Skip to content

18 Januarie 2011

Maart 9, 2011

Dagsê!

Sjoe, ek het lank laas met julle gepraat!  Hoop dit gaan nog goed met almal.  Mag 2011 ‘n wonderlike jaar vir elkeen van julle wees!

Eerstens moet ek sê hoe geseënd ons was die afgelope tyd met goeie reën.  Dit het letterlik die ou jaar uit en die nuwe jaar in gereën.  Die veld is pragtig groen en al die gronddamme staan vol water.  Die veld is vol lewe.  Saans as die wind gaan lê het na die reën, kan jy hoor hoe sing die natuur van dankbaarheid… krieke, paddas, ganse wat in die water baljaar, die gekwetter van voëls van alle soorte, ‘n lam wat blêr opsoek na sy ma wat ‘n ent verder wei en in die verte hoor jy nog die gerammel van donderweer soos dit aanbeweeg om ook vir iemand anders die vreugde van reën te bring.

Dit gaan goed met al ons dierekinders.  Muis (die muisvoël) het intussen in ‘n groter hok ingetrek en is steeds die oulikste voëltjie wat daar is.  Die ander muisvoëls kom kuier gereeld vir hom.  Soms wonder ek of ek hom nie maar eerder moet vrylaat nie.  Wat kan dan nou lekkerder wees as om vry te wees en te vlieg saam met die ander.  Ek probeer myself oortuig dat hy nie daar buite sal oorleef nie, maar ek glo hy sal.  Die ander muisvoëls sal hom help – hulle is familievoëls.  As daar ‘n mamma is met kuikens dan sal die ander mammas ook help om die kuikens kos te gee en te beskerm al is dit nie eens hul eie kuikens nie.  O wag… so van mammas gepraat… Muis is ‘n vroutjie.  Sy het sowaar nou die dag ‘n eiertjie in haar hok gelê, maar dit het gebreek.

Met al die honde (Blikkie, Bruno, Basjan, Tiekie en Kiddo) gaan dit ook nog goed.  Ek het netnou so gelag… Jaco’le het gaan skaapwerk vanoggend en het met ‘n vrag lammers op die bakkie terug gekom.  Basjan was ook saam en daar was toe nie plek vir hom agter tussen die skaap nie.  Hy sit toe ewe groot meneer voor in die bakkie – kierts regop en kyk by die venster uit.  Ek is baie lief vir jou Bassie, maar ai… hy kan my soms vreeslik kwaad maak.  Hy wil net als jaag wat beweeg.  Ek het so ‘n tyd gelede met die honde gaan stap na een van die gronddamme.  Daar is sulke lieflike koelte bome.  Toe ek weer sien het Basjan al halfpad in een van die bome opgeklim.  Dit het my ‘n tydjie gevat om uit te vind waar agter hy is.  Net te laat sien ek toe die dassie.  Die arme das het uit die boom gespring (fout wat hy gemaak het, want onder die boom het nog honde vir hom gewag).  Teen daai tyd was daar geen keer meer nie.  Ek het gegil, geskreeu en geslaan, maar tevergeefs.  Binne minute was alles verby :-(  . 

Kiddo was ‘n bietjie siek gewees.  Sy’t maagpyn gehad en daar was ook bloed in haar ‘poop’.  Sy was al voorheen by die veearts vir soortgelyke simptome.  Kry dan antibiotika en dit gaan beter, maar kort voor lank dan is dit weer dieselfde storie.  Die dag sien ek toe maar sy is baie ongemaklik.  Bel toe die veearts om te hoor of ek haar nie gou kan inbring nie.  Maar soos dit mos nou altyd in ‘n noodgeval uitwerk, was die veearts nie beskikbaar nie.  Toe kos dit ons deur ry Colesberg toe.  Die veearts daar het toe ‘n ‘poop’ monster geneem en weggestuur vir toetse.  Hul kon egter nie ‘n teken van enige kiem of ding kry nie.  Twee weke van medikasie en toe is sy weer beter.  Sy is nou op ‘n spesiale dieet (Hills) vir spysverteringsprobleme.  Enigste probleem is dat sy nie hou van die droë kos nie, sy soek vleis.  Al wanneer sy dit wel eet is wanneer ek met haar speel en vir haar die kos een vir een gooi.  Dit gaan darem nou beter, maar die magie is nog nie 100% reg nie.

Dis mos alweer somer en dit beteken tyd vir slange.  Elke seisoen kry ons minstens een pofadder en kobra.  Die slag was dit eerste die Kobra.  Jan het hom raakgesien terwyl hy sommer so tussen die honde deur seil op pad blomtuin toe.  Daar het Jaco en Jan hom gelukkig in die hande gekry voor hy onder ‘n plant kon verdwyn.  Dit het eintlik sulke klap geluide gemaak soos wat hy teen die graaf pik.  Dis maar altyd baie senutergend.  Die ander dag was ek weer alleen hier by die huis – Jaco’le was veld toe.  Ek het net terug gekom huis toe nadat ek die hoenders kos gegee het.  Die voete-afvee-matjie het so skuins teen die stoep gelê (sit hom gewoonlik so wanneer die stoep afgevee word).  My skoene was modderig en ek het net die matjie opgetel om op sy plek te sit sodat ek my voete kon afvee, toe ek die pofadder onder die matjie sien lê.  Voor jy nog kon sê ‘slang’ het ek die matjie gelos en ‘n ent weggespring.  Ek het myself lam geskrik!  Al die honde was buite en ek was verbaas dat een van hulle hom nie eerste ontdek het nie.  Dadelik het ek al die honde gaan toemaak.  Opsie 1… maak die slang self dood.  Opsie 2… gaan soek vir Jaco.  Die slang het nie gelyk of hy enige planne het om êrens heen te gaan nie, so ek het vir opsie 2 gegaan.  Ek het geroep, geskreeu, die klok gelui, die hoeter gedruk, maar geen mens het te voorskyn gekom.  Ek ry toe maar na Jan se huis toe om te gaan hoor of Petro nie weet waar hul is nie.  Sy, toe nog baie braaf, het gereken sy sal my kom help – die manne was veld toe om een van die beeste te gaan soek.  Ons is toe terug huis toe.  Slang het nog net daar op dieselfde plek gelê.  Ek het kookwater gaan opsit en die grootste klippe wat ek kon kry aangedra.  Petro, wat eens baie braaf was, was nou amper te bang net om vir die slang te kyk.  Na ‘n paar minute was ons gereed… kookwater, klippe en gaffel.  Dit behoort die ding te doen.  Nou kort ons nog net die moed.  Toe hoor ons stemme.  Jaco’le was naby die huis.  Petro het gehardloop om hul te gaan roep terwyl ek die slang op pas.  Hulle het toe vinnig ‘n plan gemaak met die slang.  Shame, ek het hom eintlik jammer gekry, maar nou ja… ons kan hom nie hier by die huis toelaat nie.

 

9 Maart 2011

Gister was my en Jaco se troudag herdenking.  Drie jaar is alweer verby sedert daardie onvergeetlike dag in ons lewens.

Ons ganse het dit uiteindelik laas jaar reg gekry om te broei.  Oftewel, hul het nog elke keer probeer broei, maar die honde het al die eiers opgeëet.  Laas jaar het daar darem een eier oorleef en boonop het hy nog uitgebroei ook.  So ‘n ganskuiken is darem net die oulikste ding en hy maak ook die oulikste geluidjies.  Hy het sommer drie ma’s en ‘n pa gehad en hulle het hom soos goud opgepas.  Nou is hy al uitgegroei… nog ‘n wit gans.

Die hoenders is nog net so vrugbaar soos altyd.  Een van die dae sal ons weer ‘n slagdag moet hou, want hulle raak nou net te veel.

Verder het ons in laas jaar vyf hanslammers gehad (Bontbok, Linge – ‘n tweeling, Tjoppie en Blits).  Hulle het vir baie vermaak gesorg.  Een van die tweeling was ‘n regte kop-stamper.  Ek was amper te bang om uit die huis te gaan as hy naby is.  Hy’t gehou daarvan om mens te jaag en met sy kop (met horingkies) te stamp.  Ek het maar omkyk-omkyk geloop as hy naby was.  Almal van hulle is nou reeds gespeen en party is ook nie meer met ons nie…

Twee van ons koeie het vroeg in die jaar weer gekalf.  Een van die kalfies se naam is Nr 10 en die ander enetjie is naamloos.  Ek wil maar nie te betrokke raak by hulle nie want ek weet hul gaan nie vir altyd daar kan wees nie.

Het ek jul al vertel van ons enigste Tarentaal?  Elke oggend en aand as ek die hoenders kosgee dan is hy (of eintlik sy) ook hier.  Sy was vir maande maar eensaam en het gereeld geroep vir ander tarentale.  Toe na die reën het hier nog drie aangekom.  Hulle is baie wild en kom nie naby ons nie.  Daarna het ons tarentaal ook net begin wegbly.  Ons was eers bekommerd dat sy dalk weg is saam met die ander, maar toe op ‘n dag hoor ons hulle weer.  Die veld het seker nou genoeg kos vir hulle sodat hul nie hoef huis toe te kom nie.  In laas week toe sien ons hul weer en nou is daar kleintjies by.  Ek hoop nou net dat hulle almal hier gaan bly.

In Desember was ons vir ‘n week in die Kaap gewees.  Het bietjie tyd saam met die familie gespandeer.  My sussie se baba (Kara) is in Oktober gebore en ek kon nie wag om haar te ontmoet nie.  Sy is te kostelik!  ‘n Regte poppie.  My ma het ook deur ‘n moeilike tyd gegaan – wat haar gesondheid aanbetref.  Dit gaan egter baie goed met haar en ons glo en vertrou dat sy volkome gaan herstel.  Ons het ook ‘n swaer by gekry toe my jongste sussie September maand getrou het.

Ons het ook nie leë hande uit die Kaap uit teruggekom nie.  My swaer het vir ons twee hasies gekry… Snoekie en Bugs.  Hulle was nou te oulik vir woorde.  Dit was die eerste keer dat ek met hase te doen gekry het.  Ek het eintlik nie geweet hulle kan so oulik wees nie.  Hul hou egter nie baie daarvan om opgetel te word nie.  Hulle kan glo geleer word (sit, staan, etc) maar ek het dit nog nie reggekry nie.  Hulle speel graag met leë toiletrolletjies – tel dit op en gooi dit neer.  ‘n Baie interressante feit is dat hul glad nie ‘n windjie kan los nie… nie boontoe of ondertoe nie.  Daarom mag hul nie goed eet wat vir hulle gas kan gee nie.  Hulle is ook baie breekbaar en kan maklik hul rug breek deur te veel te skop en spartel.  So hul moet net reg opgetel en vasgehou word.  Ons het nog nie ‘n permanente hok vir hul nie en het hul vir tyd en wyl eers in ons kuikenhok gesit in die blomtuin.  Hulle het egter begin grawe en elke nou en dan het hul hulself uitgegrawe.  Dit was glad nie ‘n maklike takie om hul weer terug te kry in die hok nie!  Verder het hul ook nie net in die blomtuin gebly nie.  Nee… hul het ‘n manier gevind om uit te kom en die veld in te hardloop.  Dan het dit nou eers ‘n vreeslike gesoek en gehardloop afgegee om hul weer gevang te kry.  Die honde moes ook op hok gehou word vir daardie tyd.  Tot op ‘n dag wat ons hul net nie weer in die hande kon kry nie.  Ons het eers die volgende dag vir Snoekie gevang gekry en het later die middag op Bugsie afgekom… dood langs die draad.  Ons vermoed sy het dalk teen die draad vasgehardloop.  Ek was so hartseer oor my hasie.  Sy was juis die makker enetjie.  Ek het mos vir hul ‘n halsband gekoop sodat hul bietjie uit die hok kan kom en sy was die enigste enetjie wat dit nog gedra het.  Nou is Snoekie alleen, maar gelukkig het sy nog nie weer haarself uit die hok gegrawe nie.  Jaco gaan binnekort vir haar ‘n ander hok bou.

Jaco was laas naweek saam met sy ma daar na Calvinia se omgewing.  Hulle het egter nie alleen terug gekom nie.  Agter op die bakkie was twee varke en drie bokke.  Die bokke loop nou nie hier naby die huis nie, maar die varke is sommer naby.  Hulle is te kostelik om dop te hou.  Vreeslik morsig, maar tog oulik.  Dit snork-snork net die heeltyd.  Het hulle nou vir jou ‘n keel opgesit toe hulle van die bakkie afgelaai is!  Sjoe!  Die hok waarin hul nou is is net eers tydelik, want dis eintlik ons hanslammerhok.  Jaco moet nog vir hul ook ‘n permanente hok bou.  Dis ‘n beer en ‘n sog, Fillipus en Fransina (soos gedoop deur Henro).  Die bokke het nog nie name nie.

Ag, daar het so baie dinge gebeur sedert ek laas geskryf het, ek kan helfte nie eens meer onthou nie.  Wou maar net vir jul laat weet dat ons darem nog lewe en dat dit goed gaan met ons op die plaas🙂

Mag jul ‘n lieflike dag verder hê!  Hoop om weer ‘n slag van julle ook te hoor!

Otterjasiegroete,

Anoesjka

7 Kommentaar leave one →
  1. Anneline permalink
    April 15, 2011 9:30 vm

    Hi.
    Ek het ‘n baba muisvoel opgetel. Wel ek dink dis een, ek is nie seker of dit dalk ‘n grys loerie is nie, alhoewel as ek na die fotos kyk op die net is dit eerder ‘n muisvoel. die dingetjie le net en bewe. Ons bly in Uitenhage buite PE in die Oos-Kaap. Wat kan ek vir hom doen of voer of is dit beter om hon maar net buite in die tuin te los. Ek is so bang ‘n kat vang hom dalk. Enige raad sal welkom wees.
    Groete Anneline.

  2. April 15, 2011 9:49 vm

    Hi! Het jy ‘n e-pos of selnommer asb waar ek jou kan kontak?

  3. Chantelle permalink
    Desember 5, 2011 2:52 nm

    Anneline,

    As ek jou boodskappie moes sien, sou ek daai muisvoëltjie by jou kom haal het al die pad hier van Gauteng af. My babatjie is nie meer met ons nie. En hy het ‘n leemte gelos wat ek aan niemand kan beskryf nie. Hy was 24 uur ‘n dag by my. Hy het selfs by my geslaap in die bed. Ek wil so graag weer ‘n ou muisvoëltjie hê.

    Ek hoop dat jy raad kon kry en dat hy nou al mooi groot is.

  4. Sanet Jacobs permalink
    Desember 6, 2011 9:19 nm

    Ek het ‘n klein muisvoeltjie wat my kat hier aan gedra het ons het hom toe by hom gevat en pet shop toe gevat en hulle het vir my gese dis ‘n muisvoel en ek moet vir hom baba purity gee maar die vrugte soort. Wil net weet of dit reg is of is daar ander goed wat ek ook vir hom kan gee, hy is klaar gewoont aan my en die hele huis houding. So as jy my dalk enige ander wenke kan gee sal ek dit baie waardeer.

  5. Alida Blake permalink
    Desember 9, 2011 12:01 nm

    Hi ek het ook’n muisvoeltjie. Sy naam is punkie. Ons wil hom nou leer om self te eet maar weet nie hoe nie. Ons het al baie ander voeltjies groot gemaak maar die een is die eerste. Ons sit vir hom kossies neer, maar hy hang heeldag bo teen die hokkie. Ons voer hom dan maar weer. Sal bly wees as jy kan raad gee. Dankie. Alida Blake. Pretoria

  6. Amanda permalink
    Januarie 4, 2012 6:39 nm

    Hi

    Ons het vandag n baba muisvoel opgetel, lyl of sy voetjie seer gekry het. Ons wil net weet wat kan ons hom mee voer, het erdwurms probeer ma se maag werk te veel.

  7. Lindie permalink
    September 30, 2013 10:31 nm

    Hello! Ekt sopas n baba muisvoeltjie (ek dink) gered van my kat. Die dingetjie is darem heeltemal ongedeerd net erg verskrik. Het hom/haar bietjie water gevoer en fyngemaakte cornflakes wat ek met warm water saggemaak en laat afkoel het. Ek hoop van harte ekt nie iets gegee wat hom gaan doodmaak nie. Help! Enige raad oor hoe om hom net te versorg sal baie welkom wees. Baie dankie!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s

%d bloggers like this: