die eerste hen het in ‘n ou erdvarkgat so ‘n entjie van die huis af gesit op twaalf eiers. Ons het omtrent die dae afgetel totdat die spul kuikentjies moes uitbroei. Nie een van ons henne het al so baie kuikens op ‘n slag uitgebroei nie. Hier was groot opgewondenheid toe ons die eerste kuikentjie ontdek het. Groot was ons teleurstelling toe ons die volgende oggend weer gaan kyk hoeveel daar is. In die nag het iets (ons dink ‘n muishond) die eerste ses kuikentjies wat uitgebroei het kom opeet en was daar net ses eiers oor. Ons het haar toe met eiers en al geskuif na ‘n plekkie in die blomtuin waar ons ‘n ogie oor haar kon hou. ‘n Dag later toe is al 6 kuikentjies daar. Die noodlot was nog nie klaar met haar en haar kuikens nie. ‘n Paar dae later het een van die oorblywende ses verdrink. Dan het ek julle mos laas vertel van Tiekie (die nuwe hond op die plaas wat van die dorp af kom). Sy het nou ‘n regte eiervreter geword. Daar gaan amper nie ‘n dag verby wat sy nie êrens ‘n eier in die hande kry nie en as sy gelukkig is, sommer drie! Dis ‘n wonder dat sy nog nie gevrek het van die cholestrol nie. Hoewel sy reeds met haar een voet so te sê in die graf staan, het sy ook agtergekom dat sy nog jonk genoeg is om kuikens te vang. (Seker die eiers wat haar so ‘n “boost” gee) Sy het dan ook een van hierdie hennetjie se kuikens dood gebyt. So die totaal van twaalf, is nou op vier. Alhoewel, die hen het deesdae nie meer ‘n saak met haar kuikens nie. Saans klim sy op die stellasie sonder haar kuikens. Hulle viertjies bly dan op die grond in ‘n hoekie en klim al bo-oor mekaar vir ‘n bietjie hitte. Elke aand gaan haal ons eers die hen van die stellasie af as dit donker is en sit haar by die kuikens. Of sy nou dan daar bly weet ek nie regtig nie. Ek sien hulle loop nou deesdae ook maar alleen en kos soek. Dis die eerste keer wat die hen kuikens het, so miskien is sy maar nog net die gewoond aan die ma wees idee nie. Buiten haar is daar nog vier ander henne met kuikens. ‘n Hen met een kuiken, een met twee kuikens, een met vyf kuikens en een met ses kuikens. Hulle is almal te kostelik. Die eerste spannetjie raak nou al groot en is al vier weke oud.

Om terug te kom by Tiekie… sy het nou al ‘n totaal van vier kuikens gevang – die klein gedroggie! Die een dag het sy sommer twee gevang. Ons hou haar nou met valk oë dop. Ten spyte daarvan kan mens ook maar nie vir haar kwaad bly nie. Dat ‘n dorpshondjie haar nou so snoep hier op die plaas kom hou. Moenie dink sy wil die droë hondekos eet nie. Alhoewel dit al is wat sy in die dorp geëet het (meeste van die tyd) soek sy nou net vleis. Ek moet die droë kos eers sag maak met kookwater en dan vleis daarby meng sodat sy darem ‘n bietjie daarvan kan inkry. Kiddo is nie so mal oor haar nie. Soms lê die tweetjies nogal lekker styf teen mekaar en slaap maar ander kere wil Kiddo net vir Tiekie byt. Ek moes hul al ‘n paar maal uitmekaar uit haal en dit gaan gewoonlik nie maklik nie. Kiddo was ‘n tydjie terug niks lekker nie. Sy het varingitis gehad en is nou amper klaar met haar reeks antibiotika.

Verder is die ganse ook aan die broei. Dit lyk of al drie grys ganse wyfies is en die witte die mannetjie. Al drie wyfies sit nou op ‘n nes en alhoewel die honde ook al heelwat van die eiers opgeëet het, het elkeen so tussen twee en vyf eiers onder hulle. Ek soek tog nie nog ‘n klomp ganse op die werf om my rond te jaag nie. Die wat broei is verskriklik befoeterd. Hulle staan minder gereeld as die hoenders van hul neste af op en as hul opstaan dan maak hulle hul eiers eers mooi toe met donsies, takke en blare. Die enigste probleem is nou dat daar ‘n kans is dat die eiers nie bevrug is nie. Die gans wat eerste begin broei het sit nou al meer as dertig dae en daar is nog geen teken van ‘n klein gansie nie. Nou hou ons maar die nes in afwagting dop.

Die swaeltjies se twee kuikens het toe eindelik hul nes verlaat. Ek het begin dink hul gaan nou ook hier bly, maar hul ouers het natuurlik gedink hulle is nou groot genoeg om hul eie nes te gaan skrop. Ma en pa is nou weer druk besig om hul nessies op te knap met klei en gaan seker een van die dae weer broei.

So van nesbou gepraat… die kraaie glo mos hulle nes moet ‘n staal versterking hê. Jaco het nou al twee keer by ‘n windpomp gekom waar die kraaie besig is om nes te bou van stukkies draad. Soveel so dat die windpomp nie eens meer kon draai nie!

Seker so ‘n week gelede staan ek en koffie drink voor die kombuisvenster toe ek ‘n muishond rustig oor die stoep voor die buitekamers sien stap. Gelukkig was Jaco ook in die kombuis en toe die muishond by die enjinkamer ingaan, hardloop Jaco toe om die deur te gaan toe trek. Nou wat maak ons nou met hom was toe die groot vraag. Maak ons hom dood of laat ons hom wegkom. Ek glo mos nou maar eenmaal als wat leef speel sy rol in die natuur (en soms ook in die voedselketting). My eerste gedagte was toe, wat eet die muishond? Ek het my boekie geraadpleeg en sien toe onder andere die volgende: insekte, paddas, slange, spinnekoppe, eiers en hoenders… ja hoenders. Nogtans kon ek dit nie oor my hart kry om die diertjie te laat dood maak nie. Ons bedink toe ‘n ander plan (mens moet mos maar ander maniere vind om jouself mee te vermaak). Jaco vra toe vir Jan om vir hom ‘n spanner uit die enjinkamer te gaan haal en ek staan skelmpies gereed met die kamera. Dit toe nou ook als verniet want Jan is daar in en uit sonder dat hy eens geweet het van die muishond. Jaco gaan kyk toe wat dan van die dier geword het. Daar kry hulle hom toe in ‘n rak tussen die tools en voor hul nog kon wonder wat om nou te doen, is hy soos blits by die deur uit en weg. Hy’t so vinnig gehardloop ek kon hom nie eens op video kry nie.

Dit was seker ook net twee dae later, terwyl ek besig was om die kuikens hulle middagete te bedien, wat ek ‘n hen vreeslik hoor skreeu het. My hart was dadelik in my keel want toe weet ek sommer daar is fout…. groot fout. Ek het nader gegaan in die rigting van die hen se geluide en ‘n ent verder het ek haar so half tussen die bosse gesien. Iets was besig met haar, maar ek kon nie mooi sien wat nie. My eerste gedagte was die muishond, maar ek wou nie nader gaan nie want Kiddo was by my en ek was weer bang dat Kiddo dalk die muishond gewaar en dit jaag (en dalk ook nog seer kry). Ek hardloop toe al roepende en gillende om vir Jaco te gaan soek. Hy en Jan was gelukkig nie te ver nie. Ons is weer terug na die plek waar ek die hen gesien het en daar kry ons haar toe… alleen. Wat ookal haar beet gehad het, het haar seker net daar gelos toe hy my gehoor het. Shame, dit was een van my groot ou henne. Sy was maar taamlik vermink en so graag as wat ek wou hê dat sy moes oorleef wou ek haar nie nog verder laat ly het nie. Jan het haar toe maar vankant gemaak en haar plekkie is nou leeg in die hoenderhok.

Ek het nou die dag weer ‘n muis so jammer gekry. Alhoewel ek grillerig is vir hulle, is ‘n muis vir my tog so ‘n oulike ou dingetjie. Met sulke klein blink swart ogies en oulike oortjies. Ons bêre die hoenderkos in die waenhuis in groot dromme. Nou partykeer sit ek nie altyd die dromme se deksels heeltemal reg op nie en dan bly daar nog ‘n opening. Toe ek nou die oggend by die drom kom om die hoenderkos uit te haal, toe sit daar ‘n muis vas tussen die drom en die deksel. Die opening was toe nou groot genoeg vir hom om in die drom te klim, maar hy het hom so trommel dik gevreet dat hy nie weer kon uit nie. Teen die tyd wat ek hom gekry het was hy al klaar half met die dood deurmekaar en het Jan hom maar vir sy kat gaan gee.

Woensdag, 7 Oktober 2009

Onthou jul ons eerste hanslam wat ons gehad het kort nadat ons hier aangekom het? Skapie (Baba) was sy naam. Hy en Mookie het mos so saam groot geword en was beste vriende tot hul paaie geskei het nadat die res van Mookie se familie eindelik op die plaas kom bly het. Van toe af het Skapie mos maar hier in die veld saam met die ander skape gewei. Nou Skapie is so ‘n paar weke gelede mark toe. Dit was maar swaar, maar dit kon nie anders nie. Kobusina het hom ook vergesel. In die afgelope paar maande het Skapie nooit meer huis toe gekom nie, maar vreemd genoeg net ‘n paar dae voor hy mark toe is, toe kry ons hom hier buite op die werf. Kobusina het ook net buitekant die hek gestaan en nog so ‘n vriendelike blêr gegee. So asof hulle vir oulaas kom afskeid neem het.

So van Mookie (Hannie) gepraat… sy is nou al ‘n uitgegroeide bees (alhoewel nie baie groot nie). Cruiser (die bulletjie) en Daisy (vers kalfie) is al net so groot soos sy en hulle is amper ‘n jaar jonger as sy. So groot soos wat Cruiser en Daisy is, drink hul steeds aan hul ma’s wanneer hul die kans kry. MooMa en Ousus se kondisie het bietjie verswak nadat hul die kalwers gehad het. Jaco het nou die beeste verskuif sodat hul weer hier naby die huis is. Nou kry hul elke oggend en aand voerpille om hulle kondisie te verbeter.

Met Ounooi gaan dit nog goed. Daar is gelukkig nog nie planne om haar mark toe te stuur nie. Nee sy kan aanbly om vir ons klein Ounooitjies te gee. Alhoewel, ons laat haar nou nie meer hier by die huis rondloop nie. Ons is nou in die proses om haar te “speen” van ons. Ons hou haar nou in die tuin kampie waar die turksvye is saam met twee ander ooie en hul lammers. Aan die begin was dit baie swaar vir haar. Sy was gewoond om elke oggend en aand nog voerpille en mielies te kry en sy’t ook gereeld saans saam met ons en die honde gaan stap. Sy het die eerste ruk omtrent geblêr. Nou is sy darem al rustiger. So elke derde dag of wat gaan maak ek ‘n draai by haar en vat vir haar kossies. Ek mis haar hier by die huis, maar dit kon nie anders nie. Sy’t alles in die tuin opgevreet en verniel!

Met ons drie seuns, Blikkie, Bruno en Basjan gaan dit ook nog goed. Ons hou hulle nou beurtelings op hok. Na Ounooi was daar nog ‘n ooi wat hulle beet gekry het een nag. Dit was sommer net hier naby die huis. Hulle het omtrent al die skaap se wolle uitgepluis en die bloed het oral op die bosse en klippe gelê. Ons moes die skaap in die veld gaan soek en sy en haar lam is van die skape wat nou saam met Ounooi in die tuin kampie loop. Sy het regtig erg gelyk (nog veel erger as Ounooi), maar is darem goed besig om te herstel. Nou los ons nooit vir Basjan alleen nie. As ons hom nie kan dophou nie, moet hy maar in die hok gaan. Hy het nou al ‘n paar keer saam gegaan om skaap bymekaar te maak en daar was nog nooit enige probleme nie. Dit lyk darem of hy al hoe meer begin luister.

Onthou julle ek het jul al vertel van die Europese Byvreter voëltjie wat ons in die Somermaande hier kry? Hulle het seker so twee weke gelede hier gearriveer. Hulle is regtig pragtige voëls en maak die vrolikste prrr prrr prrr geluide. Net jammer my kamera kan nie ver genoeg inzoom om mooi fotos te neem nie. Die Rooiwangnaguiltjie (of die Langasem soos Jaco se oupa vir hom geleer het) start ook nou sy enjintjie snags.

Ons het omtrent ‘n bedrywige naweek agter die rug. My oudste suster (van die Kaap) en haar man en kinders het vir ‘n paar dae hier kom kuier. Verder het ek ook al die ander familie hier genooi om die naweek saam te kuier. Ons was lanklaas so baie mense hier bymekaar. Net jammer ek het ‘n verkoue ook nog ontwikkel. Die kinders het dit omtrent geniet. My suster se seuntjie (1jaar) het hom verkyk aan die honde en hoenders. Saans het die manne ‘n bietjie gaan jakkalsjag. Hulle kon nou wel nie ‘n Rooijakkals in die hande kry nie, maar het wel ‘n Silwervos (of draaijakkals) gekry. Hy is nie so ‘n groot gevaar vir lammers soos die Rooijakkals nie. Volgens my boekie eet hy muise, insekte, reptiele en voëls, maar ek verstaan hy kan ook klein lammertjies vang.

Sedert ek die mail begin tik het, het daar nog niks van die ganseiers gekom nie. Jaco het twee van die drie neste se eiers oopgebreek en almal was vrot. Ons neem aan die eiers was nie bevrug nie. Nou wag ons maar om te kyk of die derde een dalk iets gaan oplewer.

Nou ja, dis eers al van my kant af. Laat dit goed gaan met julle en laat hoor gerus van julle!

Jakkalsgroete,
Anoesjka

No comments yet

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: